|
|
|
| Dinsdag, 14 Junie 2011 09:49 |
Efesiërs (4) - Francois Malan2.6 Geestelike oorlog teen die magte van die bose (6:10-20)
Hierdie gedeelte som die temas van die brief op in ‘n vergelyking met die wapenrusting van die Here en sy Gesalfde, wat optrek om sy volk uit die ballingskap in Babilonië te verlos, soos beskrywe in Jesaja 11:4-5; 59:17 en ook 49:2; 52:7 en met die Romeinse soldaat se toerusting in gedagte.
2.6.1 Word sterk in en deur die Here (6:10-13; 3:16)
Dit is die Here Jesus wat ons versterk (in Christus Jesus 2:6; Christus in ons; in liefde 4:17; in die Here 5:8; 6:1), volgens die werking van sy liefde, sy magtige sterkte in ons (1:19-23; 3:17-19).
Die gelowiges verkry die krag van God deur God se volle wapenrusting aan te trek (die nuwe mens in 4:24). Soos ‘n voetsoldaat ten volle toegerus moet wees vir ‘n veldslag, moet die gelowige ten volle afhanklik wees van God se sterkte, God se eie wapenrusting, wat Hy aan ons verskaf, naamlik Homself (om soos Hy te wees, 4:24; 5:1; Jesaja-tekse).
Die rede waarom gelowiges in die krag van die Here moet lewe, is dat hulle staande kan bly (4:14-16), weerstand kan bied teen die duiwel se listige aanslae (4:22,27-31). Ons is in ‘n man-tot-man-stryd gewikkel met die duiwel en sy trawante, wat die wêreld en ons self probeer inneem en teen God mobiliseer (maar vir wie Christus oorwin het, 1:20-22).
As die gelowiges ten volle voorbereid en bewapen is met die wapenrusting waarmee die Here hulle beklee het, sal hulle ook op dae van spesiale aanvalle weerstand kan bied en staande kan bly.
2.6.2 Staan vas! met God se volle wapenrusting beklee (6:14-17)
Die opdrag om vas te staan word gegee saam met ‘n verwysing na die gawes wat God voorsien om in die stryd teen die vyand vas te staan:
2.6.3 Waak en bid (6:18-20) Voortdurende afhanklikheid van God in gebed is noodsaaklik om vas te staan in die stryd teen die magte van die duisternis wat nie in dié bedeling eindig nie. Bid daarom altyd tot God, gelei deur die Gees (2:18; 5:18), met elke soort gebed en smeking, waak met alle volharding om nie te verslap nie, tree in vir alle mede-gelowiges (1:15; 2:14-18) en vir Paulus (3:7-9), die evangelie se gesant in boeie, om dit vrymoedig te verkondig, selfs voor die keiser tot wie hy geappelleer het (Hand.9:15; 25:12).
Slot en seën (6:21-24)
Paulus beveel sy medewerker Tigikus by hulle aan. Hy bring waarskynlik die brief na hulle toe (soos ook die brief aan die Kolossense, Kol.4:7-8).
Hy sluit die brief met ‘n gebed dat die vrede (2:14-18) en liefde met geloof (3:17-19) van die Vader en van Christus deur hulle na ander toe sal vloei, en dat God se genade (1:6,7; 2:5,7,8; 4:7) en onsterflikheid (1 Kor.15:42), die seëninge van die nuwe bedeling, met almal sal wees wat ons Here Jesus Christus liefhet, deur aan Hom toegewy te wees in ‘n persoonlike verhouding.
Skrywer: Prof Francois Malan |