30 Oktober: God se Woord is soos ‘n skerp mes. – Jan van der Watt

Hebreërs 4:1-16 (fokus 4:12-13)

 Min dinge is so irriterend as beterweterige Christene, veral as hulle jou begin intimideer deur te sê: “Die Gees het vir my dit of dat oor jou gesê”. Natuurlik praat die Gees met ons en ons moet mooi luister sodat ons sy stem nie dalk mis nie. Maar daar is mense wat die stem van die Here met hulle eie stem verwar. As iets in hulle kop opkom, dink hulle sommer dit is die Here. Nou ja, dit kan die Here wees, maar dit kan ook nie. Hoe weet mens?

Die Here se Woord is soos ‘n skerp mes (12) wat alles kan oopsny. Niks kan geheim bly nie. Daarom is die Woord van die Here die ideale “toets” vir “boodskappe” van die Gees. Deur die “boodskappe” deur die “meslem van die Woord” te sit, sal ‘n mens dit tot in sy kern kan oopsny. Daar sal ‘n mens kan sien of dit eg is of nie. As dit nie in alle opsigte met die Woord ooreenstem nie, moet ‘n mens maar versigtig wees.

Met ander woorde, die Gees sal nie vir jou ‘n boodskap gee wat nie die toets van die Woord kan deurstaan nie. ‘n Boodskap van die Gees sal ook nooit liefdeloos afgelewer word of jou in dinge in wil manipuleer waarvan jy nie seker is of die Here dit regtig wil hê nie. As die Here wil hê jy moet iets doen, sal Hy nie net die “boodskapdraer” oortuig nie, maar ook vir jou.

Gebruik God se skerp mes, sy Woord, en toets… nie net wat ander sê nie, maar ook wat in jou eie lewe aangaan.