28 November: Erken jou skuld; dit is nie so swaar nie.– Jan van der Watt

1 Pet 2:22-3:7 (fokus 2:22-25)

Dit is so maklik om ons skuld vir ander uit te deel en ons doen dit gereeld, want dit laat ons beter voel. So gaan dit mos maar. As iets verkeerd loop is dit altyd almal se skuld behalwe jou eie. Dit werk baie soos jou wenkbroue – dit is so deel van jou, jy sien dit nie eers raak nie.

Die probleem is dat as ons nie eerlik met onsself is nie, ons die skuld op ander begin pak. As ons eers dit begin doen, land ons in ‘n bose spiraal. Ons neem ander kwalik en begin redes soek waarom hulle skuldig is. As ons redes uitgedink het, blaas ons dit op en begin dan daaroor kla. Die ander probeer hulleself dan verdedig en so ontstaan ‘n gestryery… en wie weet waar dit alles gaan eindig? As ek maar net aan die begin my fout erken het, was die hele bose spiraal nie nodig nie.

Ons moet liewer soos Jesus leef (2:22). Hy het nie skuld op ander gepak nie. Hy het eerder die skuld van ander op homself gelaai, solank dit ander gehelp het. As Hy wat geen skuld gehad het nie, dit gedoen het, hoeveel te meer moet ons – wat skuld het – nie oppas om verkeerdelik die skuld op ander te pak nie.

Ons wenkbroue is ons s’n… ons skuld ook. Die regte weg is om eerlik met jouself te wees en te erken as jy ‘n fout gemaak het. Dit is die vinnigste manier om dit reg te maak. Onthou, om ‘n fout te maak is nie ‘n skande nie. Maar om so dwaas te wees dat jy nie jou eie foute te wil raaksien of dit nie wil probeer regmaak nie, neig nogal in daardie rigting.