Ek weet nie wat my roeping is nie

God is well pleased when all our actions proceed from love, love to Himself, and love to immortal souls.” – George Whitefield

 

Ek weet nie wat my roeping is nie

Ons hoor dikwels woorde soos roeping en sending, maar weet ons wat dit beteken? Ken ek my roeping? Hier is ‘n paar dinge om te onthou:

  • Om ons roeping te ontdek vereis tyd

Geduld en volharding is eienskappe wat ons nodig het tydens ons reis om ons roeping te ontdek. Daar is natuurlik mense wat onmiddellik geweet het wat hulle roeping is, maar die meerderheid van ons het tyd nodig. Geduld en volharding is nodig, want ons moet nuwe dinge leer, ontwikkel, ens. Ons begin dikwels sonder ‘n idee wat ons moet doen.

 

  • Ander mense se roeping lyk goed

Soms is ons haastig. Ons wil nie uitvind wat ons spesifieke gawes is nie. Ons wil die wêreld verander – nou. Dan kyk ons na ander se roeping om kitsantwoorde te kry. In plaas daarvan om stil te staan, na te dink en te bid daaroor, begin ons sommer in ‘n rigting loop. Jy aanvaar sommer ‘n ander persoon se identiteit – jy loop in dieselfde rigting na dieselfde plek. Maar mettertyd vind jy uit dat jy besig is om in die verkeerde rigting te loop. As ons nie die tyd gebruik om uit te vind wat ons ware roeping is nie, sal ons allerhande interessante dinge vir die verkeerde redes najaag. Ons doen nie dié dinge wat ons veronderstel is om te doen nie. Ons mag vir ‘n tydjie goed voel, maar mettertyd vervaag alles.

 

  • Ons word geroep om in ons huidige konteks te lewe

Om die wêreld te verander lyk nie altyd soos ons dink dit moet lyk nie. Dit gebeur ook selde in ons tydsraamwerk. Ons word geroep om geduldig lief te hê en te werk. Maak nie saak wat die omstandighede en plek is waar ons ons bevind nie, ons het take om te doen – nou en hier. Al hierdie take verander die wêreld. Ons mag groter drome hê, maar ons sal nie daar uitkom as ons nie eers leer hoe om nou goed te leef nie.

 

Om my roeping te ontdek, is nie maklik nie. Volhard in jou soeke. Daar is dinge wat ons kan doen om ons met die proses te help.

  • Praat daaroor. Bespreek jou drome, idees, frustrasies en teleurstellings met ‘n groepie mense Dit gee vir jou ruimte om alles te verwerk; dit bemoedig jou; mense sal vir jou sê as jy op die punt staan om iets dwaas te doen.
  • Trek voordeel uit situasies wat met ons doel verband hou. God eer ons rentmeesterskap en getrouheid om ons roeping te koester.
  • Herinner jouself wie jy vir God is. Maak nie saak wat jou huidige situasie en roeping is nie, jy is ‘n kind van die Koning. Van die gerusstellendste woorde wat ons kan hoor, is God se versekering dat Hy ons lief het. Hy sien ons getrouheid raak. Hy gebruik ons nou om ons vir later voor te berei – al sien ons dit nie raak nie.