6 Mei: ‘n Reis sonder ‘n einde. – Jan van der Watt

Joh 11:47-12:19 (fokus 11:47-57)

Een ding wat baie van ons omkrap is as iemand ons geestelike bootjie skommel.  Dinge moet liewer maar rustig bly soos dit is. Ons voel veilig in ons gemaksone. Daarom wil ons dikwels nie ons hande verder uitsteek as die kerk se kollektebord nie. So ‘n onwilligheid om uit hulle gemaksone te gaan sien ons ook in die benoude uitroep van die Jode: “Wat gaan ons nou doen?” (11:47). Hulle wil nie verander nie, veral nie soos Jesus wil hê nie. Hulle wil bly soos hulle is en daarom maak hulle eerder planne om Hom uit hulle lewens te kry. Dit is vir hulle makliker.

Jesus wil deel van ons lewe wees. Hy wil ons anders maak, maar dan moet ons bereid wees om ons sy pad te stap. Dit is ‘n pad waarop ons gemaksones dikwels beproef gaan word. Hy gaan jou na plekke toe vat waar jy nie gewoonlik heengaan nie, daar waar jou pad met die paaie van armes, siekes verwaarloostes kruis. Op sy pad wil Hy jou die avontuur leer om ander lief te hê in plaas daarvan om hulle af te stoot, om weg te gee in plaas van om net te wil ontvang, om die minste te wees in plaas daarvan om altyd vir die voorste plek in die ry te veg. Dit is dinge wat jou lewe verander en jou uit jou gemaksone kan lig. Dit laat jou tussen mense land waar jy moet voete was en dien.

So ‘n lewe saam met Jesus kan jou lekker ongemaklik laat voel… want dit is anders. Die ou bekende paaie is vir jou makliker. Maar Jesus het ander planne vir jou. Daar wag vir jou ‘n lekker avontuur as jy bereid is om saam met Jesus uit jou gemaksone uit te stap.