Alle Paaie lei na Jesus: Die mens as beeld van God (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die mens as beeld van God (1) – Adrio König

5.3 Die mens as beeld van God

Anders as by die verbond, toe ons van ’n basiese ongelykheid in ons verhouding met die Here gepraat het, gaan dit hier by die beeld skielik juis om die basiese gelykheid tussen God en mens. Kom ons kyk eers na die verband waarin hierdie skeppingsuitspraak oor ons beeldwees voorkom. Dis die eerste skeppingsverhaal.

 

In Genesis 1 word ’n skerp onderskeid gemaak tussen God en sy skepping. Niks anders is God of goddelik nie, net Hy. Onder ander volke is die son en die maan as gode beskou, maar volgens Genesis 1 is hulle net ligte wat deur God gemaak is en deur Hom in diens gestel is. Terwyl ander volke geslagsregisters gebruik het in hul skeppingsverhale omdat hulle geglo het dat mense uit gode gebore is, is daar geen sprake daarvan in Genesis 1 nie. God skep alles, Hy gee nie geboorte nie. Net God is God, en hierdie God is Israel se God. Daar is ’n wesenlike verskil tussen God en die skepping.

 

Maar dan lees ons ewe skielik dat God besluit om die mens te maak as sy beeld en verteenwoordiger (1:26). ’n Mens kon dit nie verwag na die moeite wat die skrywer gedoen het om sy punt te maak dat daar niks goddeliks in die skepping is nie, dat daar ’n duidelike grens is tussen God en alles wat Hy gemaak het. Uit die bloute kom die verrassing: Die mens is inderdaad ongelooflik na aan Hom, sy beeld (Gen 1:26-28). Van geen ander skepsel is so iets waar nie.

 

“Beeld” sê baie. Dit kan nie minder beteken as dat daar ’n bepaalde ooreenkoms tussen God en mens is nie. In ’n beeld van iemand, sê nou maar Nelson Mandela, moet hyself herkenbaar wees. Trouens dis selfs ’n vereiste van ’n spotprent: Die persoon wat afgebeeld word, moet herkenbaar wees. Maar in ’n lewensgetroue beeld moet dan baie ooreenkoms wees. Tussen God en mens?

 

Uit eerbied dink ons dikwels juis andersom. Ons probeer God so groot dink, en die mens so klein as wat ons kan. Soms hoor ’n mens selfs: God is alles, en die mens is niks. Maar kan dit waar wees? Het God regtig ’n “niks” gemaak toe Hy die kroon van die skepping gemaak het? Kan ons Hom in ’n “niks” herken? En onthou Genesis is nie ’n vreemde uitsondering nie. Dink maar net aan Psalm 8:6: “U het hom (die mens) net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon.” “Aansien” en “eer” word in die Bybel vir God gebruik! Hier word dit van die mens gesê. Trouens daar is selfs nog meer in die Bybel oor hierdie nabyheid van God en mens. Kom ons kyk van nog twee kante af, die mensvormige manier waarop die Bybel oor God praat, en Jesus self.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König