|
|
|
| Vrydag, 17 Julie 2009 06:29 |
Die duiwel as aanklaer - Jan van der WattErica Coetzee vra: Die duiwel was die aanklaer van mense by God, maar het sy posisie verloor as aanklaer deur Jesus se kruisdood en opstanding. Jesus het die duiwel se plek ingeneem as advokaat. Verstaan ek dit reg? Wat is die duiwel se posisie dan nou? Hy is nie meer in die hemel om die aanklaer te wees nie, so hy versoek, verlei en mislei ons op aarde?
Antwoord: Prof Jan van der Watt antwoord: Die duiwel word inderdaad in die Bybel geteken as die aanklaer. Kyk maar na Job. Die volgende het toe met die duiwel gebeur volgens die Nuwe Testament. (Lees asseblief ook die ander artikels oor die duiwel op die webblad - dit vorm die agtergrond vir die vraag). a) Met die koms van Jesus is die mag van die duiwel gebreek. Lees byvoorbeeld net die volgende dele: 1 Johannes 3:8 - ‘8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.' Hebreërs 2:14-15 - ‘14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.' b) Om die radikaliteit van wat gebeur het te onderstreep, sê die Bybel op verskillende plekke dat die duiwel uit die hemel uitgegooi is - byna soos ʼn aanklaer wat uit ʼn hof uitgegooi is. Lees die volgende:
c) Wat beteken dit? Dit beteken dat as die finale hofsaak gaan plaasvind die duiwel nie daar sal wees om ons aan te kla nie. Hy is uit die hofsaak geban. Jesus, ons verdedigende advokaat, sal wel daar wees. Hy sal ons dus verdedig. Die kanse dat ons dus skuldig bevind sal word as ons aan Jesus behoort is nul. Lees Romeine 8:33-34 - ‘33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.' As dit dus by die aankla kom, is net Jesus in die ‘hof'. As jy egter nie aan Jesus behoort nie, verdedig Jesus jou nie, maar dan word jy jou aanklaer. Lees Johannes 12:47-48 - ‘47En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red. 48Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.' Outeur: Prof Jan van der Watt
|