Aanneming

 

Do not look for trials and assume extreme penances but learn to accept the myrrh of suffering sent by God, for when accepted lovingly, these bring joy – Johannes Tauler

 

Aanneming

Teologies is aanneming die optrede van God waardeur gelowiges deel van God se familie word met al die voorregte en verpligtings van ‘n familielid. Reeds in Jesaja 43:6 – 7 lees ons: Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.

 

Volgens die Nuwe Testament is alle mense van nature sondaars: ons was van nature kinders van toorn (Efesiërs 2:3 – Direkte vertaling). Maar in 1 Johannes 3:1 lees ons: Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God. Die aanneming waardeur ons van kinders van toorn na kinders van God verander word se oorsprong is God se liefde en die fondament waarop dit rus is Jesus Christus.

 

In God se geliefde Seun word sondaars uitverkies deur God die Vader om sy kinders te wees (Efesiërs 1:4 – 6). Hierdie aanneming is deur Jesus Christus verseker. Deur sy dood en opstanding het Hy die sonde en die dood vernietig. Deur Hom voldoen ons aan die vereistes van kindskap. Christus is die Hoof van hierdie “nuwe verbond” as sy middelaar en waarborg. Ons is nou mede-erfgename met Hom. God gee aan hulle die Gees wat hulle tot kinders van God maak (Romeine 8:15). Die inwonende Heilige Gees verseker gelowiges dat hulle waarlik kinders van God is en stel hulle in staat om God as Vader aan te spreek.

 

Aanneming is ‘n voordeel wat God se kinders reeds geniet, maar die volle omvang van hierdie voordeel word eers besef met ons opwekking uit die dood.