Alle nasies – wie is dit? – Hermie van Zyl

‘n Leser vra;

 Waarom verskil gelowiges oor die kwessie van wie “alle nasies” is? Sommige sê hulle is net afkomstig van die 12 stamme van Israel met wie God ’n ou en nuwe verbond gesluit het. Ander het dit dat dit alle mense op die aarde is: vervloektes, verdelgdes, voorvadergeesaanbidders, Moslems, Hindoes, Boeddhiste, alle afgodsdienaars van die son, maan, sterre, water, aarde, ensovoorts. Laastens, waar oral in die ganse Bybel word verwys na “alle nasies”?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek verstaan die vraag so: Word met “alle nasies” werklik alle mense op aarde bedoel, of net sekeres? Anders gestel: Is die evangelie van redding in Jesus Christus net vir sekere mense bedoel of is letterlik alle mense op aarde hierby ingesluit? Dit gaan dus oor hoe inklusief die evangelie van Christus is. In my antwoord gaan ek op hierdie kwessie fokus.

My antwoord sal hopelik ook die vraag beantwoord oor waar in die Bybel oral na “alle nasies” verwys word. Daar is talle tekste wat na “nasies” en “alle nasies” verwys, maar ek sal slegs die sleuteltekste betrek wat handel oor die kwessie dat God se heil vir alle nasies bedoel is.

As mens die Bybel van voor af begin lees, wil dit lyk of die genadeverbond wat God met Abraham en sy nageslag aangaan, eksklusief is, dit wil sê, beperk tot Israel. Want God sluit spesifiek met Abraham, die vader van die Joodse nasie, ’n verbond. God beloof om vir die nageslag van Abraham ’n God te wees, en hulle sal vir Hom ’n volk wees (Gen 12:3). Dit klink dus of die Jode ’n uitverkore volk is, met uitsluiting van die ander nasies; net Israel is God se volk en net hulle aanbid die ware God; alle ander mense hou hulle met afgode besig.

Maar nou is dit ewe waar dat dit reg van die begin af God se bedoeling met hierdie “eksklusiewe” verbond met Israel was dat Hy deur hulle uiteindelik met alle nasies ’n heils- of genadeverbond wou aangaan. Hy is dus nie net die God van Israel nie, maar van alle nasies. Daarom dat reeds vir Abraham gesê word dat in hom (Abraham) al die nasies van die aarde geseën sal wees (Gen 12:3). God maak Israel juis ’n groot nasie sodat hulle ’n sigbare teken vir die hele wêreld kan wees dat God ’n genadige God is. En asof God dit wil inskerp by Abraham en sy nageslag dat hulle nie die enigstes is wat aan Hom behoort nie maar dat hulle instrumente in God se hand sal wees om alle nasies op aarde in te sluit by hierdie genadeverbond, kom hierdie gedagte herhalend voor in die geskiedenis van die aartsvaders (vgl Gen 18:18; 22:18; 26:4). Die gedagte dat al die volke van die aarde God se eiendom is en Hom moet dien, word ook bevestig in die profeteboeke waar vergesigte geopen word oor ’n tyd wanneer alle volke die lewende God, die God van Israel, sal dien. Selfs Egipte en Assirië, daardie gehate nasies van Israel, sal vir die aarde ’n seën wees (Jes 19:24-25). Israel moet dus so optree dat hulle ’n lig vir die nasies is sodat God se redding die uithoeke van die aarde sal bereik (Jes 49:6) en sodat al die nasies en taalgroepe kan bymekaarkom om op te trek na Jerusalem en eer aan die Here te bring. Dan sal daar inderdaad ’n nuwe hemel en aarde tot stand kom, soos in Jesaja 66:18-23 in die vooruitsig gestel word.

Ons moet egter byvoeg dat Israel eintlik maar selde hulle taak en roeping ten opsigte van die nasies verstaan het. Die feit dat hulle deur God met sy genadeverbond bevoorreg is, het hulle eerder trots en verwaand gemaak as nederig, eerder na binne laat keer as na buite. Hulle het hulleself as inherent beter as die nasies gesien. Veral na die terugkeer uit die ballingskap het hulle God se genadeverbond al meer eksklusief verstaan as net vir Israel bedoel, met uitsluiting van die nasies.

