Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (11)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (11) – Adrio König

9.3.3 Jesus se eie uittog

Ons lees en hoor elke jaar die pragtige geboorteverhale van Jesus. Maar ons vergelyk hulle selde met mekaar. Selfs as ons preke daaroor hoor, is dit óf oor Matteus, óf oor Lukas se verhaal.  Kom ons vergelyk hulle ’n keer en kyk waar kom ons uit.

Volgens Matteus 1 en 2 verloop Matteus se verhaal kortliks soos volg. ’n Engel verskyn aan Josef, Jesus word in Betlehem gebore, die sterrekykers kry die kindjie in ’n huis (nie in ’n krip nie), Josef-hulle vlug na Egipte omdat Herodes alle seuntjies onder twee jaar laat doodmaak. Na sy dood keer hulle terug. Hulle is egter bang om weer in Judea (waar Jesus in Betlehem gebore is) te gaan bly. God lei hulle dan om na Galilea te gaan, en hulle besluit om Nasaret toe te trek.

 

Lukas se verhaal lyk baie anders (Luk 1, 2). Die verhaal begin in Nasaret, Maria se tuisdorp waarvan daar nie in Matteus sprake is nie. Skynbaar begin Matteus s’n eenvoudig in Betlehem. Daar verskyn ’n engel aan Maria. Daarna besoek sy vir Elisabet iewers in die bergstreek van Juda, en bly drie maande by haar.  Daarna word Johannes eers gebore. Dan volg die volkstelling waarvoor Josef en Maria na Betlehem gaan. Daar word Jesus gebore en in ’n krip neergelê. Die skaapwagters kry Hom nog in die krip. Daarna gaan hulle Jerusalem toe om Jesus in die tempel “tot beskikking van die Here te stel”. Simeon en Anna kry hulle daar. Daarna keer hulle terug “na hulle eie dorp, Nasaret”. Hierdie hele verhaal dek omtrent ses weke van die tog van Nasaret na Betlehem en terug Nasaret toe. Die reinigingstyd vir Maria was omtrent ses weke (Luk 2:22). Maar Matteus se verhaal dek ’n paar jaar. Immers Herodes laat al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak. En dié tyd het hy noukeurig by die sterrekykers uitgevind (Matt 2:16).

 

Kom ons vat dit kort saam.

Matteus: Betlehem, Egipte, Nasaret.

Lukas: Nasaret, Betlehem, Jerusalem, Nasaret.

Natuurlik is daar mense wat die twee verhale in harmonie met mekaar probeer bring, en dis meestal uit baie edel motiewe. Dit is mense wat die gesag van die Bybel baie hoog ag – terég – en nie kan aanvaar dat daar verskille is in die Bybel nie. Hulle meen dit bots met die volmaaktheid van God. Die beste harmoniëringspoging waarby ’n mens kan uitkom, is ongeveer die volgende.

 

Matteus noem eintlik net die geboorte terloops (2:1), en spring dan oor ’n paar jaar se geskiedenis tot by die sterrekykers. Immers die sterrekykers kom skynbaar eers omtrent twee jaar ná Jesus se geboorte in Jerusalem aan. As Herodes die kindertjies wil laat doodmaak, gebruik hy die inligting wat hy “noukeurig by die sterrekykers” gekry het: twee jaar (2:16). Dit alles sou egter lank na die verhaal van Lukas plaasgevind het, want Lukas se verhaal dek net omtrent ses weke (2:22, 39).

 

Die probleme wat deur hierdie harmoniëringspoging geskep word, is egter erger as die probleme wat dit probeer oplos. Josef en die gesinnetjie moes nou na omtrent twee jaar weer teruggegaan  het van Nasaret na Jerusalem, in ’n huis gaan bly het, die sterrekykers ontvang het, en toe eers na Egipte gevlug het. En by hulle terugkoms? Volgens Matteus kom hulle terug net om ’n nuwe koning wat net so vyandig is te trotseer. Dan besluit Josef om nie in Judea te bly nie, en hulle trek/verhuis dan Galilea toe. Daar aangekom, besluit hulle om in Nasaret te gaan woon (2:21- 23). Maar dit klop glad nie met Lukas se verhaal nie dat hulle na ’n paar weke teruggegaan het na hulle eie dorp, Nasaret (2:39).

 

Aan die ander kant is daar eenvoudig nie by Lukas plek vir ’n tydperk van omtrent twee jaar, en ’n tog na Egipte tussen die tempelbesoek en die terugkeer na Nasaret nie (2:39). Genoeg. Ons sal eenvoudig moet aanvaar dat dit, om die minste te sê, nie maklik is om Matteus en Lukas se geboorte- en kinderverhale te harmonieer nie.

