Alle Paaie lei na Jesus: Israel en die volke in die aardse bediening van Jesus

Alle Paaie lei na Jesus: Israel en die volke in die aardse bediening van Jesus – Adrio König

8.2 Israel en die volke in die aardse bediening van Jesus

Ons moet duidelik onderskei tussen die tyd van Jesus se aardse bediening, en die tyd ná sy opstanding en die koms van die Gees.

Tydens sy aardse bediening sluit Jesus in baie opsigte direk aan by die Ou Testament. Jesus word dikwels ’n profeet genoem (Matt 21:11, 46; Mark 6:15; Luk 7:16; 24:19; Hand 3:22 ev; 7:37). Hy word selfs dié profeet genoem (Joh 6:14), wat beteken dat Hy die groot profeet was wat Israel in die eindtyd verwag het (Deut 18:15-22).

 

Hierdie titel “profeet” sê meer oor die aard en doel van Jesus se aardse bediening as wat ons gewoonlik dink. Net soos Johannes die Doper sluit Jesus direk aan by die profete van die Ou Testament wat die volk opgeroep het om hulle te bekeer. Sowel Johannes as Jesus preek bekering (Matt 3:2; 4:17). Beide beperk hulle tot Israel. Jesus beklemtoon dit selfs: “Moenie met ’n pad na die heidennasies afdraai nie … ” (Matt 10:5), “Ek is net na die verlore skape van die huis van Israel gestuur” (Matt 15:24).

 

En die sending? Onthou ons is tydens Jesus se aardse optrede in ’n sekere sin nog in die Ou Testament. Sowel Johannes die Doper as Jesus tree op as Ou-Testamentiese profete wat die volk na die Here toe terugroep sodat die Here hulle kan begin seën en die volke uiteindelik sal naderstroom om te kom kyk wat in Jerusalem aangaan en dan dáár saam met Israel die Here begin dien (Jes 2:2-5). Dit was die Ou Testament se sendingmetode. Die Here het al aan Abraham beloof dat Hy alle volke in hom sal seën.

 

Toe dit teen die einde van Jesus se bediening al duideliker begin word dat Israel ook na Hom nie wil luister nie, het Hy met skerp waarskuwings probeer om hulle tot besinning te roep, en hulle selfs begin dreig dat God hulle gaan verwerp uit hulle unieke verhouding met Hom. “Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ’n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer” (Matt 21:43). Hierdie dreigement word ’n oordeelsaankondiging: “Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat” (Matt 23:38). Die kruisiging word die finale breuk omdat dit die uiterste vorm was waarin die volk dié Profeet van God kon verwerp.

 

En dan eers, ná die opstanding, kom die radikale wending na die nuwe benadering: “Gaan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels” (Matt 28:19). Dit lui die finale fase in van God se betrokkenheid by alle nasies. Eers was Hy direk by alle mense betrokke (Gen 1-11). Toe wou Hy deur Israel by alle volke betrokke wees (Gen 12 – Matt 28). En nou wil Hy deur die heidene wat tot geloof kom, vir Israel terugwen, en só by die hele wêreld betrokke wees.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König