|
|
|
| Woensdag, 11 Maart 2009 20:13 |
DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (7)Galasiërs 6:1-10 Verdere vermanings Paulus nader nou die einde van sy brief en soos sy gewoonte was, maak hy nou 'n paar losstaande opmerkings. In hierdie geval bestaan dit uit 'n klomp losstaande vermanings. Dit sluit egter nou aan by die voorafgaande aangesien dit alles te doen het met die vraag hoe die lewe van iemand wat onder beheer van die Heilige Gees lewe, in die praktyk lyk. 'n Mens sou die reeks vermanings in twee kon deel.
Al die vermanings in die eerste gedeelte (6:1-6) handel oor twee sake: Dat iemand onder beheer van die Heilige Gees lewe, kan 'n mens sien uit sy/haar liefdevolle meelewing met ander en uit die bereidheid tot selfkritiek. Hoe lyk dít in die praktyk?
In die tweede gedeelte (6:7-9) keer Paulus meer direk terug na die probleem in Galasië. Hy gebruik 'n bekende beeld: dit wat jy plant, kom later op. Net so is dit op geestelike gebied! Die gelowiges wat hulleself (soos die Galasiërs oorweeg om te doen!) oorgee aan die sondige natuur, sal dood en verderf oes. Wie hulleself egter oorgee aan die Gees, sal die ewige lewe oes. In 6:11 voeg Paulus nog 'n kort opmerking by wat ongelukkig dikwels verkeerd gebruik word. Hy sê dat 'n mens aan almal moet goed doen, veral aan die medegelowiges. Ongelukkig verstaan gelowiges dit soms so asof hier staan dat hulle net aan medegelowiges moet goed doen. Dis nie waar nie. Omdat gelowiges gedurig kontak met medegelowiges het, is dit vanselfsprekend dat 'n mens van hulle nood bewus sal wees en hulle tot 'n groot mate die fokuspunt van ons barmhartigheid sal wees. Tog mag dit nooit die ander uitsluit nie. Galasiërs 6:11-18 Laaste waarskuwing en groet 6:11: In daardie tyd het die mense gewoonlik gebruik gemaak van professionele skrywers of sekretarisse (So iemand is 'n amanuensis genoem) aan wie hulle dan hulle briewe gedikteer het. Paulus het ook dié gebruik gevolg. (In Romeine 16:22 kry 'n mens selfs die naam van een van die sekretarisse wat Paulus se brief neergeskryf het.) Hoekom skryf Paulus self die laaste paar reëls van die Galasiërbrief? Dit was destyds die gebruik om self die laaste paar reëls van die brief wat jy gedikteer het te skryf om so die egtheid van jou brief te bevestig. Omdat die mense aan wie die brief geskryf is jou handskrif geken het, het hulle geweet dat die brief inderdaad van jou af kom en nie 'n vervalsing was nie. Hoekom skryf Paulus sulke groot letters? Hieroor stem geleerdes nie saam nie. Daar kan verskeie redes wees: 1. Paulus vestig net die aandag op die groot verskil tussen sy handskrif en die kleiner (netjieser?) handskrif van die sekretaris wat 'n professionele skrywer was. 2. Die oorsaak kon oogprobleme of een of ander siekte gewees het. 3. Op dié manier wil Paulus beklemtoon hoe belangrik dit wat hy nou gaan skryf (vgl. 6:12-16), is. Dit is moeilik om 'n keuse te maak, maar dit lyk of die derde moontlikheid die beste keuse is. 6:12-16: In hierdie gedeelte gee Paulus 'n kort opsomming van alles wat hy in die Galasiërbrief wou sê. In dié kort opsomming haal hy die essensie van verlossing en Christenwees uit. 'n Mens kan dit as volg opsom:
6:17: Die littekens waarvan Paulus hier praat, verwys na die tekens van die fisiese lyding wat hy ter wille van Christus moes verduur tydens sy pogings om die evangelie wêreldwyd te verkondig. In 2 Kor. 11:23-27 noem hy 'n hele reeks van sulke ontberings. 6:18: Soos wat Paulus se gewoonte is, sluit hy ook hierdie brief af met 'n Christelike seëngroet. Heel gepas, beklemtoon hy God se genade. Die dwaalleer in Galasië het juis soveel veld gewen omdat hulle te min begrip vir God se genade gehad het!
Skrywer: Prof Francois Tolmie
|