6 Januarie – Raak van daai stresplooie ontslae – Jan van der Watt

Lees: Mat 6:1-33 (fokus: 6:25-33)

’Stel God se koninkryk eerste. Doen alles wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los maar môre se probleme vir môre. Van probleme het elke dag immers genoeg. “Leef liewer vandag voluit vir God!(6:33).

Dink net – jy kon 90% minder plooie van stres gehad het! Dit is nou as jy jou net bekommer het oor die dinge wat die moeite werd was om jou oor te bekommer. ʼn Mens bekommer jouself gewoonlik (om die waarheid te sê 90% van die kere) oor onnodige dinge soos: dat jy nie by Piet se begrafnis was nie – nou sal hy nie by joune wees nie.

Dat ons heeltemal opgestres raak of ons oor alles loop en bekommer, is gewoonlik ons eie skuld. Ons verwag te veel van onsself en stel ook te veel eise aan onsself. In ʼn lewe wat baie van ons vra, hang ons die hooi hoër op as wat regtig nodig is… dan kom ons dit nie by nie! En dit is die begin van stres en bekommernis… ons maak dit nie en dit vreet ons van binne af op. Die kar wat ons gekoop het, is net te duur; nou stres ons want ons geld is net te min. Ek het beplan om net te veel te wil doen en nou kan ek nie by alles uitkom nie… nou stres ek. Ek streef vir ʼn pos wat ek eintlik weet ek nie voor kwalifiseer of by sal inpas nie… en as ek dit nie maak nie, voel ek ongelukkig. So laai ek net meer en meer stres op myself. En daarvoor het ek net myself te blameer.

Wat is die regte medisyne vir baie van ons stres? Hang jou hooi so op dat jy dit kan bykom. Moenie meer van jouself verwag as wat jy kan gee nie. Wees eerlik en realisties met jouself oor waarvoor jy kans sien en wat jy kan doen. Net jy kan daardie soort besluite maak.

Dit is ook die Here se raad aan jou – jy moet die lewe baie meer gelate en tevrede aanvaar en jou minder bekommer oor alles wat jy wil hê of bereik. Dit is tog nie wat regtig saakmaak nie. Al loop die skure leeg en die klere skaaf deur, Jesus is nog vir jou dáár. Daaroor hoef jy nie te stres of te twyfel nie. Ja, God sal sorg, selfs ook as daai 10% dinge jou tref waaroor jy jou regtig moet bekommer.

Leef jy die Here se streslose styl? Dit kos selfkennis en selfaanvaarding. Vra die Here om dit vir jou te gee.