30 September: Halfgebakte Christenskap is vir niemand goed nie. – Jan van der Watt

1 Tes 2:1-20 (fokus 2:1-4)

Niemand het ooit gesê dat om Christen te wees is maklik nie. Kyk maar na Paulus – as daar nou iemand is wat moes vasbyt vir alles wat hy werd is, was dit hy (2:3).

Ons samelewing is anders as Paulus s’n. Hy het tussen heidene geleef wat God nie geken het nie. Ons leef elke dag tussen mense wat al van God gehoor het; of hulle dit nou by ‘n troue of met kersfees gehoor het, of selfs meer gereeld in die kerk kom, hulle weet van God. Tog is die verskil tussen ons en Paulus nie so groot nie… baie van hierdie ‘Godkenners’ met wie ons elke dag te doen kry, ken God ook maar nie. Hulle koppe mag van God weet, maar nie hulle harte nie. En dit loop uit op ‘n Christenskap wat geen hartklop het nie… Christenskap wat ‘daar’ is, maar nie lewe nie. En dit steek ‘n mens nie so maklik weg nie.

In ‘n sekere sin is dit dus ook vir ons vandag‘n bietjie moeiliker as vir Paulus. Wat dit moeiliker maak is juis hierdie semi-Christelike atmosfeer waarin ons leef. Wat mense vir Christenskap uitgee, is dikwels so half-gebak, so sonder lewe. Mense tree Christelik op, maar ook nie en dit maak jou onseker en deurmekaar. As dit hulle pas is hulle eerlik, maar ook net as dit hulle pas. As hulle met jou besigheid wil doen, vertel hulle jou hoe groot Christene hulle is, maar as die handtekeninge eers op die kontrak is, speel die Christenskap van daai besigheidsman met jou wegkruipertjie – jy kan dit net nie meer kry nie. Dit maak die Christenskap goedkoop en plaas ook vraagtekens oor wat eerlike Christene doen.

Ons kan nie veel hieraan doen nie, behalwe om te sorg dat ons Christenskap nie so halfgebak is nie. Ons moet konsekwent Christelik bly deur vas te staan in die Here. Vasbyt is nie altyd maklik nie, maar dit is die moeite werd.