Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (1) – Adrio König

Hoofstuk 10

Die benamings van God

Ons moet van die begin af duidelik onderskei tussen twee groepe benamings. Die een is die Naam (eienaam) van God, en dit is Jahwe wat meestal as Here of HERE vertaal word. Dit is die enigste werklike Naam vir God in die sin van sy eienaam.

Die ander groep is ’n groot groep wat nie name (eiename) vir God is nie, maar benamings. Dit is woorde/titels (enkelwoorde of woordgroepe) wat na Hom verwys. Hieronder tel benamings soos God, Allerhoogste, Koning, die Here van die leërskare. Dit beteken dat “God” nie ’n Naam (eienaam) vir God is nie, maar ’n soortnaam. Daar was baie gode in die tyd van die Bybel, en vandag nog.

 

10.1 Jahwe (Here)

10.1.1 Die geskiedenis van God se Naam, Jahwe

Jahwe is die eienaam van God, ’n unieke Naam wat nie in enige ander godsdiens gebruik is nie. Vroeër is die Naam Jehova gespel (Engels: Jehovah). Vandag word taamlik algemeen aanvaar dat dit egter liewer Jahwe moet wees (Engels: Yahweh). Dit word gewoonlik met ’n sagte g uitgespreek: Jagwe.

 

Dit is baie jammer dat omtrent alle Westerse vertalings die Griekse vertaling van die Ou Testament, die LXX, gevolg het. Hierdie vertaling het die Griekse woord Kurios vir die Hebreeuse Naam Jahwe gebruik. Westerse vertalings het dit toe weergegee met Here (Engels: Lord, Duits: Herr). Die probleem is dat Kurios en Here nie eiename is soos Jahwe nie, maar titels. Dit beteken dat ons die gevoel verloor het dat God ’n eienaam het. Sommige van ons dink selfs dat “God” sy Naam is. Maar God is ’n soortnaam of ’n benaming. Dis nie ’n eienaam nie. Daar was baie gode in die Ou Testament en elkeen het sy eie naam gehad soos Baäl, Astarte, Nebo, Bel (Jes 46:1). En Israel se God se Naam was Jahwe.

 

Ons verstaan dus die tweede gebod beter as ons lees: “Jy mag nie jou God se Naam, Jahwe, misbruik nie.” Intussen is dit interessant om daarop te let dat sendelinge in Afrika die insig gehad het om inderdaad hierdie Naam in sommige Afrikavertalings te gebruik. Hulle het nog die ou weergawe gebruik, wat nog algemeen was in hulle tyd, Jehova. Dit het swart Christene in Afrika ’n sterker gevoel gegee as wat ons het dat God ’n spesifieke Naam het. Verder is daar onder die talle Westerse Bybelvertalings op my rak net die Engelse NJB wat Jahweh gebruik, en dis heerlik om te lees. Dit versterk net die belewing dat Israel se God, die Vader van Jesus, ’n Naam het.

 

Verskillende groepe buit die vertaling van Jahwe met “Here” uit. Hulle stel dan hulle trots daarin om die “regte” naam te gebruik, en selfs ook vir Jesus. Dié Naam “Jesus” word dan op verskillende en soms regtig vreemde maniere gespel (soos Jeshua, Yahüah). Natuurlik kan dit nooit verkeerd wees om die oorspronklike Name vir God en ook vir Jesus te gebruik nie:

  • Die Hebreeus vir God se Naam (Jahwe)
  • Die Grieks vir Jesus (Iysous, lees Jesoes) of selfs die oorspronklike Hebreeus (Jeshua of die langer vorm Jehoshua).

 

Maar dit kan darem nie regtig ’n onvergeeflike sonde wees om dit nie te gebruik nie. Trouens Paulus self en die vroeë Christene uit die heidendom, die wonderlike vrug van Paulus se sendingreise, het nie van Jahwe of Jeshua gepraat nie. Hulle het klaar in navolging van die LXX wat hulle “Bybel” was, die gebruik gevolg wat ons vandag het om van God as “Here” te praat (Kurios), en om die Griekse vertaling van Jesus se Naam te gebruik (Iysous), en nie die oorspronklike Hebreeus soos sy familie en eerste Joodse volgelinge nie.

 

As dit so gebiedend noodsaaklik was om juis die presiese Hebreeus te gebruik, sou Paulus mos hierdie Hebreeuse name in sy Briewe gebruik het. Maar hy gebruik deurgaans die Griekse vertalings omdat dit toeganklik was vir sy bekeerlinge uit die heidendom wat nie Hebreeus geken het nie.

 

In die volgende artikel gaan ons na die oorsprong en betekenis van Jahwe kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König