Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (6)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (6) – Adrio König

10.2 El, Elim, Eloah, Elohim (God)

Die bekendste benamings (nie eiename nie!) vir Israel se God is El en Elohim.

El was in die tyd en omgewing van ou Israel ’n baie algemene naam vir gode. Dit is onseker wat die woord El se oorsprong en betekenis is. Dit kan verband hou met ’n woord vir “sterkwees” wat dan sou beteken dat die benaming El op die mag van God wys.

Dit sou beteken dat dit God teenoor die swak mens stel, en juis die andersheid en veral die grootheid, mag en verhewenheid van God beklemtoon, en nie soseer sy betrokkenheid by mense soos die Naam Jahwe nie. Dit is opvallend dat hierdie algemene benaming vir God ouer is as die spesifieke name (eiename) vir spesifieke gode. Dit kan beteken dat die gedagte dat daar een oorheersende God is wat groter is as al die ander, van vroeg af na vore gekom het. Al was dit nog nie die oortuiging van monoteïsme, net een ware God nie, was dit ten minste die oortuiging van Een wat groter is as al die ander (monargiese politeïsme).

 

Verder is opvallend dat, wanneer El vir die Here gebruik word, dit nie aan ’n plek (kultusplek) verbind word soos die meeste Kanaänitiese gode nie, maar juis aan bepaalde mense, by voorbeeld die El (God) van Abraham, Isak en Jakob, wat beteken dat dit veral staan téénoor die Baäls van die Kanaäniete wat plekgebonde was, en van vroeg af bevestig dat God meer in mense en verhoudings met mense as in vaste aanbiddingsplekke belang stel. En juis dit laat weer die ruimte dat juis Jahwe die ware El kan wees omdat Hy by uitstek in die geskiedenis van Israel ingegaan het, of nog beter gesê: met Israel ’n nuwe geskiedenis gemaak het, die uittog, toe Hy juis ook sy Naam aan hulle bekend gemaak het.

 

Saam met El is Elohim baie algemeen vir God. Dit is ’n baie interessante woord. Wat sy vorm betref, is dit ’n meervoud, maar ’n ongewone vorm vir ’n meervoud. Die normale meervoud vir El is Elim. Dit word ook baie vir ander gode gebruik. Maar Elohim is by uitstek die benaming van Israel se God. Die feit dat dit meestal saam met die enkelvoud van werkwoorde gebruik word, dui daarop dat die meervoudsvorm eerder ’n aanduiding van die grootheid en mag van hierdie God is (pluralis maiestatis). Dit is by voorbeeld kenmerkend dat juis Elohim gebruik word in Genesis 1 waar die groot skeppingsmag van God beklemtoon word.

 

Daar is dikwels ’n poging om aan te toon dat ons alreeds in die Ou Testament getuienis kry dat God drie-enig is. Dan word onder andere verwys na hierdie meervoudsvorm vir God. Daarmee saam word graag verwys na uitsprake waarin God van “ons” praat, soos “Kom Ons maak die mens” (Gen 1:26). Daar is egter ander moontlike betekenisse wat “Ons” kan hê (soos die bekende pluralis maiestatis of hoogheidsmeervoud), en dié is te verkies omdat daar geen aanduidings van enige soort  meervoudigheid in God in die Ou Testament is nie. Die Jode het dan ook nooit enige vorm van ’n meervoudigheid in God aanvaar nie. Hulle het sterk uitsprake in die Ou Testament dat God één is (oa Deut 6:4, NLV). Die kerk bely dat God drie-enig is uitsluitlik op grond van die getuienis van die Nuwe Testament dat Jesus en die Heilige Gees op een of ander manier ook Goddelik is en deel is van God.

 

Die benaming Eloah word ook vir God gebruik. Dis ’n enkelvoud, maar moontlik kom dit van ’n ander woord as El. Omdat dit eers baie laat in die Ou Testament voorkom, is dit moontlik dat die ongewone meervoudsvorm Elohim die oudste is, en dat Eloah later as die enkelvoud van Elohim gevorm is. Dit het nie ’n besondere betekenis nie. Dit kom hoofsaaklik voor in Job en ander digterlike tekste. 

In die volgende artikel gaan ons onder andere na El Shaddai kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König