29 Maart: Kies vir vrede, met God . – Jan van der Watt

Luk 12:35-58 (fokus 12:49-53)

Ons ken Jesus as die liefdevolle Een. Die Een wat kindertjies na Hom toe laat kom; wat arm weduwees uit hulle nood help; wat siekes gesond maak.

Tog dra Jesus nie net altyd die sagte, vriendelike glimlag nie. Hy soek beslis nie ten alle koste vrede net om te kan sê daar’s vrede nie. Hy wil ons nie maar soos babas aan die slaap sus al woed daar ‘n storm nie (12:51-52). Jesus maak ons wakker uit ons slaap en waarsku ons dat daar ook oomblikke van onvrede en selfs woeste onrus oor ons pad gaan kom. Dit is die oomblikke wanneer ons voor keuses te staan gaan kom: keuses vir of teen Hom… en dit gaan waarskynlik onrus in ons verhoudings bring

Glo my, keuses vir Jesus het kompetisie. Dikwels is die druk van ons vriende of selfs familie so groot dat ek maar saamstap, hoewel ek weet dat dit nie die pad is wat Jesus sou kies nie. Dit bring nie vrede by Jesus nie, dis verseker. Maar doen ek dit nie, is my vriende ontevrede. Dikwels stoei ek met my eie belange wat nou nie presies Jesus se belange is nie. Iewers gaan daar onvrede wees, maak nie saak wat ek kies nie.

Dit is nie so maklik om Christen te wees nie, maar jy weet darem wat van jou verwag word. Jy moet ten alle koste vrede te handhaaf – vrede met God. Daarvoor moet jy elke keer kies. Dit kan onvrede by jou vriende of by die werk bring, maar die vrede wat jy dan by Jesus het, moet jou sterk maak om daardie onvrede te kan vat.

Kies reg, kies Jesus… en die vrede wat alle verstand te bowe gaan sal joune wees.