Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (1) – Adrio König

8.3 Die verhouding Israel-kerk ná Pinkster

Dit bring byna vanselfsprekend die vraag na vore wat die verhouding dan is tussen Israel en die kerk omdat die kerk ná Pinkster hoofsaaklik uit gelowiges uit die heidene bestaan het. Daar is ’n standpunt van radikale diskontinuïteit. Dit beteken dat daar ’n absolute breuk is tussen Israel en die kerk, dat die kerk heeltemal ’n nuwe saak in die Nuwe Testament is waarvan daar geen sprake in die profesieë van die Ou Testament is nie.

Hierteenoor staan die standpunt dat daar inderdaad sterk kontinuïteit is tussen Israel (as die Godsvolk van die Ou Testament) en die kerk, maar dat hierdie kontinuïteit ’n bepaalde struktuur het waarin Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament die basis is waarop die kerk groei. Hierdie Israel is nie die huidige nasionale staat “Israel” of die Jode wat Jesus as Messias verwerp het nie.

 

Nadat ons nou net ons begrippe verduidelik het, behandel ons eers die standpunt van radikale diskontinuïteit; dus dat die kerk geen verband het met die Ou Testament nie, maar totaal nuut is.

 

Begripsbepaling

Die woord “Israel” kom in die Bybel in verskillende betekenisse voor. Voor die skeuring in die ryk word die 12 stamme “Israel”  genoem. Ná die skeuring is die Noordryk “Israel”, terwyl die Suidryk “Juda” is. Na die ballingskap van die Noordryk in 722, word dikwels weer na die Suidryk (Juda) as Israel verwys. In die Nuwe Testament is daar nog meer onderskeidings nodig. Daar is sprake van die ware Israel en die vleeslike Israel (Rom 9:6), van ware Jode en Jode na die vlees (Rom 2:28 ev), van kinders van Abraham (die ware Godsvolk) en nakomelinge van Abraham (wat nie regtig met die Here ’n verband het nie, Rom 9:6 ev).

 

In hierdie bespreking sal “Israel” hoofsaaklik in twee betekenisse gebruik word. In die eerste deel waar die verhouding Israel-kerk onder bespreking is, sal “Israel” gebruik word in die betekenis van die ware Godsvolk van die Ou Testament, die Ou-Testamentiese kinders van Abraham, en in die tweede deel waar die toekoms van Israel bespreek word, sal dieselfde betekenis geld, maar soms ook die betekenis van die huidige nasionale staat en volk wat vandag inderdaad bekend staan as “Israel”. Uit die verband sal dit telkens duidelik wees watter betekenis geld.

 

Radikale diskontinuïteit

Dit is ’n standpunt wat sterk verdedig word deur dispensasionaliste, dit is die teoloë wat ’n spesiale toekoms van Israel verwag, en veral oortuig is dat die onvervulde Ou-Testamentiese profesieë oor Israel eers in die Duisendjarige Vrederyk vervul sal word, en dan letterlik vir die herstelde volk Israel.

Hierdie teoloë praat graag van die misterie of geheimenis van die kerk en bedoel daarby dat daar niks oor die kerk bekend was voor God dit eers aan Paulus geopenbaar het nie. Hulle beroep hulle hiervoor op ’n paar uitsprake in die Nuwe Testament (Ef 3:1-6; Kol 1:24-27; Rom 16:25-26; 1 Kor 2:6-8), maar alles hang af van die betekenis van die uitspraak in Efesiërs. Hier word net kortliks hierdie standpunt oor hierdie teks weergegee. Die teks sal later breedvoerig bespreek word.

 

Efesiërs 3:1-6 Hier is sprake van ’n geheimenis wat nog nooit tevore geopenbaar was nie, en dit is dan volgens hierdie standpunt die geheimenis van die kerk. Dit sou dan beteken dat daar nooit in die Ou Testament sprake was van die kerk nie, en dat geen profesieë van die Ou Testament op die kerk betrekking gehad het of in/vir die kerk vervul is nie. Trouens die profete van die Ou Testament sou hiervolgens glad nie geweet het van die fase tussen die twee komste van Jesus, sy eerste koms en sy wederkoms nie. Hulle sou die twee komste as ’n eenheid gesien het.

Hulle sou verwag het dat die koninkryk van God in een enkele fase sou aanbreek wanneer die Messias kom en die heerlikheid herstel word wat Israel in die tyd van koning Dawid gehad het. Eers met die koms en aardse optrede van Jesus sou dit dan duidelik geword het dat die koninkryk van God in twee fases sal kom: eers die geestelike, innerlike koninkryk met die koms van Jesus en die heilige Gees en die tyd van die kerk, en ná die wederkoms die tweede, letterlike fase wanneer Israel herstel sal word en Jesus letterlik in Jerusalem op die troon van Dawid oor die hele aarde sal regeer.

 

Dit beteken dat die tyd van die kerk, die tyd waarin ons nou leef, die tyd tussen die eerste koms en die wederkoms van Jesus, ’n onverwagte tussentyd is, en dat God eers daarna sy eintlike doel bereik, om Israel te herstel. Dat hierdie tyd waarin ons nou leef, ’n onverwagte tussentyd is, is eers ná die koms van die Gees aan Paulus geopenbaar.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König