Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (1) – Adrio König

Hoofstuk 9

Die uittog uit Egipte

Dit is een van die interessantste temas in die hele boek. Ons gaan van drie kante af daarna kyk:

  • Die oorspronklike betekenis
  • Die toegepaste betekenis
  • Die Nuwe-Testamentiese verwysings

9.1 Die oorspronklike betekenis

Die uittog lê in die hart van Israel se geloof. Dit is die fundamentele gebeurtenis waarop hulle verhouding met God gebaseer is. Ons lees nie verniet oor en oor in die Ou Testament dat die Here van Egipte af (die uittog) hulle God is nie (Hos 12:10; 13:4). Ons lees selfs dat Hy Hom dáár vir die eerste keer aan Israel as Jahwe (Here) geopenbaar het (Eks 6:2). Dis die moeite werd om die geloofsbelydenis te lees wat elke Israeliet elke jaar in die tempel moes aflê (Deut 26:5-10). Die kern daarvan is die Here wat hulle uit Egipte bevry het en die land Kanaän aan hulle gegee het.

 

Dit kan dus niemand verbaas dat die volk hulle juis op die uittog beroep as hulle in nood is nie. Wanneer hulle voel dat God vir hulle kwaad is en hulle verstoot het, roep hulle: “Dink tog aan u gemeente wat U lank gelede u eiendom gemaak het, die volk wat U vir Uself as besitting verkry het” (Ps 74:1-2). Hulle is deeglik daarvan bewus dat dit nie in die uittog om hulle eie waarde en betekenis gegaan het nie, maar om die onverklaarbare goedheid van God. In Deuteronomium 7:6-8 lees ons: “Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ’n eed bekragtig het aan jou voorvaders … het Hy jou laat uittrek … ”

 

Dit het dus nie om Israel en hulle voortreflikhede gegaan nie, maar om die Here wat liefhet en getrou is en sy beloftes hou. En dit is natuurlik die oorweldigende kenmerk van die hele uittog: die inisiatief van God teenoor die dadeloosheid en selfs ontrou en opstandigheid van die volk. Die uittog word gekenmerk deur ’n reeks wonderwerke. Dit is een van die drie groot groepe wonderwerke in die Bybel bo en behalwe die skepping self en die wederkoms van Christus. Dit is trouens opvallend dat wonderwerke nie egalig in die Bybel versprei is en oral en altyd vermeld word nie, maar in hierdie drie groot konsentrasies voorkom:

  • Die uittog
  • Die vroeë profete (Elia, Elisa)
  • Jesus se aardse bediening en die vroeë kerk

 

Die wonderwerke tydens die uittog is byna sonder uitsondering die Here se reaksie op die vrees of ongeduld of opstandigheid van die volk.

  • Die Here beskik bedags ’n wolkkolom en snags ’n vuurkolom om die volk te lei (Eks 13:20-22).
  • Wanneer die volk met die see voor hulle die leërmag van die farao sien aanstorm, roep hulle in vrees uit. Dan beveel die Here Moses om die see met sy kierie oop te kloof (Eks 14).
  • Toe hulle protesteer dat hulle nie genoeg kos het nie, het die Here kwartels en manna uit die lug laat kom (Eks 16).
  • Daarna het hulle by Refidim met Moses rusie gemaak omdat daar nie water was nie. Die Here het Moses beveel om met sy kierie teen ’n rots te slaan, en toe het daar water uitgekom (Eks 17).

 

Dis interessant hoeveel negatiewe wonders ’n mens hier kry. In Jesus se bediening is daar omtrent net die vyeboom wat wonderbaarlik verdroog. Die ander is omtrent almal positiewe wonders, wonders wat red en help. Maar daar is omtrent net soveel negatiewe wonders as positiewes in die uittogsgeskiedenis.

 

Die tien plae is natuurlik wonders téén die Egiptenaars om Israel te red. Maar in die woestyn is daar heelwat wonderwerke om Israel te straf.

