31 Julie: Liefde is nooit bly oor verkeerde dinge nie. – Jan van der Watt

1 Kor 13:1-14:5 (fokus 13:1-13)

 Omdat liefde in ‘n groot mate die ”gee van jouself” is, kan dit maklik gebeur dat jy ‘n vloerlap word, en dit mag nooit gebeur nie. Liefde het ook sy skerp kante. Dit paai nie net die hele tyd ander mense nie. Dit kan ook nee sê of selfs dinge vurig teenstaan.

Dit is wat Paulus bedoel as hy sê dat die liefde ook grense het (13:6), ja, waar dinge te ver gaan vir geduld, waar ‘n blote vriendelike glimlag nie meer help nie. Bybelse liefde is altyd aksie (geduld, vergifnis, ens.). Hierdie aksie staan op twee pilare: lojaliteit en verantwoordelikheid teenoor ander. As kind van die Here moet jy altyd weet dat jy verantwoordelikhede teenoor jou mede-gelowiges het. Wanneer hulle jou nodig het, moet hulle op jou knoppie kan druk; en jy moet reageer, want dit is jou verantwoordelikheid. Jy moet ook lojaal wees teenoor die Here deur dit te doen wat Hy van jou verwag. Wanneer iemand dus iets doen wat teen die wil van die Here is, beteken lojaliteit of liefde ook om daardie persoon reg te help deur nee te sê of selfs skerper aan te spreek. Jy het die verantwoordelikheid om in lojaliteit mense vir die Here te behou. Soms moet jy mooipraat of paai, maar as dit nodig is moet die liefde ook skerper optree. Liefde kan nooit bly wees oor of kant kies vir die kwaad nie.

Oppas vir mense wat jou wil manipuleer met die liefde. Jy ken hulle gou uit: “Jy is mos ‘n Christen wat kamma liefhet… kyk net wat doen jy”, of, “jy moet mos ander help”, en so aan. Hulle wil net op jou gewete speel om hulle sin te kry. Moet jou nie laat manipuleer nie. Vra altyd eerste of dit is wat die Here van ‘n verantwoordelike en lojale kind van Hom verwag… en volg die antwoord wat jy kry.