|
|
|
| Donderdag, 04 Februarie 2010 12:15 |
Die kuns van antieke brief - Kobus KokVandag skryf ons sommer vinnig ʼn brief, sms of epos sonder om regtig te beplan. Ons lees dan ook die briewe van Paulus so asof dit vir Paulus en die mense van sy dag net so vinnig was om gou ʼn brief te skryf en aan iemand anders te stuur. In die antieke Romeinse wêreld was briewe skryf ʼn langsame en dikwels duur proses. Die antieke mense het amper op enige ding moontlik geskryf, van klei tablette (cuneiform) potskerwe (ostraca), diervelle, hout, ens. In vergelyking met ander antieke briewe tot ons beskikking vind ons die volgende interessante gegewens as dit met Paulus se briewe vergelyk word: Die gemiddele lengte van persoonlike briewe van die antieke tyd is ongeveer 90 woorde. Die korste NT boeke wat ons vandag het (2 + 3 Johannes) bevat nie minder nie as 245 en 219 woorde. Teenoor die bekende Romeinse orator Cicero wie se briewe dikwels net 295 woord beslaan, skryf ons geleerde vriend Paulus gemiddeld 1300 woorde en ʼn brief soos Romeine beslaan nie minder nie as 7100 woorde. Teen die agtergrond van die gemiddelde tendens in die antieke tyd het die NT briewe dus grootskaalse produksies beteken - en dit in ʼn tyd toe die produksie van briewe ʼn duur en langsame proses behels het. Die briewe in die Nuwe Testament kan soos volg ingedeel op gegroepeer word:
Die briewe in die NT moet verstaan word as geleentheidsgeskrifte aan gemeentes. Paulus het byvoorbeeld nooit in sy lewe self gedink dat sy briewe uiteindelik deel sou vorm van ʼn boek wat mense die Christene se Bybel sou noem nie. Paulus die apostel, kerkplanter en leier van gemeentes het gewoon op grond van bepaalde probleme en dies meer, briewe aan gemeentes geskryf omdat hy nie self persoonlik by hulle kon wees nie. Hierdie briewe was genoodsaak deur bepaalde situasies in die gemeentes en dus histories gerig aan bepaalde mense, in ʼn bepaalde tyd en op grond van ʼn bepaalde situasie. Dikwels verwag ons baie meer van die NT briewe van Paulus as wat dit ooit bedoel was om te wees. Daarom is dit belangrik dat enige iemand wat ernstig is om meer van die Bybel te weet, ook ʼn studie doen rondom die moontlike historiese situasie waarin die briewe geskryf is. Daar is vandag baie boeke op die mark wat agtergrond studie vir mens verskaf. By die Universiteit skryf ons standaard Inleidings tot die Nuwe Testament voor vir studente. Deesdae is hierdie boeke selfs by toonaangewende Christen boekwinkels te koop. Hier onder is enkele bronne: 1. Powell, Mark Allan 2009. Introducing the New Testament. Grand Rapids: Baker Academic Du Toit, AB. Handleiding by die Nuwe Testament (band 1-6). Orion Uitgewers.
Outeur: Dr Kobus Kok |