Alle Paaie lei na Jesus: God se verbond met Abraham (3)

Alle Paaie lei na Jesus: God se verbond met Abraham (3) – Adrio König

God se verbond met Abraham (3)

Daar is twee besondere sake in verband met hierdie verbond waaraan ons nou breedvoeriger gaan aandag gee:

a. die inhoud van die verbond wat ons in die vorige gedeelte gedoen het;
b. en die struktuur van die verbond

 

1.2.2 Die struktuur van die verbond

Maar behalwe die inhoud, is ook die struktuur van die verbond belangrik. Omdat dit die genadeverbond is, hou die struktuur direk verband met die evangelie. Daar is twee uiters belangrike

kenmerke van hierdie struktuur: dit is mono-pleuries, en dit is korporatief.

 

’n Mono-pleuriese verbond

Die verbond met Abraham is eensydig (mono-), maar tog ook meervoudig (-pleuries). Dit is eensydig ingestel, maar dit werk meervoudig. God het die verbond eensydig ingestel, maar sowel Hy as ons het bepaalde verpligtings in die verbond. Hy en Abraham het nie om ’n tafel gaan sit en die ooreenkoms van twee kante af uitgewerk nie. Dit is dus nie ’n onderhandelde ooreenkoms/verbond nie. Hy verskyn aan Abraham en kondig eenvoudig die verbond af (Gen 17). Dit sluit wedersydse verpligtings in, syne en Abraham s’n. Hy sal Abraham en sy nageslag se God wees, Hy sal aan Abraham ’n groot nageslag gee, en aan hom en sy nageslag die land Kanaän (Gen 17:4-8). Abraham moet die verbond hou deur hom te laat besny (17:9-10). Hierdie verpligting het regsgeldigheid sodat elkeen uit die volk wat dit nie doen nie, uit die volk uitgesluit moet word (Gen 17:14).

 

En Abraham? Hoe is hy by hierdie aankondiging van die verbond betrokke? “Abraham het op sy knieë neergeval” (17:3). Niks meer nie. Geen eie, aktiewe betrokkenheid nie. Wanneer die Here dan in ’n lang gesprek uiteindelik kom by die nageslag, en herbevestig dat dit uit Sara sal kom, val Abraham weer op sy knieë, maar hierdie keer nie in aanbidding/verwondering nie, maar omdat hy lag oor hierdie belofte. Immers Sara was al 90 (17:17) en dit was toe al byna ’n kwarteeu dat die Here keer op keer net die belofte herhaal sonder dat daar iets van kom. Eers as God klaar met hom gepraat het, reageer hy sinvol (17:22 ev).

 

Hiermee is een kant van die struktuur van die verbond vasgelê. Die Here neem die inisiatief en die mens reageer net. Dit is trouens presies hoe dit ook nog in die Nuwe Testament met God se genade werk. Hy kom in Jesus na ons toe, en ons kan net reageer. Jesus bring die groot offer aan die kruis, en ons kan dit net aanvaar en dankie sê. Ons woorde aan God is dus antwoorde, ons liefde is wederliefde, ’n antwoord op sy liefde. “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het” (1 Joh 4:19).

 

Twee sake vloei hieruit voort. Eerstens is die eensydige instelling van die verbond kenmerkend van die verhouding tussen die twee partye. Dis twee totaal ongelyke partye. Dit is dus nie vreemd dat die inisiatief net van een kant af kom nie. Daar is ’n soort ongebalanseerdheid in die verbond. Die groot en heerlike God, en ’n doodgewone mens. Maar tweedens het hierdie ongelykheid ’n belangrike implikasie. God “beskik” oor die verbond en veral oor die voortgang van die verbond. Dis sy verbond, nie ons s’n nie.

 

Dit bring die groot sekerheid in ons verbondsverhouding met God mee. Omdat Hy die inisiatief geneem het, sal Hy besluit of en hoe die verbond voortbestaan. Dis sy verbond. Dis nie Abraham se verbond met God nie, en dis prinsipieel verkeerd om só te praat. Dis ook nie die verbond tussen God en Abraham nie. Dis God se verbond met Abraham. En omdat dit sy verbond is, sal Hy besluit of dit moet voortgaan ondanks ons ontrou. Maar juis dit bring ons by ’n nuwe faset: die geskiedenis van die verbond. Die Ou Testament is oorwegend ’n geskiedenis van Israel se ontrou aan Hom en hulle verbondsverbreking. Israel is nie die troue bondgenoot nie. Israel is veel meer ontrou as getrou. Die Here moet hulle veel meer straf as seën. Sy doel met die verbond, dat Hy sy troue bondgenoot só sal seën dat die volke na Jerusalem sal stroom om Hom daar saam met Israel te kom dien (Jes 2:2-5; Ps 22:28 ev), is nie bereik nie. Die teendeel is eerder waar. Weens Israel se voortdurende ontrou en die oordele van die Here oor hulle is die Naam van God onder die heidene gespot (Eseg 36:16-23).

