Algemene foute wat ons maak (8)

Prioriteite is weegskale waarop ons liefde vir God geweeg word – Anoniem

Algemene foute wat ons maak (8)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Ships are safe in the harbor, but that’s not why ships are built

As dit kom by finansiële besluite sal wat die een as ‘n risiko beskou ander as dwaasheid of onverskilligheid sien. Ons kry beide groepe in gemeentes. Sommige gemeentes is finansieel sterk, maar het geen visie of drome nie – veilig in die hawe. Ander neem redelike risiko’s en sien dat God verbasende dinge doen. Ons moet gewillig wees om gesonde risiko’s te neem.

Dit is nie altyd maklik om tussen goeie en slegte risiko’s te onderskei nie. Ons sal waarskynlik eendag jammerder wees vir dit wat ons nie gedoen het nie as vir dit wat ons wel gedoen het. Vrees vir mislukking is soms sterker as geloof. Een van die redes waarom baie gemeentes klein bly, is omdat hulle nie waag nie.

 

 Finansiële spaarsaamheid doen dikwels meer skade as goed. Die oorlog tussen twee waardes wat met mekaar meeding, kan groot probleme skep. Dit is nie altyd maklik om te besluit wat die regte ding is om te doen nie. As jy besluit het, kan implementering ook moeilik wees – jy moet gesonde risiko’s opweeg en terselfdertyd finansieel wys wees. Jesus self het gewaarsku teen mense wat begin bou het sonder om vooraf die koste te bepaal.  Die leierskap in die gemeente moet mense opgewonde maak oor die toekomsvisie sodat hulle bereid is om finansieel betrokke te raak. Mense gee eerder vir ‘n visie as vir programme en geboue. Oppas vir krisisbestuur – beplan vooraf. Krisisse beteken  alles moet teruggesny word – ook personeel.

Gemeentes het mense nodig wat geloof-gevul, maar ook finansieel wys is – nie die een of die ander nie. Ons het gemeentes met baie geld in die bank, maar hulle is onwillig om geld te spandeer om ongelowiges te bereik en te sien dat hulle geestelik groei. Ons het, aan die ander kant, gemeentes wat te veel geleen het en nou in die moeilikheid is. Dit is goed dat jy aan die een vermaning vashou en die ander ook nie laat los nie, want hy wat vir God dien, gehoorsaam altwee (Prediker 7:18).

Hier is ‘n paar riglyne wat kan verhoed dat gemeentes ongesonde finansiële spaarsaamheid beoefen en in staat is om in ‘n posisie te wees om op vreeslose, Bybelse geloof te reageer.

  1. Verstaan dat God self ons hulpbron is. Ons behoort aan Hom; ons is nie die eienaars van ons hulpbronne nie – net die rentmeesters; ons moet eendag verslag aan die Eienaar doen.
  2. Ontwikkel ‘n filosofie oor ons lewenstandaard – uitgawes. Daar moet ‘n geskrewe en goedgekeurde dokument wees oor hoe ons die hulpbronne wat God voorsien gaan toeken. Anders is daar gedurig ‘n stryd oor wie kry en hoeveel.
  3. Balanseer inkomste, spaar, gee en spandering. Baie gemeentes het ‘n 80/10/10 formule – spandeer 80%, spaar 10% en gee 10%. Baie kerke spandeer te veel aan die verkeerde dinge wat hulle ware roeping – evangelisasie en dissipelskap –  belemmer. Hou jou lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Hebreërs 13:5).
  4. Finansiële besluite is ‘n spanpoging. Oppas vir een sterk persoonlikheid. Moenie dat hy finansiële besluite op sy eie neem nie. Kry mense met verskillende standpunte op die span. Dit lei totbesluite.

Die volgende fout wat ons gaan hanteer, is: Ons laat toe dat kunsmatige harmonie konflik verplaas.