Alle Paaie lei na Jesus: Die Verhouding Ou Testament-Nuwe Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die Verhouding Ou Testament-Nuwe Testament – Adrio König

3.9 Die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament

Ons kry hier ’n belangrike insig in die verhouding tussen die Ou Testament en die Nuwe. Ons weet dat daar nie net een formule is om hierdie verhouding te beskryf nie, omdat dit ’n ingewikkelde verhouding met baie kante is (hoofstuk 6). Daar is in die verlede baie pogings aangewend om een enkele omskrywing te gebruik soos belofte-vervulling, wet-evangelie, of ’n roosknop-die volle roos (Augustinus). Maar nie een van hierdie formules kan die volle lading dek nie.

 

En juis dit kom nou sterk na vore in die siening van veral Hebreërs. Hier word die wet totaal afgemaak as waardeloos en selfs nutteloos, en die offer van Christus as die oorweldigende waarde

om aan te hang. Hier het ons dus ’n radikale breuk tussen die Ou Testament en die Nuwe, of kom ons formuleer dit netjieser. Hier het ons ’n totale breuk tussen ’n aspek van die Ou Testament en ’n aspek van die Nuwe. En so dek elke ander formule net ’n bepaalde aspek. Natuurlik is daar beloftes/profesieë in die Ou Testament wat in die Nuwe vervul word, maar alles in die Ou Testament is tog nie profesieë nie. En natuurlik stel Paulus die evangelie radikaal teenoor die wet, maar net sover dit ons verlossing raak. Verder het die wet nog altyd sy positiewe betekenis. Die Ou Testament is dus nie nét wet wat nét vervang word in die Nuwe sodat die verhouding as wet-evangelie omskryf kan word nie.

 

Daar is net een manier om te dink oor die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament, en dit is om na die spesifieke aspek te kyk wat onder bespreking is. Tussen bepaalde aspekte is daar verskillende verhoudings. Wat een aspek van die wet (lewensreël vir die volk van God) betref, is daar volkome aansluiting en voortgang tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament, maar ten opsigte van ’n ander aspek (die wet as heilsmiddel) is daar ’n absolute breuk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König