 

Nogtans hou God eeue lank met hulle aan. Selfs die ballingskap is nie die einde nie. Hy bring hulle terug. Waarom? Omdat die verbond uit en uit sy inisiatief is. Hy laat nie die werk van sy hande vaar nie (Ps 138:8). Hy bly getrou tot in ewigheid. Selfs al word dit ’n totale krisis, want óók ná die terugkeer het Israel nooit weer regtig vir Hom aan die gang gekom nie, en tog staan die deur na die ewige lewe nog altyd vir hulle oop, al word hulle uiteindelik verwerp uit die spesiale posisie wat hulle beklee het (hoofstuk 8.2).

 

Jesus

In reaksie op hulle voortdurende ontrou, doen God uiteindelik ’n aangrypende ding. Daar is twee kante aan die verbond, elkeen met bepaalde verpligtings: God se kant, en ons kant. In die tyd van die Ou Testament kom Hy sy kant getrou na, maar Israel faal Hom oor en oor. Dan waarsku Hy hulle, roep hulle terug, straf hulle as hulle nie wil luister nie, en vergewe hulle as hulle berou het. Dis ’n deurlopende patroon in die Ou Testament. Maar daar kom ’n krisispunt. Wat gehoorsaamheid, liefde en trou betref, stort Israel heeltemal in duie. En dan stuur God sy Seun. Alhoewel Hy aanvanklik ook as Profeet optree en ernstig probeer om Israel terug te roep na God toe, word dit gou duidelik dat Israel ook vir Hom gaan verwerp, soos die profete voor Hom.

 

Dan kom ’n ander faset van sy bediening na vore. Trouens iets daarvan blyk al by sy doop waar Hy verklaar dat Hy gedoop moet word al was dit eintlik heeltemal “onvanpas” omdat Johannes sondaars gedoop het wat hulle bekeer het. Waarom dan sy doop? “Om alle geregtigheid te vervul” het 1953 se vertaling gelui. Vertalings en kommentare verskil baie oor wat dit beteken, en dis inderdaad ’n moeilike uitdrukking. Maar vir wie het Jesus “alle geregtigheid” kom vervul? Tog nie vir Homself nie. Hy het klaar alle geregtigheid voor God. Maar ons het nie. Sou sy doop beteken dat Hy Hom reg van hierdie begin van sy openbare bediening af met sondaars vereenselwig, en nie eers aan die kruis nie, dat Hy dus nie net in ons plek gesterf het nie, maar óók in ons plek gedoop is en geleef het?

 

Inderdaad kom Jesus God verteenwoordig. Hy sit God se liefdestrou voort. Hy wys ons wat in God se hart vir ons om gaan. Maar die merkwaardige feit is nou dat Hy ons ook verteenwoordig. Hy kom wys ons wat God met mense bedoel het, hoe mense behoort te lyk/leef. Hy kom leef en sterf in ons plek. Dit beteken dat God in Jesus nie net sy eie kant van die verbond vervul nie, maar óók ons kant. Terwyl daar ’n duidelike grens is tussen God en mens (hoofstuk 4.3), kom Hy oor die grens en vervul ook ons kant van die verbond. Só radikaal is God in sy besluit dat die verbond nie deur ons mense se ontrou tot niet gemaak sal word nie.

 

Dit is die wonderlike betekenis daarvan dat God ’n eensydige verbond aangegaan het, ’n verbond waarin Hy die volle inisiatief geneem het en steeds neem. En dit maak ons bestaan as mense ’n geborge bestaan. Ons is nie alleen nie. Daar is Iemand. En dié Iemand maak ’n verskil.

 

’n Korporatiewe verbond

Die ander belangrike kenmerk van die verbond is dat dit korporatief is. Dit beteken ’n paar dinge. Dit gaan om groepe, maar die groepe word verteenwoordig deur een persoon. Ons moet God se aankondiging met Abraham soos volg lees: “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou-en-jou-nageslag-en-al-hulle geslagte” (Gen 17:7). “Ek gee aan jou-en-jou-nageslag die land” (17:8). Abraham en sy nageslag is ’n eenheid. Abraham verteenwoordig hulle, maar sluit hulle ook korporatief in hom in. God maak nie met Abraham ’n verbond en maak dan agterna met elkeen van sy nakomelinge dieselfde verbond nie. Daar is een maal met Abraham-en-sy-nageslag ’n verbond gemaak, en daarom word sy nageslag in die verbond gebore en moet, wanneer hulle groot word, die verpligtings van die verbond aanvaar. Omdat hierdie verbond deurloop tot in die Nuwe Testament, is ons nog steeds deel van hierdie verbond, is Abraham ook ons vader, en lyf die doop nog altyd mense in hierdie verbond in (Rom 4:16; Gal 3:29).