En dit is ongeveer die situasie wat mens aantref wanneer Jesus, gebore uit die Joodse volk, sy Vader se koninkryk op aarde begin vestig. Aanvanklik lyk dit asof Jesus net op Israel fokus (Matt 10:5-6), maar algou word dit duidelik dat God se koninkryk vir alle nasies bedoel is. Jesus beweeg byvoorbeeld buite die grense van Palestina na die stede Tirus en Sidon en genees ’n Kanaänitiese vrou se dogter (Matt 15:21-28). Hy genees ook ’n besetene van Gerasa, wat semi-heidense gebied was, en so versprei die evangelie in die hele Dekapolisgebied (Mark 5:1-20). En net voordat Jesus na die Vader terugkeer ná sy opstanding, gee Hy aan die dissipels die opdrag om na al die nasies toe te gaan, hulle sy dissipels te maak en hulle te leer om al sy gebooie te onderhou. Hierdie opdrag word ook bevestig in Lukas 24:46 – dat bekering en vergifnis van sonde aan al die nasies verkondig moet word. Dié gedagte word deur Handelinge 1:8 herhaal wanneer Jesus die dissipels uitstuur na die uithoeke van die wêreld, beginnende in Jerusalem. Die boek Handelinge beskryf ook hoe die Joodse volgelinge van Jesus gaandeweg bekeer moes word van hulle beperkte visie oor hoe wyd die genade van God strek. Petrus moes oortuig word deur ’n hemelse gesig dat daar nie so-iets is soos mense wat die evangelie waardig is (Jode) en ander wat dit nie waardig is nie (heidene) (Hand 10), en die Jode-Christene in Jerusalem moes hoor dat die heidene (die nasies) nie nodig het om eers kulturele Jode te word voordat hulle toegelaat word tot die nuwe verbond nie; hulle hoef maar net in Jesus te glo (Hand 15). Paulus moes ook hard praat met die Galasiërs dat mens nie nodig het om al die Joodse wette na te kom om goeie Christene te wees nie. Trouens, hy sê ronduit dat die belofte wat God aan Abraham gemaak het, in Christus in vervulling gegaan het. Al die nasies het nou in Christus vrye toegang tot die genadeverbond (Gal 3:8).

So gaan die belofte van God aan Abraham in vervulling dat al die nasies van die aarde geseën sal wees. Ja, God is inderdaad die God van alle mense – ryk en arm, goed en sleg, geseëndes en vervloektes. Openbaring sluit ook af met die gedagte dat wanneer die nuwe hemel en aarde aanbreek en die nuwe Jerusalem op die aarde neerdaal, die nasies in die lig van die stad sal lewe en die mense die rykdom van die nasies daarheen sal bring (Op 21:24-26). Die bedoeling is dat die evangelie dan reeds oor die hele aarde versprei het en al die nasies die geleentheid gehad het om hulle tot die lewende God te bekeer. Want die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word voordat die einde kom, sê Matteus 24:14. Alle mense moet die geleentheid kry om deur die lewende God geseën te word, soos aan Abraham lank tevore belowe. Dit was God se bedoeling van die begin af.

Die punt van bogenoemde oorsig is: Daar is geen aanduiding in die Bybel dat enige nasie of groep uitgesluit word by God se heil nie. “Alle nasies” beteken alle nasies, alle mense. Die goeie nuus van God se redding in Jesus Christus is bedoel vir alle nasies, groepe, volke en individue. Enigeen wat probeer om “nasies” of “volke” te beperk as sou sekeres by hierdie universele aanbod van genade uitgesluit is (soos mens bv kry by die sg Brits-Israel-beweging), is nie besig met die Bybelse boodskap van genade nie maar met sy of haar eie ideologie.

Naskrif:

Indien die vraagsteller verdere inligting wil bekom oor die sogenaamde Israelvisie- (ook Brits-Israel-beweging genoem), kan hy op die webblad van Bybelkennis.co.za ingaan en die skrywes van prof Adrio König lees. Hierdie stukke handel spesifiek oor die toekoms van Israel. Dit kan gevind word onder die volgende opskrifte: “Alle paaie lei na Jesus: Die toekoms van Israel (1)”; en: “Geloofsvrae: Die toekoms van die Jode”.

Voorts is daar ook ’n ander stuk op die internet wat oor die Israelvisie-beweging handel en die vals teologie hiervan uitwys. Dit is te vinde by:

https://www.google.com/url?sa=t&rct=j&q=&esrc=s&source=web&cd=1&ved=2ahUKEwiBmteN4q3lAhXYilwKHTV9C_gQFjAAegQIAhAB&url=https%3A%2F%2Fwww.ankura.net%2F2006%2F05%2F02%2Fdie-israelvisie1%2F&usg=AOvVaw2rMqO94FdXDgK5S2sCxRyw

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl