3 Julie: God se geduld raak nie op nie. – Jan van der Watt

Rom 11:11-32 (fokus 11:25-32)

 Een van die lekkerste dinge is om ‘n oupa (of sal ek sê party oupas) met sy kleinkind op die strand dop te hou. Daai eindelose geduld… dit is nou eintlik wat ‘n mens inspireer. Die kleintjie klim bo-oor hom, skiet sand in die lug, wil die hele tyd hê oupa moet gaan water haal in haar emmertjie, maar alles word misgekyk vir daai oomblik dat sy haar armpies om haar glimlaggende oupa se nek gooi en hom met ‘n sandmond ‘n klapsoen gee.

Dit is eintlik hoe God se verhaal met sy volk Israel ook lyk. Israel was nog nooit die perfekte volk nie, inteendeel. Hulle was destyds skaars uit Egipte toe hulle al wou teruggaan omdat God glo nie vir hulle genoeg eetgoed in die woestyn gegee het nie. In die beloofde land het hulle oë die hele tyd vir die afgode geflikker. So het hulle God se geduld maar gedurig op die proef gestel. Maar God se geduld het nie opgeraak nie. Paulus skryf hier dat selfs toe hulle die deur van God se genade in sy gesig toegeklap het, het God nog vir hulle ‘n agterdeur oopgehou (11:31 en 25-26). En dit gee vir ons moed.

God se genade en geduld is oneindig, baie meer as enige oupa s’n. Soos enige goeie oupa raas God partymaal bietjie hier en maak groot oë daar, maar aan sy liefde is daar geen einde nie. En vir iemand so broos en feilbaar soos ek is dit baie goeie nuus. Dit is sulke goddelike geduld wat my moed gee om maar net weer en weer my arms om God se nek te gooi. En die drukkies van liefde wat jy Hom gee, laat sy hart warm klop, hoe meer hoe beter.