9 Januarie – Hou jou prioriteite reg – Jan van der Watt

Lees: Mat 8:18-34 (fokus: 8:28-34)

‘Hewig ontsteld oor die varke, het die dorpsmense Jesus soos een man gaan soek. Toe hulle Hom kry, jaag hulle Hom sowaar daar weg!’ (8:34).

In 8:28-34 lees ons die verhaal van die duiwel wat bevark is en die varke wat beduiwel is. Maar eintlik is dit ʼn hartseer storie, want die ergste is dat die mense van die dorpie hulleself bevark het, om die sinspeling te gebruik. Om die varke te verloor was seker vir hulle ʼn skade, maar toe hulle Jesus ook verloor het, het hulle skade onberekenbaar geword.

Die grootste hartseer is dat die dorpsmense meer oor die varke bekommerd was as oor Jesus. Ongelooflik: hulle jaag Hom sommer weg (8:34). Iets ernstigs het met hulle skale van oordeel verkeerd geloop, want hoe kan jy ʼn paar varke teen Jesus opweeg? Tog het hulle dit gedoen en Jesus te lig bevind! Wat ʼn fout.

ʼn Mens kan jou kop skud of hulle kritiseer… maar ons moet oppas. Ons skale werk baie keer nie anders nie. Kyk mooi, dit was ʼn besluit oor hulle alledaagse lewens wat daardie mense moes neem: wat is die belangrikste, geld in die sak of ʼn keuse vir Jesus; gewildheid by mense of by Jesus; lang ure se werk in jou besigheid op soek na sukses of die ontwykende potte vol goud of tyd saam met jou gesin wat Jesus vir jou gegee het. Die dinge hoef nie noodwendig te bots nie, maar as dit bots moet ons skale reg wees. Jy moet weet wat die swaarste weeg en daarvoor kies.

Dit is dalk ʼn goeie plan om jouself die tyd te gun om jou skaal reg te hou. Sit alleen en dink na – oor jou lewe, wat vir jou belangrik is, wat en waaraan jy jou tyd spandeer, hoe jy jou gesin behandel… en weeg dit dan: het jy in al hierdie dinge Jesus weggejaag of by jou lewe ingenooi?