28 September: Bid vir ander. – Jan van der Watt

Kol 4:2-18 (fokus 4:2-18)

Het jy al van die hemelse posdiens gehoor? Dit is die posdiens wat nooit staak nie, pos raak nie daar weg nie, en dit word altyd betyds afgelewer. Boonop kos dit niks. Paulus vertel dat die posdiens spesialiseer in die aflewering van “spesiale geskenke”. Jy moet die geskenke egter in ‘n spesiale verpakking sit… jy moet dit in gebed toedraai. Gratis kan jy stukkies bemoediging of krag of troos vir ander deur hierdie hemelse posdiens stuur deur voorbidding vir hulle te doen.

Voorbidding is om vir mense “geskenke” van versterking en liefde te stuur wat dit nodig het. Niemand anders as God self gaan lewer dit af nie. Die geskenke kan nooit oud word nie en is altyd nommer pas, daarvoor sorg God self. So laat God jou pad deur ander mense se lewens loop sonder dat jy noodwendig naby hulle hoef te wees. God is naby hulle en daarom kan jy Hom maar net vra, en Hy sal help.

Bid daarom vir ander wat dit nodig het. Vra die Here om te help. So kan ons op ver paaie gaan reis deur gebed… by ons kind wat duisende kilometer weg is, by ʼn ouma wat iewers alleen in haar kamer sit, by ʼn man of vrou wat spesiale wysheid nodig het vir die moeilike vergadering by die werk… Vra en die Here sal gaan aflewer, meer as wat jy ooit kan droom.

Voorbidding is die manier waarop ʼn mens op goddelike paaie na ander kan ry. Moet dus nie vergeet om gereeld op daardie reis te gaan nie. Bid vir ander.