Algemene foute wat ons maak (6)

You can tell whether a man is clever by his answers. You can tell whether a man is wise by his questions. -Naguib Mahfouz, skrywer en Nobel-pryswenner (1911-2006)

Algemene foute wat ons maak (6)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Vandag kyk ons na ons begeerte om mense in plaas van God gelukkig te maak. As jy vir mense bang is, kan jy in ‘n strik beland, maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig (Spreuke 29:25)

Daar is altyd mense wat probeer om jou te manipuleer om dinge te doen wat hulle gelukkig sal maak. Die sleutel is om vir ‘n gehoor van een – God – te leef. Tog is daar altyd die versoeking om mense gelukkig te hou. I don’t know what the secret of success is, but I know what the secret to failure is and that’s trying to keep everybody happy (Bill Cosby).

 

Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep (Matteus 6:24). Jy het probleme as jy gedurig vra: “Maar wat sal ander dink as ek dit doen?” Vrees vir mense druk vrees vir God weg. Jy kan nie terselfdertyd in twee wêrelde leef nie – makliker gesê as gedoen. Dit is moeilik om standpunt in te neem – al weet jy dit is reg – as jy weet jy gaan ‘n prys betaal daarvoor. Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak (Lukas 6:26). As jy leef vir die goedkeuring van ander het jy probleme. Jou taak is om getrou te wees, nie gewild nie.

Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie (Galasiërs 1:10). Almal van ons wil hê dat die mense van ons hou, ons waardeer  en respekteer. Daarom sal ons selfs oor ons beginsels kompromieë aangaan om dit reg te kry. Luister net na Petrus en Johannes voor die Joodse Raad:  Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan julle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie (Handelinge 4:19 – 20). As ons maar net soveel tyd sou spandeer om na God te luister as na mense, sou ons meer moed gehad het.

Ons moet organisasie bou waar daar ‘n kultuur van openheid en nie vrees is nie; ‘n kultuur waarin ons vry is om van ander te verskil sonder vrees vir teregwysing. ‘n Kultuur oorheers deur vrees is nie vir die Here aanvaarbaar nie. Wanneer “moenie ander ontstel”  ‘n ongeskrewe reël is, sal ‘n kultuur van vrees mettertyd ontwikkel. ‘n Kultuur waarin die menings, idees, drome en oortuigings gedeel kan word, sal ons help om op ‘n gehoor van een te fokus.

Angs is soos ‘n strik waarin jy vasgevang word. Jy kom nie los nie. Wie die Here vertrou voel veilig. Mense kruip by invloedryke mense om gunste te kry. Vertrou eerder op die Here. Hy sal jou saak hanteer (Spreuke29:25 – 26 – Die Boodskap). Nou hoef ons nie die mening van mense te vrees nie – ons staan voor God alleen en is net aan Hom ‘n antwoord verskuldig.

In die volgende blog kyk ons na nog ‘n fout wat ons dikwels maak: Besigwees vervang visie.