 

Wat dan? Dit sou die maklikste wees om te sê ons weet nie. Maar dit is tog ook moontlik om te erken dat dit twee verskillende verhale is. En dan kan ons probeer om aan elkeen reg te laat geskied. Ons staan dus vir die derde keer voor die feit dat die Evangeliste taamlik vry kon omgaan met die kleiner besonderhede van die geskiedenis, solank dit hulle boodskap gedien het. En presies wat ons nou gesê het, is belangrik. Die verskille gaan oor kleiner besonderhede, nooit oor groot en sentrale sake in die evangelie nie. Dit is nie waar dat die evangeliste byvoorbeeld verskil oor die opstanding van Jesus sodat die een vertel dat Hy opgestaan het en die graf leeg was, maar die ander een vertel dat Hy net geestelik opgestaan het en sy liggaam eintlik in die graf bly lê het nie. Die een vertel nie dat Hy gekruisig is terwyl die ander een vertel dat Hy ’n natuurlike dood gesterf het nie. Oor die sentrale sake in die evangelie stem hulle saam. Dis oor kleiner besonderhede wat hulle verskil, en meestal om hulle boodskap des te duideliker en sterker te laat deurkom.

 

En juis dit wil Matteus met sy Egipte-verhaal doen. Matteus skryf vir Jode met die doel om hulle te oortuig dat Jesus hulle beloofde Messias is. Daarom put hy hom uit om te toon hoeveel profesieë in Jesus vervul is. In elk van die eerste paar hoofstukke is daar een of meer profesieë wat vervul word. Matteus is dan ook die Evangelis wat die meeste aandag gee aan Jesus se appèl op die Jode om Hom as Messias te aanvaar. Hy beklemtoon dat Jesus net vir Israel gekom het (10:5-6; 15:24). En dit is juis ook Matteus wat die duidelikste vertel hoe Jesus uiteindelik Israel verwerp en die dissipels direk na die heidene stuur (21:43; 22:8; 23:37-39, 28:19). Dit is in hierdie Evangelie dat ons nou die verhaal oor die vlug na Egipte en die terugkeer kry (2:13-15, 19-23). En soos in elkeen van die eerste hoofstukke word ook hier verwys na ’n profesie wat vervul is, Hosea 11:1: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep” (2:15). Kyk by 7.2.2.

 

Twee vrae:

  • Die eerste is dat die woorde in Hosea nie ’n profesie is nie, maar ’n stelling wat terugverwys na die uittog.
  • Die tweede is dat Matteus vertel van Josef-hulle se vlug na Egipte, maar sy aanhaling handel oor die tog uit Egipte.

Wat die eerste vraag betref, doen Matteus dit meer kere. Net ’n paar verse verder (2:18) haal hy weer ’n stelling aan wat na Israel se geskiedenis verwys, hierdie keer tydens die ballingskap, en gebruik dit dan as ’n profesie wat in Herodes se kindermoord vervul is (2:18). Kyk by 7.2.3.

 

Dit beteken dat dié van ons wat eerbied vir die Bybel het, daarmee vrede sal moet maak dat sommige Bybelskrywers taamlik vry met Bybelse stowwe omgegaan het solank dit hulle gehelp het om hulle boodskap tuis te bring. In Matteus se geval wil hy beklemtoon dat Jesus eintlik die nuwe verteenwoordiger of selfs die nuwe gestalte van Israel is.

 

Israel het nie beantwoord aan die roeping wat God vir hulle gehad het nie. Hulle het nie die nasies aangetrek Jerusalem toe nie. Daarom gaan die Here ’n nuwe begin maak. Soos Hy oorspronklik sy volk uit Egipte gebring het, gaan Hy nou vir Jesus, sy nuwe begin, ook uit Egipte bring. Dit is die betekenis van die vlug na Egipte: Jesus moet uit Egipte terugkom en só sy eie uittog hê. Dit is dan ook juis in die Evangelie volgens Matteus dat Jesus finaal aankondig dat Israel verwerp is uit die besondere posisie in die heilsplan van God (Matt 21:43; 22:8; 23:33-37). Paulus ontwikkel hierdie gedagtes van Israel se verwerping (1 Tess 2:16) en van Jesus as die nuwe vorm van Israel. Dink maar net aan sy stelling dat Jesus die eintlike nasaat van Abraham is (Gal 3:16, kyk by 1.2.1).

 

En dit is dan juis deur Jesus dat ons, Jode en heidene, saam “die Israel van God” vorm (Gal 6:16). Dit is ook presies die gedagtegang van Paulus in Romeine 11. Net soos al die ander temas lei die uittog ons dus ook na Jesus.

  • Hy het sy eie uittog.
  • Hy is ons nuwe Paaslam.
  • Hy is die rots wat saam met Israel deur die woestyn getrek het.
  • Hy is dus die begin van die nuwe vorm van Israel wat nou bestaan uit alle mense, Jode en heidene, wat aan Hom verbind is.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König