Aborsie: Die siening van sommige godsdienste

Aborsie: Die siening van sommige godsdienste – Coen Slabber

Sekere godsdienste het duidelike standpunte oor aborsie, terwyl ander die besluit tot ʼn groot mate aan lidmate oorlaat.

Islam

Oor die algemeen glo Moslems dat aborsie verkeerd en haram (ontoelaatbaar) is. Baie Moslems aanvaar egter dat dit wel onder sekere omstandighede toelaatbaar is. Die Koran verwys nie spesifiek na aborsie nie, maar gee wel leiding in verwante sake wat dan op aborsie toegepas word.

  • Die heiligheid van lewe. Die Koran gee ʼn baie hoë prioriteit aan die heiligheid van die lewe. So lees ons: Wie ook al die lewe van ʼn siel spaar, dit is asof hy die lewe van alle mense gespaar het. Wie ook al ʼn siel doodgemaak het, dit is asof hy die hele mensdom vermoor het. Die fetus is ʼn menslike lewe en word deur Islam as sulks beskerm
  • Beskerming van die moeder se lewe. Islam laat aborsie toe as dit gedoen word om die moeder se lewe te red. Dit is die mindere van twee euwels. Aborsie is die mindere euwel, want die moeder se lewe is gevestig, sy het pligte en verantwoordelikhede, sy is deel van ʼn gesin, sy gee “oorsprong” aan die kind en gewoonlik sterf die baba ook as die moeder sou sterf.
  • Voorsiening vir die kind. Die Koran verbied aborsie in gevalle waar die familie vrees dat hulle nie vir die kind sal kan voorsien nie. Hulle moet in sulke gevalle op Allah vertrou: Moenie jou nageslag doodmaak as gevolg van jou vrees vir armoede nie; dit is Ons wat vir hulle en vir jou voorsien. Om hulle dood te maak, is ʼn groot sonde.
  • Fetale afwykings. In gevalle waar die fetus ʼn afwyking het wat nie behandel kan word nie, is ʼn aborsie voor 120 dae aangewese. Na 120 dae is aborsie slegs aangewese as die afwyking van die fetus die moeder se lewe in gevaar stel.
  • Sommige sê dat aborsie in gevalle van verkragting, bloedskande en owerspel geregverdig is. Daar is egter verskillende sienings hieroor.
  • Aborsie word verbied as die fetus reeds ʼn siel (ruh) het. Daar is egter nie eenstemmigheid oor wanneer dit gebeur nie – 40 dae of 120 dae na bevrugting of wanneer die fetus beweeg.

 

Judaïsme

Judaïsme verbied nie aborsie nie, maar verwerp aborsie op versoek. Elke saak moet op sy eie meriete beoordeel word. Die besluit mag eers geneem word na konsultasie met ʼn rabbi bevoeg om raad te gee in hierdie sake. Ortodokse Judaïsme laat aborsie net toe as die voortgesette swangerskap die moeder se lewe bedreig.

Daar is egter ʼn verskeidenheid van sienings – sommige meer liberaal as ander. Die Joodse wet is meer toegeeflik tydens die eerste 40 dae van die swangerskap, want die wet beskou die fetus as van minder waarde so vroeg in swangerskap.

Die heiligheid van lewe is vir die Jode baie belangrik. Volgens die Misnah (= die mondelinge tradisie van die Joodse wet wat deel van die Talmoed vorm) mag lewe nie vernietig word nie. Ander redes waarom Judaïsme aborsie verbied, is:

  • Dit verbreek God se opdrag om die wêreld te bevolk.
  • As ek ʼn fetus doodmaak, maak ek iets geskep na die beeld van God dood.
  • Dit is die vernietiging van ʼn deel van God se skepping.
  • Dit vernietig iets wat ʼn mens kon geword het.

 

Die Rooms-Katolieke Kerk

Die Katolieke Kerk sê dat ʼn aborsie onder alle omstandighede verkeerd is. Die rede is dat hulle glo dat lewe by bevrugting begin. Hier begin ʼn unieke lewe. Hulle sien dit nie as ʼn potensiële lewende wese nie, maar as ʼn lewende wese met potensiaal. In 1995 skryf Pous Johannes Paulus II ʼn pouslike sendbrief – Evangelium Vitae (Die Evangelie van Lewe). Ten opsigte van aborsie sê hy: I declare that direct abortion, that is, abortion willed as an end or as a means, always constitutes a grave moral disorder, since it is the deliberate killing of an innocent human being.

Die probleem is dat baie lidmate in die kerk net eenvoudig hierdie siening verontagsaam. Studies in die VSA toon dat Katolieke vroue persentasiegewys net soveel aborsies ondergaan as die res van die bevolking.

 

Die Protestantse Kerk

Dit is onmoontlik om ʼn siening wat alle Protestante verteenwoordig daar te stel. Almal sê dat lidmate aborsie versigtig moet benader en goed nadink voor ʼn finale besluit geneem word. Meeste Protestantse Kerke aanvaar dat aborsie verkeerd is, maar dat daar wel omstandighede is waarin ʼn aborsie toelaatbaar is.

My siening as gelowige geneesheer.

Ek glo:

(a)    Dat lewe by bevrugting begin.

(b)   Dat aborsie, slegs omdat die moeder dit versoek, nie toelaatbaar is nie

(c)    Dat aborsie in sekere gevalle wel toelaatbaar is, maar dan onder streng voorwaardes:

  • As die moeder se lewe bedreig word.
  • As die fetus ʼn ernstige abnormaliteit het.
  • As die swangerskap die gevolg van verkragting of bloedskande was.
  • As die vrou nie in staat was om toestemming vir geslagsgemeenskap te gee nie (ernstige verstandelike vertraging).

 

Ons is nou klaar met ons eerste bio-etiese dilemma: aborsie. Die volgende dilemma wat ons gaan hanteer is genadedood.

Outeur: Dr Coen Slabber