Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (1) – Adrio König

11.2 Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge

Maar daar is temas wat ons na Jesus lei juis omdat hulle vasgeval het en nie hulle doel bereik het nie. Die opvallende voorbeelde is die mens en die volk Israel, en dan die skepping self.

11.2.1 Die mens (hoofstuk 5)

Ons is bedoel om God se beeld te wees, om mense aan Hom te herinner en na Hom te lok. Maar dit het nie gewerk nie, of liewer ons het nie in ons doel geslaag nie. Dit is die herhaalde storie van die Ou Testament: Adam, Noag, Israel. Ons het deur ons sonde van ontrou en ongehoorsaamheid eerder mense se uitsig op God verdof en verdraai. En daarom het God ’n nuwe voorbeeld aan ons gegee van wat Hy met ons bedoel het: die Mens Jesus. Hy is die beeld van God (2 Kor 4:4; Kol 1:15; Heb 1:3). In Hom kan ons dus sien hoe God lyk.

 

Maar Jesus het ons nie opsy geskuif en vervang en in ons plek gekom soos die tempelkultus nie. Hy is nie eksklusief die beeld van God nie. Hy kom ons wys wat God met ons bedoel het. En dan kom verander Hy ons vasgeloopte lewe sodat ons inderdaad God se doel met ons kan bereik – deur Hom. Dit beteken dat ons onherroeplik aan Jesus vasgekoppel is. Ons word met Hom verenig deur die doop en die geloof, soveel so dat Paulus kan skryf “Christus is ons lewe,” en weer: “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Kol 3:4; Gal 2:19-20).

 

Daarom is daar soveel oproepe in die Nuwe Testament dat ons “soos Jesus” moet wees. Hy los ons dus nie eenkant nie, Hy vat ons saam. Saam met Hom kan ons inderdaad God se wil vir ons lewe bereik.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König