Die Evangelie volgens Lukas: Aanwysings vir die nuwe gemeente (Luk 22:35-38) – Francois Malan

22:35 Die gedeelte kom slegs in Lukas voor. Die aanwysings vir die toekomstige optrede van die gelowiges ná Jesus se hemelvaart begin met Jesus se vraag oor sy sending van die 12 en weer van die 72 dissipels se sending na al die dorpies wat Hy nog voor sy dood wou besoek het (Luk 9:1-6; 10:1-12). Jesus vra of hulle destyds iets kort gekom het toe Hy hulle sonder enige voorsiening, sonder geld, ekstra klere of sandale uitgestuur het. En hulle antwoord: ‘Niks nie’ want hulle is orals vriendelik ontvang en versorg (Luk 9:4; 10:7-8).

 22:36 Die genadejaar van Lukas 4:19 (uit Jes 61:2) is verby: ‘Maar nou…’ Die heerskappy van God is gevestig. Nou breek die tyd vir die nasies aan. Dit is die tyd van die kerk wat Lukas in Handelinge beskryf. Jesus gaan nie meer by hulle wees nie en sy volgelinge gaan nie meer beskou word as dissipels van ’n gerespekteerde en geliefde Meester nie. Hy is reeds deur die Joodse leiers verwerp en word dieselfde dag nog gekruisig. Hy sal deur die hele volk as ’n gehate krimineel beskou word. Dan sal volgelinge van die Gekruisigde ook soos Hy verag, uitgeskop en vervolg word. Die geldsak en die kossak word dan nie tuis gelaat nie, maar gaan saam, en ’n swaard (machaira kort swaard, selfs ’n dolk) word gekoop, al kos dit jou bokleed. Die middels om jou te versorg en te stry teen moontlike aanslae word nou noodsaaklik.

 Die swaard gaan nie om ’n oorlog nie (vgl. Luk 22:51), maar om die nuwe stryd, om die erns van die saak en om die lyding en ontberings wat kom, te beklemtoon. Die getuies van Jesus gaan nie meer orals vriendelik ontvang en versorg word nie (Luk 10:3: Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in’). Die dissipels sal die moed nodig hê wat ’n swaard meer nodig ag as jou laaste besitting, waarvan jou bokleed die beeld is. Maar die stryd vir God se koninkryk, waarvan die swaard ’n beeld is, kan nie laat vaar word nie.

 22:37 Die erns van die dissipels se aanstaande stryd en lyding word deur Jesus se dood bepaal. ‘Want Ek sê vir julle hierdie Skrifwoord moet (dei) in My vervulling vind:’ Met Jesus geskied wat in die Skrif aangekondig word. Die ‘moet’ verwys na die wil van God wat volbring moet word (vgl. Luk 10:50: Ek het ’n doop waarmee Ek gedoop moet word).

 Jesaja 53:12 sê dat die Kneg van die Here as misdadiger beskou is – letterlik in Hebreeus pesje’im: Hy is saam met die rebelle getel; Griekse LXX: anomois onder die wetteloses/ongehoorsames aan die wet, gereken – in Hand 2:23 beskuldig Petrus egter die Israeliete: julle het hierdie man deur die hande van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. Daarmee verwys hy na Judas se verraad, die Sanhedrin se oortreding van hulle eie prosedures, die Jode wat geskreeu het ‘kruisig Hom,’ en Pilatus wat teen sy beterwete die reg oortree het deur ’n onskuldige te laat gesel en kruisig.

 ‘Want die woorde (van Jes 53:12) wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek;’ vgl. Luk 18:31; 9:44). Jesus verwag die openlike verklaring dat Hy ’n wetsoortreder is, ongehoorsaam aan die wet van die Here soos die Sanhedrin sy uitsprake en sy bediening beskou het. Dit is omdat hulle Hom nie as die Seun van God kon aanvaar nie en daarom moet Hy dood omdat Hy die volk verlei om ’n ander god as die een wat hulle aanbid, te dien (vgl. Deutr 13:10). En daarom sal hulle ook nie Jesus se volgelinge aanvaar nie, maar hulle wil uitroei (vgl. Hand 4:17-18; 5:18; 7:58; 8:1-3; 12:1-3; ens.). Maar dit is alles deel van die wil van God (‘moet’) wat oor Jesus en oor sy volgelinge regeer. Deur Jesus en sy volgelinge se verwerping en lyding word die wil van God en sy verlossingsplan vir die wêreld volbring (vgl. Romeine 8:17).

 22:38 Soos in die verlede verstaan die dissipels Jesus verkeerd. Hulle neem sy woord oor die swaard letterlik op en sê hulle het twee swaarde onder hulle. Maar Jesus breek die gesprek af, waarskynlik omdat hulle Hom nie verstaan nie. Hulle dink aan die geveg wat gaan uitbreek as Jesus oorgelewer word. Hy dink aan die komende tyd van vervolging en martelaarskap van sy volgelinge na sy dood. Daarom sê Jesus: ‘Dit is genoeg’ (hikanon estai) – genoeg van die gesprek en die onderrig van sy volgelinge, wat hier in Lukas afgesluit word (vgl. die Here se woord aan Moses in Deutr 3:26 ‘Jy het nou al genoeg daaroor gepraat’ Letterlik in Hebreeus : rab-leka genoeg vir jou; Grieks LXX: hikanousthō soi genoeg vir jou). Efesiërs 6:17 sê die swaard van die Gees is die woord van God.

 [Die misverstand oor die twee swaarde sit ook agter Pous Benedictus III se Bul ‘Unam sanctam’ van 18 Nov 1302 wat op grond van Lukas 22:38 en Matt 26:52 verklaar het dat die Here aan die kerk die mag van twee swaarde gegee het, die geestelike en die materiële gesag. Maar lank voor hom het die kerk al geweld gebruik vir sy uitbreiding en verdediging (vgl. bv. die kruistogte van 950-1350 n.C. wat veral teen die Moslemmagte opgetree en op die end verloor het,  en die inkwisisies wat ketterye met bloed wou uitroei. In 1229 is die prosedure van die inkwisisie gesistematiseer, en in 1814 is die inkwisisie weer opnuut in Spanje ingestel].