  • Die Here tref die volk met ’n ramp oor die goue kalf (Eks 32:35).
  • Wanneer die volk later weer in opstand is oor kos, laat die Here kwartels om hulle val wat hulle kon optel en eet (Num 11:31 ev).
  • Omdat die volk nie op die Here se tyd in Kanaän wil intrek nie, besluit die Here dat daardie hele geslag in die woestyn sal sterf voor die volgende geslag Kanaän sal intrek (Num 14:20- 35).
  • Wanneer die volk vir die soveelste keer oor kos in opstand is, stuur die Here giftige slange onder hulle in (Num 21:4 ev).

 

Dit is nie nodig om die hele geskiedenis oor te vertel nie. Die punt is reeds gemaak. Die geskiedenis van die uittog is ’n geskiedenis van die trou en die mag en die sorg van God teenoor die onmag en ontrou en opstandigheid van die volk. Hierdie volk het sy hele bestaan uitsluitlik te danke aan die uitreikende liefde van God wat nie ’n volk gesoek het wat dit werd was nie, wat trouens glad nie ’n bestaande volk gekies het nie, maar wat ’n nuwe volk geskep het, ’n groepie slawe wat nooit aan die gang sou gekom het as dit nie vir die genadige inisiatiewe van die Here was nie.  Dit beteken dat Israel nie ’n volk was wat onder andere in ’n spesiale verhouding met die Here geleef het nie, maar dat hulle niks anders was en geen ander bestaansrede gehad het nie as om die volk van die Here te wees. Hulle ontstaansgeskiedenis is ’n heerlike geskiedenis van verrassende genade.

 

Maar dit is net een kant van die saak. Daar is ’n ander kant ook, wat net so belangrik is. Van Israel se kant gesien, is dit ’n geskiedenis wat ’n mens liewer sou verswyg as jy kon, ’n geskiedenis van ontrou en opstand en mislukking. Waarom vertel Israel só ’n geskiedenis oor sy ontstaan? Volke is trots op ’n ontstaansgeskiedenis vol heldedade. Hulle soek rolmodelle om na te volg. Maar die geskiedenis wat Israel oor hulle ontstaan vertel, is alles behalwe!

 

Onthou nou radikaal kritiese teoloë wil ons laat glo dat daar eintlik nooit regtig so ’n uittog was nie. ’n Paar nomadiese stamme kon wel sekere bewegings gemaak het, en ander kon later by hulle aangesluit het, maar van een groot uittog van ’n hele volk was daar nooit enige sprake nie. Al meer groepe sou maar net later by een groep aangesluit het, en hulle sou toe verhale uitgedink het oor hulle ontstaansgeskiedenis. In beginsel is dit natuurlik moontlik dat die geskiedenis só verloop het. Maar dan moet ons aanvaar dat ’n groeiende groep gekies het om oor hulleself só ’n geskiedenis uit te dink. Dis ’n geskiedenis van mislukkings. Hulle is voortdurend in die “rooi”. Hulle is bang as die Egiptenaars aanstorm, hulle kerm elke keer oor hulle omstandighede, hulle kom in opstand teen die gesag oor hulle. En as ’n mens die geskiedenis volg tot by die uiteindelike intog in Kanaän in, is daar nie ’n enkele rolmodel om na te volg nie. Selfs die leier Moses maak dit nie. Hy moet weens ongehoorsaamheid self ook buite die beloofde land sterf. Trouens weens hulle voortdurende ontrou moet daardie hele geslag eers uitsterf voor die volgende geslag die land kon ingaan.

 

Wie dink so ’n geskiedenis uit? Dit is die geskiedenis van ’n volk wie se bestaan heeltemal van hulle God afhanklik is, ’n God wat hulle voortdurend teleurstel en krenk in sy eer. Daar kan net een rede wees waarom ’n volk so ’n patetiese ontstaansgeskiedenis oorvertel. Dit moes so ongeveer só gebeur het.

 

Die basiese gegewens van die uittog is histories betroubaar, al sal daar natuurlik baie vrae wees oor die fyner besonderhede. Die groot getalle het altyd vreemd voorgekom. Trouens vroeg in die geskiedenis van die radikale kritiek het ’n behoudende Ou-Testamentiese geleerde gesê as jy wil ontken dat daar so ’n persoon soos Moses was, sal jy ’n nuwe Moses moet uitdink om sy rol oor te neem.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König