Aan die duiwel oorgegee

Aan die duiwel oorgegee – Francois Malan

Jan vra:

‘n Vriend bel my eendag en vra wanneer kan ‘n mens iemand aan die duiwel oorgee? In 1 Kor 5: 1 tot 5 praat Paulus oor die sedeloosheid van die Korinthiërs. Daar is hoerery en in die opsig is daar selfs iemand wat sy vader se vrou het. Paulus sê dan in vers 5: om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus. Wat is hier aan die gang, asseblief?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Paulus se reaksie op die berig wat hom bereik het, is een van verontwaardiging, dat die gemeente oor so iets kan spog. As gesant van Jesus Christus, wat as die Here oor sy kerk regeer, spreek Paulus ‘n woord in die Naam van die Here. Die woord moet deel word van die gemeente se besluitneming, deurdat die Heilige Gees die gemeente lei om aan die woord wat van die Here deur Paulus kom, uitvoering te gee. Die gemeente moet oortuig word dat dit die pad is wat die Here vir hulle aanwys.

Om die lidmaat tot inkeer te bring, moet die hele gemeente eers tot inkeer kom en hulle siening van die seksuele lewe verander. Dit word in hoofstuk ses en sewe van 1 Korintiërs weer aangespreek. Dat hulle hulle liggame sal begin sien as ‘n tempel van God waarin die Heilige Gees woon , en dat die mens se liggaam nie vir seksuele losbandigheid bedoel is nie, maar vir diens aan die Here. Vir die verlossing van die seksuele lewe uit die kloue van die duiwel het Jesus sy lewe aan die kruis afgelê (1 Korintiërs 6:13,19-20).

In Matteus 18:15-20 word ‘n prosedure voorgestel in ‘n ander verband, wat ‘n aanduiding kan gee hoe opgetree moet word.

In Job 2:8 gee die Here Job oor in die mag van die Satan, met ‘n enkele beperking. Maar dit is ook weer ‘n ander situasie, want Job het nie in sonde verval nie.

Die pad wat Galasiërs 5:24-5 en Romeine 7:5-6 vir die gelowige aanwys, is om jou sondige natuur te kruisig deur ons aan die beheer van die Gees oor te gee. Dit sou die aangewese weg wees vir die man wat in bloedskande leef, om weer in die gemeente opgeneem te word. Maar as hy sou volhard op die pad van die sondige natuur, is hy op die pad na die ewige dood (vgl. 1 Korintiërs 6:9-11).

‘Wanneer kan ‘n mens iemand aan die duiwel oorgee?’ – ek sal versigtig wees om dit te doen. Gewoonlik gee mense hulle self aan die duiwel oor deur Jesus te verlaat. Paulus sê dat die toorn van God kom oor mense wat Hom nie eer en dank nie, en sy toorn is dat Hy hulle oorgee aan hulle eie begeertes om hulle eie lewe daardeur te verwoes (vgl. Romeine 1:18,24-32 se lys sondes). 1 Johannes 5:16-17 onderskei tussen sonde wat nie tot die dood lei nie en dat ons vir so iemand moet bid, en sonde wat tot die dood lei, waarvoor hy nie sê dat ons vir so ‘n persoon moet bid nie – al verbied hy nie sulke voorbidding nie – die sonde tot die dood gaan oor mense wat die geloof in Jesus as Seun van God wat mens geword het, verwerp, en God se gebod van onderlinge liefde versaak (2 Johannes 7-9).

 

Prof Francois Malan