Alle Paaie lei na Jesus: Het alles presies so gebeur?

Alle Paaie lei na Jesus: Het alles presies so gebeur? – Adrio König

4.7 Het alles presies só gebeur?

Dit lyk of die twee skeppingsverhale nie noukeurige beskrywings is van hoe God alles geskep het nie. ’n Hele paar trekke van die verhale wys in hierdie rigting. “Adam” en “Eva” is Hebreeuse name terwyl Hebreeus maar ’n jong taal was. Eers van Genesis 12 af is sprake van Abraham uit wie God dan Israel laat voortkom het. Eers daarna kon Hebreeus ontstaan het.

Wat die eerste verhaal betref, is die spesifieke vaste, herhalende struktuur ook opvallend, en net so die skepping in een week. Dit kom nooit weer in die Bybel voor nie, ook nie die spesifieke volgorde waarin die dinge geskep is nie, en dit alles terwyl daar baie ander verwysings en selfs breedvoerige besprekings van die skepping is. Dink maar net aan Psalm 74, 104, Job 38.

 

’n Mens sou kon oorweeg dat die skrywer die model van die werk gebruik terwille van die simboliek van werk. God het gewerk toe Hy geskep het. Daarom eindig die verhaal ook met die Sabbat. Ná die werk het Hy gerus, as ’n voorbeeld vir die volk om die Sabbat te hou.

 

Dit is ook duidelik dat beide verhale met ’n baie beperkte, verkleinde begrip van ruimte en tyd werk. Wat die ruimte betref, het ons ’n baie klein heelal met die sterre wat kleinerige liggies is wat nie te ver bokant die aarde nie, aan die vaste blou koepel hang. Wat die tyd betref, is die voorstelling dat die skepping nie té lank gelede kon plaasgevind het nie. Die geslagsregisters wat deel van Genesis 1-11 is, kom maar op ’n paar duisend jaar uit.

 

Net soos die skeppingsvoorstellings, deel die Bybelskrywers hierdie voorstellings met die ander godsdienste. Ook in hierdie opsig wou hulle dus nie ’n eie bedrae lewer nie. Hulle vertel van die skepping in die terme wat tot hulle beskikking is. Dit alles word bevestig deur die feit dat daar verskillende skeppingsvoorstellings is, en wat nog belangriker is, dat daar van dieselfde dinge geskryf word dat hulle op verskillende maniere geskep is. Dink maar net aan die gewelf, die ligte, die see diere en die diere op aarde in Genesis 1. In elke geval het God beveel dat hulle moet bestaan én het Hy hulle gemaak/geskep. Verder het ons elders gelees Hy het die hemelliggame deur sy woord geskep én met sy hande. En ook dat Hy die fondamente van die aarde en die hemelkoepel met sy hande gemaak het, maar ook deur sy woord tot stand gebring het. Dit kan net beteken dat die skrywers nie in die eerste plek wou beskryf presies hoe alles geskep is nie. En dit volg duidelik uit die skeppingsgedeeltes. Hulle gebruik dieselfde skeppings-voorstellings wat die ander godsdienste gebruik. Hulle suiwer wel hier en daar voorstellings uit wat nie pas by die verhouding tussen God en die skepping nie (stryd, geboorte). Maar vir die res is dit ook nie nodig om ander voorstellings te gebruik nie omdat niemand twyfel dat alles geskep is nie, en die godsdienste dieselfde voorstellings gedeel het. Die vraag was net: Wie het geskep? En die antwoord is duidelik in die Bybel: Israel se God is die enigste ware God, en daarom spreek dit eintlik vanself dat Hy die Skepper is. Hierdie agtergrond sal ons help om oor vorms van evolusie na te dink.

 

Maar ons kry ook skeppingsverhale elders in die Bybel. Volgende keer kyk ons na die psalms, die profete en die wysheidsliteratuur.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König