 

Maar hoe is dit moontlik? Ons is nie Jode nie. Was hierdie dan nie ’n verbond met die Jood Abraham sodat net Jode deel hiervan is nie?

 

Twee sake. Onthou eers dat dit nie waar is dat alle Jode deel gehad het aan God se verbond met Abraham nie. By herhaling onderskei Paulus tussen Jode wat wel daaraan deel gehad het, en ander Jode. “Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie … Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is” (Rom 2:28-29). “Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie” (Rom 9:6). Trouens ons ken hierdie skeiding reg van die begin af. Alreeds by die verbondsluiting is daar sprake van nakomelinge wat uitgesluit sal word as hulle nie die verpligtings nakom nie (Gen 17:14).

 

Dan die tweede saak: Daar was altyd plek vir nie-Jode in die verbond. Abraham was self ’n nie-Jood toe hy ingekom het. Mense kon altyd van buite af inkom as hulle soos Abraham Israel se God in geloof aanvaar het. Trouens dit was die eintlike doel van God met Abraham: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen 12:3).

 

Dit is Israel se aanhoudende ontrou wat veroorsaak het dat dit later gelyk het of die verbond met Abraham ’n geslote eenheid was. In werklikheid was dit ’n oop verhouding waarin daar beweging in en uit was. Daar was beweging in die verbond in. God se doel was dat die volke na Jerusalem sou stroom om Hom daar saam met Israel te kom dien (Ps 22:28-29; Jes 2:2-5; Jer 3:17; Sag 8:23). Daarom word Abraham later genoem die vader “van almal wat glo al is hulle nie besny nie” (Rom 4:11).

 

Maar aan die ander kant het God nooit bedoel dat alle Jode net omdat hulle Jode is, deel van die verbond sou wees nie. Hy het Abraham aanvaar/geregverdig omdat hy geglo het (Gen 15:6). Daar om is hy óók die vader “van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het … ”(Rom 4:12). Hy was nooit die vader van alle besnedenes nie! In die Nuwe Testament radikaliseer God nou deur Jesus die oopheid van die verbond. Veral Paulus ontwikkel dit met sy nadruk op die Abrahamverbond as die genadeverbond wat deur Jesus bevestig is. Dis merkwaardig hoe Paulus dit verstaan. Een van die skynbaar moeilikste uitsprake in Paulus se briewe is Galasiërs 3:16: “God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie ‘aan nakomelinge’, meer as een nie, maar: ‘en aan jou nakomeling,’ net een, en hierdie nakomeling is Christus.”

 

Vroeër in hierdie hoofstuk het ons hierop ingegaan. Die punt wat nou hier belangrik is, is dat die deure hiermee wyd oopgegooi is vir almal wat op Jesus Christus vertrou. “Deur Jesus Christus kan ook ons wat nie Jode is nie, deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het” (Gal 3:14). Hierdie “seën” is, net soos “die belofte”, sinoniem met die verbond. Deur die doop word ook ons nakomelinge van Abraham (Gal 3:29) en dus in die verbond met Abraham opgeneem.

 

In Genesis 12-17 praat die Here dikwels met Abraham oor sy nageslag. Maar Paulus maak dit nou “nakomeling”. Tegnies is dit moontlik, want die Hebreeus vir “nageslag” is eintlik “saad” en is dus ’n enkelvoud wat ook een nakomeling kan beteken. Abraham se nageslag het in elk geval met net een begin: Isak. Maar hierdie nageslag het misluk, Israel was volhardend aan die Here ontrou. En nou begin ’n nuwe nageslag, weer met net een nakomeling: Christus. En weer sal dit ’n nageslag word soos die sterre aan die hemel en die sand aan die see. Hierdie keer gaan dit om almal wat deur die doop met Christus verenig word en só deel kry aan die verbond met Abraham (Gal 3:26-29). Deur

die doop word ons, net soos Israel in die Ou Testament deur die besnydenis, “nakomelinge van Abraham” en kry ons deel “aan die seën (verbond) wat God aan Abraham toegesê het” (Gal 3:14,

29). Wanneer God ons seën, “seën Hy ons saam met die gelowige Abraham” (3:9). Abraham is immers die vader van al die gelowiges (Rom 4:16).

 

Dit beteken dat die verbond ons op ’n merkwaardige manier na Christus lei, soos alle ander “paaie”.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König