29 Augustus: Geloof of die wet?. – Jan van der Watt

Gal 3:6-20 (fokus 3:6-20)

Paulus het ‘n ding met die wet. Dit lyk asof hy teen die wet is, maar hy is nie regtig teen die wet nie, maar teen die tipe godsdiens waarin die wet ‘n mens kan laat beland.

Om ‘n Jood te kon wees, moes jy nie op een of ander manier gered word nie; jy moes net gebore word… as Jood. Dan was jy outomaties deel van die verbondsvolk. Jou belangrikste godsdienstige taak was dan om “binne te bly”. Daarmee het die wet jou gehelp. As jy gedoen het wat die wet vra, kon jy seker wees jy is nog deel van God se volk.

Met die Christene was dit anders. Daar was nie ‘n fisiese volk met die naam “Christene” nie. Hulle het uit al die volke van die wêreld gekom. Christene was deel van die Here se geestelike volk, van sy familie. Hoe het dit gebeur? Jy moes in die Here glo, want deur geloof is jy geestelik nuut gebore as kind in daardie familie. Die wet speel hier eintlik geen rol nie. God se pad na lidmaatskap aan sy volk loop deur geloof (3:11). Maar as jy eers deel van sy familie is, begin die wet wel ‘n rol speel om te wys hoe bly jy nou is om “binne” te wees, ja, deel van God se familie.

Daar is mense wat dink dat hoe harder hulle probeer om die wet te hou hoe beter is hulle kanse om deel van God se volk te word (3:10). Hulle lewens word oorweldig deur reëls en wette. So ’n godsdiens help nie. Jy gaan nie deur jou eie pogings gered word nie.

Daar is ‘n makliker pad: gaan buig voor Jesus in geloof. Hy sal jou dan innooi na sy familie.