Algemene foute wat ons maak (5)

image_pdfimage_print

It’s good to have money and the things that money can buy, but it’s good, too, to check up once in a while and make sure that you haven’t lost the things that money can’t buy. -George H. Lorimer (1868-1937)

Algemene foute wat ons maak (5)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Pride is the greatest enemy and humility our greatest friend – John Stott

Leiers sukkel om trots in hulle lewens raak te sien – en vind dit nog moeiliker om dit te hanteer. Dit is dikwels verskuil onder die kleed van selfvertroue en oortuiging. Adam en Eva is trots en kom in opstand – hulle wil meer soos God wees. Dit gebeur veral as jy reeds vroeg in jou lewe suksesvol is. Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val (Spreuke 16:18).

 

Die Skrif het baie te sê oor trots: die vernietigende gevolge van trots en die waarde van nederigheid. Ek woon in ‘n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes (Jesaja 57:15);  Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word (Matteus 23:11 – 12).

Vir ‘n nederige persoon is die middelpunt Christus – in Christus se liefde en aanvaarding is hy tuis en leef in vrede sodat  mense en omstandighede hom nie beïnvloed nie. Dit is die punt waarheen elkeen in God se genade moet beweeg. Nederigheid beteken nie dat ek op die agtergrond bly nie, dat ek nie baie sê nie, dat ek my gereeld daaraan herinner dat ek niks is nie. Ware nederigheid beteken ‘n sterk sin van vertroue in God. Ware nederigheid lei tot vertroue in hoe God my gemaak het en om dit in dankbaarheid en eerlikheid uit te leef. Nederigheid  is om jouself te wees – die persoon wat God jou gemaak het om te wees en dankbaar daarvoor te wees. Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het (Romeine12:3).

Nederigheid beteken nie dat ek minder van myself moet dink nie, maar om te aanvaar dat God my gemaak het – dit is wie ek is. Ek moenie wens ek is iemand anders nie. Beide my verlossing en my roeping is alles God se idee – dit is gawes wat Hy vir my voorberei het. Onthou: nederige mense word op die ou ent met eer bekroon en belangrike mense word verneder (Lukas 14:11 – Die Boodskap).

Twee probleme

  1. Ek kan jaloers op iemand ander wees en wil graag soos hy wees; of
  2. Ek kan trots wees en dink ander behoort soos ek te wees.

Trots en jaloesie is neefs. Ek moenie meer of minder van myself dink nie – ek moet meer aan Jesus dink. Hoe meer ek aan sy kruisdood, opstanding, evangelie en onbeskryflike genade dink, hoe minder fokus ek op myself. Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? (1 Korintis 4:7). My fokus moet wees op wat die Here doen en nie op wat ek dink ek doen nie.

Hoekom bely mense nie meer dikwels hulle trots nie? Ons kyk verby trots en selfgesentreerdheid solank as wat ons resultate behaal. Selfs in baie gemeentes is resultate belangriker as karakter en verhoudings. Daarom kry ons dat sommige leiers hulle trots erken, maar niks daaromtrent doen nie. Vroeër of later sal trotse leiers mense manipuleer en intimideer om dit wat hulle begeer te bereik. En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade,” (1 Petrus 5:5).

In die volgende  blog kyk ons na die volgende fout in ons reeks: ek stel eerder mense as vir God tevrede.

image_pdfimage_print

You may also like...