|
|
|
| Vrydag, 06 Mei 2011 06:25 |
Judas se brief en die beginsel van die kompas - Kobus Kok
Judas is ‘n baie kort boek met een hoofstuk of 25 versies. Dit is geskryf deur Judas wat die broer was van Jakobus die broer van Jesus, wat die Jakobus brief in die NT geskryf het. Met ander woorde, hierdie boek is geskryf deur Jesus se broer Judas. Dit is nie dieselfde persoon as Judas Iskariot wat Jesus verraai het nie. Ons lees in die evangelies dat Jesus broers en susters gehad het. Jakobus was ‘n belangrike leier in die vroeë kerk in Jerusalem (vgl. Hand 12:17; 15:13).
Na alle waarskynlikheid word Judas geskryf teen 55-65 nC. Ons weet nie presies aan wie die brief geskryf is nie. In baie van die NT briewe sal Paulus byvoorbeeld duidelik skryf dat hy aan die gelowiges in Kolosse of Korintiërs of Tessalonika skrywe. Dit is egter nie die geval by Judas nie omdat hy nie vir ons die woonplekke aandui van die mense aan wie hy skryf nie. By nadere ondersoek lyk dit vir ons soos ‘n brief of eerder ‘n preek wat as ‘n omsendskrywe gesirkuleer was en dat Judas die mense aan wie hy skryf persoonlik geken het. Dit was dus nie ‘n onpersoonlike brief nie, maar duidelik geskryf aan mense met wie hy al ‘n geruime tyd ‘n verbintenis gehad het. Dit laat ons dan lei na die punt om te vra waar Judas werksaam was volgens die vroegste getuienis. Indien ons die brief bestudeer sien ons dadelik dat Judas Ou Testamentiese dele aanhaal om sy argument teen die valse leraars wat die gemeente bedreig te maak. Dit beteken dat hy aan mense skryf wat Jode was, maar wat in kontak gekom het met heidene. Ons weet dat Jesus en sy familie uit Judea gekom het en dat Jakobus die broer van Jesus in Jerusalem ‘n leier was en daarom dink die meeste geleerdes dat die brief nie geskryf is in Griekeland of Rome soos Paulus se briewe nie, maar eerder in die Palestina omgewing.
Die gelowiges aan wie Judas skryf, het in kontak gekom met heidene en met valse leraars wat die waarheid van die evangelie wat Jesus gebring het, bedreig het en verdraai het. Die gevaar het bestaan dat die waarheid van die boodskap wat aan hulle oorgelewer is (Judas 3) bedreig was deur goddelose en losbandige mense (Judas 4-19). Judas wou aanvanklik vir die gelowiges geskryf het oor die verlossing waaraan almal deel het maar toe voel hy na aanleiding van die omstandighede en die krisis wat bestuur moes word om vir hulle ‘n brief te skryf ten einde hulle aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan hulle wat spesiaal deur God afgesonder is. Dit wil voorkom of daar vals leraars was wat vir die gelowiges vertel het dat God hulle nie gaan straf vir losbandigheid nie en dat hulle maar losbandig kan leef. Ons kry hierdie tipe denke op verskillende plekke in die Nuwe Testament, soos bv in 1 Kor 6 en 15 met die bekende uitspraak die kos is vir die maag en maag vir die kos en dat God in elk geval alles gaan vernietig, so dit maak nie saak wat jy met jou liggaam nou doen nie. Ons sien dit ook in Romeine 6:1-23 waar Paulus skryf aan mense wat ook hierdie tipiese manier van dink gehandhaaf het. Ook in die Romeine brief sien ons dat die valse leraars van mening was dat God hulle nie gaan straf vir hulle dade nie en dat jy daarom kan doen net wat jy wil, van dronkenskap tot seksuele losbandigheid en dit gaan niks tot gevolg hê nie. Dit het baie mense in die Bybelse tyd laat dink dat dit OK is om aan te gaan met die lewe wat tipies was van die antieke heidense manier van leef. In Judas 12 lees ons dat sommige mense tydens die liefdesmaaltye (nagmaal) hulself skuldig gemaak het aan die afskuwelikste uitspattighede en dat hulle opgetree het soos verstandlose diere en net agter hulle natuurlike drange aangejaag het en so die liefdesmaaltyd besoedel het. Ons lees ook elders in die NT (vgl. 1 Kor 11:20-22) dat daar mense in Korinte was wat tydens die liefdesmaaltyd die kos so vinnig afgesluk het en dat daar ander gelowiges was wat honger gely het.
Dit is baie interessant dat ons van hierdie tipe gedrag lees as iets wat nogal voorgekom het onder die heidene maar dat selfs die heidene negatief oor sulke mense praat. Die algemene moraliteit in die Romeinse ryk het geweldig afgeneem en selfs die heidense filosowe en geskiedskrywers het daarop kommentaar gelewer. Keiser Augustus het wette gemaak teen seksuele immoraliteit in 18 v.C. (Julain wette) – hy het ‘n pa die reg gegee om die man en/of sy dogter dood te maak indien hulle met die daad betrap word in sy huis of sy skoonseun se huis. Indien ‘n man sy vrou uitvang as sy owerspel gepleeg het en haar nie skei nie, word hy strafbaar voor die reg en kan hy doodgemaak word. Jo-Ann Shelton (1998:316-317) verwys in haar boek “As the Romans did” (Oxford University Press, 1998) byvoorbeeld na iets wat Martial (Marcus Valerius Martialis [eerste eeu n.C.in Rome]) in sy Epigram 7.20 vertel: ‘n Slaaf het een dag by sy beskermheer gaan eet. Die oomblik toe hy genooi is en by die gasheer aankom het hy dadelik na die etenstafel gehardloop waarvoor hy al dae en nagte voor wag. Hy het gevra vir drie porsies varknek, vier porsies vark loin, vir beide dye van die haasvleis, en beide die skouer porsies. Hy bloos nie eers as hy die oesters uit die doppe steel nie. Onder die tafel steek hy sy vuil sakdoek weg en daarin stop hy nog ‘n vrag koek, druiwe skille en appelstronke en afval, ‘n half vrot vy en ‘n pap sampioen. Alhoewel sy sakdoek wil bars van al die kos wat hy skelm ingestop het, steek hy boonop nog halfgekoude bene en ‘n karkas van ‘n gekookte tortelduif wat se nek al verslind is in die warm voue van sy jas. Nog erger, met sy lang regter arm rek hy tot op die grond onder die tafel en skep enige iets op wat die skoonmakers en die honde nie bygekom het nie, sonder om te bloos of te dink dit is snaaks. Die vergrype bly egter nie by kos nie. Hy maak sy groot beker vol wyn dat die wyn letterlik oorloop. Nadat hy alles gevat het wat hy kon, sleep hy sy logge lyf en al die kos vir 200 trappe op en sluit homself senuweeagtig toe agter sy eie deur, en die volgende dag verkoop hy ook nog die kos wat so gesteel het! Etes was in die antieke tyd ‘n baie belangrike sosiale geleentheid. Soos ons pas gesien het, het dit dikwels saamgegaan met geweldige uitspattighede en swak gedrag. Redelik onlangs het navorsers en argeoloë in Pompeii ‘n inskripsie teen die muur van ‘n huis gevind waarin die huis eienaar gedragsreëls teen die muur geskryf het (Jo-Ann Shelton 1998:316-317):
Judas doen dan oproep aan die gelowiges om hulle teen die losbandigheid en die valse leerstellings te verset en te stry vir die waarheid deur:
Skrywer: Dr Kobus Kok |