9 Augustus: ‘n Tweegesig…nooit. – Jan van der Watt

2 Kor 1:12-22 (fokus 1:12-22)

 Iemand het eenmaal gesê: “Daai man is baie beleefd. Hy slaan altyd eerste maar vra darem om verskoning nadat hy jou geslaan het”. Maar die vraag is, waarom het hy jou in die eerste plek geslaan as hy so beleefd is?

Mense is dikwels so “beleefd” dat hulle totaal oneerlik en agterbaks is. Jy weet nooit waar jy met hulle staan nie. Jy voel altyd ongemaklik, want jy is nie seker of wat hulle voor jou sê dieselfde is as wat hulle agter jou rug sê nie. Partymaal loop hulle “beleefdheid” ‘n ander pad – hulle sal vir jou kom sê: “Ek wil jou nou nie beledig of seermaak nie”, en dan slaan hulle jou pimpel en pers met hulle skerp woorde wat agter hulle valse glimlag uitborrel. Ja, hulle slaan jou “beleefd”. As hulle wegstap en jou seer en gekneus los, wonder jy wat dit wat hulle nou so oor gal gebraak het regtig met hulle te doen het. En as dit hulle wel aangaan, kon hulle nie hulle valse “beleefdheid” gelos het en dit op ‘n liefdevoller en mooier manier gedoen het nie.

So ‘n tweegesig is hy nie en wil hy nie wees nie, sê Paulus (1:12,17). Mense moet eerlik weet waar hulle met hom staan. Dit beteken nie dat hy ongeskik is of soos ‘n bul in ‘n porseleinwinkel alles stukkend hardloop ter wille van “eerlikheid”  nie. Om opreg en liefdevol eerlik te wees, is al pad wat hy wil loop, want dit is die regte pad. Dan klink jou woorde agter die persoon se rug nie anders as wat jy voor hom praat nie. Jy sal ook nooit jou vuiste in “beleefdheid” oplig nie.

Liefdevolle opregtheid en eerlikheid is skaars onder ons mense. Jy kan dit meer maak.