Alle Paaie lei na Jesus: Die gesag van die Septuagint

Alle Paaie lei na Jesus: Die gesag van die Septuagint – Adrio König

6.7 Die gesag van die Septuagint

Die kwessie van die Septuagint het nou telkens na vore gekom. Kom ons kyk in meer besonderhede daarna.

  • Die vroeë Christene het die Septuagint verkies bo die oorspronklike Hebreeuse teks.
  • Die Septuagint was eerder ’n verwerking van die oorspronklike Hebreeus as ’n noukeurige vertaling. En juis dit was een van die redes waarom die Christene dit verkies het. Die afwykings in die Septuagint het hulle saak baie goed gedien.
  • Amos 9:11-12 en Psalm 16:8-11 is klassieke voorbeelde. In beide gevalle bou die skrywers van die Nuwe Testament hulle hele argument op die teks van die Septuagint.
  • Hulle het die Septuagint so effektief gebruik in hulle argumente met die Jode dat die Jode later hierdie vertaling verwerp het wat hulle self van die Ou Testament gemaak het.
  • ’n Saak waaraan ons nie aandag gegee het nie, is dat daar meer boeke in die Septuagint is as in die oorspronklike Hebreeus (ons Ou Testament). Daar is omtrent agt sulke boeke en ook toevoegings tot sekere boeke soos Jeremia en Daniël. Die meeste van hierdie boeke is geskiedenisboeke of wysheidsboeke. Die geskiedenisboeke dek hoofsaaklik die byna 400 jaar tussen ons Ou Testament en ons Nuwe. Dit is ’n waardevolle toevoeging tot ons kennis omdat heelwat oortuigings wat in hierdie eeue na vore gekom het, later ’n belangrike rol speel in die Nuwe Testament, soos die prominensie van bose magte.
  • Dit alles het natuurlik radikale implikasies vir ons siening van die inspirasie en gesag van die Ou Testament. Die feit dat die skrywers van die Nuwe Testament die Septuagint so vrylik gebruik het en selfs bo die Hebreeus verkies het, beteken dat hulle dit op presies dieselfde vlak as die oorspronklike Hebreeus aanvaar het as die Woord van God.
  • Trouens waarna ons nie gekyk het nie, is dat hulle selfs uit boeke wat nie in ons Ou Testament is nie, aangehaal het (Jud v 14-15) en dan op presies dieselfde wyse as hulle aanhalings uit die Ou Testament.
  • As ons dit alles regtig ernstig neem, kan ons nie woordinspirasie aanvaar nie. Woordinspirasie beteken dat elke woord in die Bybel geïnspireer is. As die vroeë Christene geglo het elke woord is geïnspireer, kon hulle nooit die Septuagint as die Woord van God aanvaar het nie.
  • Waarskynlik het hulle wel geglo dat die boodskap geïnspireer is, want wat hulle uit die Septuagint gebruik, klop met wat hulle oor Jesus en oor die boodskap van die Ou Testament geglo het.
  • Kom ons kyk net weer na ons twee voorbeelde. Hulle aanvaar die vreemde vertalings van sekere tekste wat makliker op Jesus as die Messias toegepas kan word. Maar dit is omdat hulle klaar geglo het Jesus is die Messias, en omdat daar in elk geval baie ander Messiaanse tekste in die Ou Testament was.
  • En hulle het ook dankbaar gebruik gemaak van die tekste wat in die Septuagint as sendingtekste vertaal is, maar dis weer omdat hulle klaar geglo het dat die evangelie vir die hele wêreld bedoel is en daar in elk geval duidelike uitsprake by die profete was dat die Here wil hê dat alle nasies Hom sal dien.

 

Ons kan die vroeë Christene dankbaar hierin volg: Nie spesifiek elke woord nie, maar die boodskap van die Bybel is die woord van God. En as ons nou terugkyk na hierdie hoofstuk, staan Jesus in die middelpunt. Dit is Hom en sy boodskap wat die skrywers van die Nuwe Testament in die Oue gesoek en gekry het.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König