Alle Paaie lei na Jesus: Genesis 1 – 11

Alle Paaie lei na Jesus: Genesis 1 – 11 – Adrio König

Hoofstuk 4

In hierdie hoofstuk kyk ons na die skepping. Verskeie aspekte van die skepping gaan hanteer word. Ons begin met Genesis 1 – 11.

Skepping

4.1 Genesis 1-11

Een van die grootste foute wat ons met die Bybelse boodskap oor die skepping gemaak het, is om ons tot Genesis 1 te beperk en die verskeidenheid voorstellings in die res van die Bybel te verwaarloos, selfs dié in Genesis 2. ’n Verdere fout is dat ons nie die betekenis van die hele deel Genesis 1-11 raakgesien het nie. Genesis 1-11 is ’n merkwaardige deel. ’n Mens sou kon dink dit het eintlik “uit die bus geval”. Hoe pas dit in die res van die Bybel in?

 

Immers van Genesis 12 af gaan dit in die Ou Testament oor die geskiedenis van God met Israel. Maar in Genesis 1-11 is daar nog geen spoor van Israel nie. En in die Nuwe Testament gaan dit om Jesus en die kerk. Ook hiervan is daar natuurlik niks in Genesis 1-11 nie. Wat het ons eintlik hier? Ons praat graag van die oergeskiedenis. Dit is die geskiedenis vóór Israel. Dit is die begin van die wêreld en die wêreldgeskiedenis. Dit is universele geskiedenis. Hierdie stukkie universele geskiedenis pas ook nie in die struktuur van die verhale van ander volke in Israel se omgewing nie.

 

Wat is die probleem? Die ander volke se skeppingsverhale begin nie met universele geskiedenis nie, maar met hulle eie volksgeskiedenis. En dis juis wat die Bybel nie doen nie. Die ander volke het geglo hulle was die eerste mense. Die gode het hulle eerste geskep en só het die mensdom begin. Eintlik moes Genesis dus ook begin het met die skepping van Israel.

 

Maar dis juis die wonderlike betekenis daarvan dat Genesis 1-11 “uit die bus val”. Israel was die enigste volk uit daardie tyd wat nie by hulleself nie, maar by die mensdom begin het. Hulle moes dus van die begin af duidelik daarvan bewus gewees het dat hulle God nie soos die ander volke se gode ’n volksgod is nie. Die God van Israel het aan die begin, nog voor Israel bestaan het, die mense geskape. Hy is dus juis nie net die God van Israel nie, maar die God van die hele wêreld en van alle mense. As Skepper het Hy die reg op alle mense. Eeue en eeue later skryf Paulus dit so kernagtig: “Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal” (Rom 10:12).

 

’n Verdere kenmerk van hierdie hoofstukke is dat hulle handel oor dinge wat die mensdom van destyds in gemeen gehad het: verhale oor die skepping, oor ’n sondeval, ’n sondvloed, ’n toring. Die res van die Ou Testament, en ook die Nuwe Testament het in hoofsaak geskiedenisse en ander literatuur wat uniek is en geen of min verbande het met ander volke se verhale nie. Ons kom ’n bietjie verder aan terug op die ander volke se skeppingsverhale. Maar Genesis 1 – 11 is universele geskiedenis. God is van die begin af by die hele mensdom betrokke. Ons het dus in Genesis 1-11 ’n besondere boodskap: God is God van die hele wêreld, en Hy het een geskiedenis gemaak met hierdie oerwêreld. Hy was van die begin af universeel betrokke.

 

Maar ons kan ook van ’n ander kant af na Genesis 1-11 kyk. Dis interessant om ’n oomblik te dink oor die vreemdheid dat Israel skryf oor die oerbegin, die tyd nog voor hulle bestaan het. Hulle gebruik Hebreeuse name vir die eerste mense: Adam, Eva, maar Hebreeus het nog glad nie bestaan nie. En in Hebreeus het hierdie name toepaslike betekenisse. Adam kan iets soos stof of (rooi) grond beteken, en volgens Genesis 2:7 is hy uit stof/grond  gemaak. Eva is ook Hebreeus en beteken iets soos lewe. Volgens Genesis 3:20 het Adam haar só genoem omdat sy die moeder was van al die mense. Dit kon natuurlik nie regtig histories só gebeur het nie omdat Hebreeus nog nie bestaan het nie. Ons het hier dus ’n klassieke voorbeeld van ’n verhaal wat agterna geskryf is in die taal/voorstellingswêreld van ’n veel later tyd. Na die belangrike vraag oor die historisiteit van hierdie verhale sal ons later kyk.

 

Met hierdie as agtergrond gaan ons in die volgende artikel na verskillende skeppingsverhale en skeppingsvoorstellings kyk

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König