Alle Paaie lei na Jesus: Jesus se houding teenoor die wet

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus se houding teenoor die wet – Adrio König

3.3 Jesus se houding teenoor die wet

Ons het na die wet in die Ou Testament en die Jode se interpretasie van die wet gekyk. Maar wat was Jesus se houding teenoor die wet?

In die Nuwe Testament kom die “wet” in ’n hele paar betekenisse voor. Dit kan na die eerste vyf boeke verwys, of na die Tien Gebooie, of na bepaalde dele van die eerste vyf boeke soos byvoorbeeld in Hebreërs waar dit verwys na die tempelkultus (tempel, priesters, offers). Jesus se houding teenoor die wet is nie so eenvoudig nie. Hy is baie positief oor die wet, maar nie sonder voorbehoud nie.

 

Daar is geen twyfel nie dat Hy die wet hoog geag het. Hy verklaar uitdruklik dat Hy nie gekom het om die wet ongeldig te maak nie, maar inteendeel, om die wet sy volle betekenis te laat kry (Matt 5:17 ev). Nie eens die kleinste deeltjie van die wet mag wegval nie, en sy volgelinge moet getrouer aan die wet wees as die skrifgeleerdes en Fariseërs. Dit is nogal baie gevra, want dit was juis hulle wat die wet so stiptelik probeer nakom het. ’n Mens kan selfs wonder hoe sy volgelinge dit ooit sou kon reg kry.

 

Maar as jy verder in die Bergrede lees, word dit duidelik. Jesus kritiseer of herroep of verander nie in die Bergrede die wet nie. Hy radikaliseer die wet. Dit is immers sy verklaarde oogmerk: om die wet sy volle betekenis te laat kry. Dit beteken in sy letterlike vorm in die Ou Testament het die wet nog nie regtig tot sy reg gekom nie. Dis juis wat die skrifgeleerdes en Fariseërs nie gedoen het nie. In plaas daarvan om by die kern van die wet, by sy geestelike betekenis, te kom, het hulle die wet veruiterlik en verletterlik.

 

Selfs al in die tyd van die Ou Testament was daar sprake daarvan om alles waarop dit in die wet neerkom, kernagtig saam te vat. Dáár lees ons alreeds dat ons die Here met hart en siel en al ons krag moet liefhê, en elders dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (Deut 6:5; Lev 19:18). Die skrifgeleerdes het self hierdie samevatting van die wet geken (Luk 10:27), maar dit is nie die pad wat hulle met die wet geloop het nie. Inteendeel, hulle kon selfs ’n manier ontwikkel waarop ’n kind liefde en hulp aan sy ouers kon weier sonder om te voel hy of sy het die wet oortree (Mark 7:9-13).

 

Maar Jesus kom in die Bergrede tot die werklike diepte en geestelike betekenis van die wet. Die wet lui letterlik: Jy mag nie doodslaan nie. Maar Jesus sê jy kan met jou woorde iemand vermoor. Die wet lui letterlik: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, maar Jesus sê jy hoef dit nie net letterlik te doen nie, jy kan in jou hart onrein wees (Matt 5:21-30). Ook wat die reinheidswette betref, was Jesus se standpunt dat dit meer oor die innerlike as oor die uiterlike gaan. Oor rein en onrein kossoorte was sy siening dat dit wat jou onrein maak, nie die kos is wat in jou ingaan nie, maar eerder dit (die woorde) wat uit jou uitkom, omdat dit wys dat daar kwaad binne-in jou  is (Mark 7:14-23). Tereg skryf Markus dat Jesus daarmee alle kos rein verklaar het (7:19).

 

Verder het Jesus natuurlik nog volkome binne die wet geleef. Hy het die tempel gerespekteer, trouens dit juis ernstiger geneem as die skrifgeleerdes en Fariseërs wat die handelaars daar toegelaat het, terwyl Hy die tempel as ’n gebedshuis beskou het en dit daarom gereinig het (Matt 21:12 ev). Hy het die priesters en die offers gerespekteer. Hy het melaatses wat Hy gesond gemaak het, na die priesters gestuur, en voorskrifte oor offers gegee (Luk 16:14 ev; Matt 5:23-24). Hy het tydens die feeste Jerusalem besoek, en gelykenisse vertel van mense wat in die tempel bid (Joh 2:13; 5:1; 7:10-11; Luk 18:9-14).

 

’n Mens moet onthou dat Jesus nie ’n Christen was nie, maar ’n Ou-Testamentiese Joodse gelowige. Selfs sy volgelinge was tot laat in Handelinge nog steeds niks anders nie as Jode wat hoofsaaklik van die ander Jode verskil het in hulle geloof dat die Messias alreeds gekom het. (Natuurlik het dit groot implikasies gehad vir die wyse waarop hulle die Ou Testament verstaan het.)

 

Dat die Messias gekom het, is dan ook die groot boodskap van Paulus as hy op sy sendingreise in elke stad eers die Jode in die sinagoges gaan toespreek het. Hy het hulle uit die Skrif (die Ou Testament) probeer oortuig dat Jesus die Messias (Christus) is wat hulle verwag het (Hand 17:1-3; 18:5). Was Jesus aan die ander kant ook krities teenoor die wet? Of was Hy krities teenoor die wyse waarop die skrifgeleerdes en Fariseërs die wet geïnterpreteer en toegepas het? Hy bots herhaaldelik met hulle oor die Sabbat. Maar telkens blyk dit Hy is nie teen die viering van die Sabbat nie, maar Hy is daarteen dat die letterlike uitvoering van die Sabbatsgebod in die weg staan van menslikheid en hulp aan mense in nood. Omtrent elke botsing oor die Sabbat vind plaas nadat Hy deur ’n wonderwerk iemand genees of gehelp het (Luk 13:10 ev; 14:1-6; Joh 5:1-17; 9:13 ev). Hy is dus al weer by die kern van die wet, by die “geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matt 23:23) teenoor die wettiese, letterlike nakoming daarvan.

 

Daar is nog ’n goeie voorbeeld van die feit dat Jesus nie negatief oor die wet was nie, maar oor die skrifgeleerdes en Fariseërs se interpretasie van die wet. In ’n hoofstuk met snydende kritiek op hulle wetsinterpretasie, wys Jesus op die volgende: Hulle “gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat hulle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matt 23:23). Ons lees in Numeri 18:12 en Deuteronomium 14:23 dat Israel  tiendes moes gee van hulle koring en wyn en olie (die land bouprodukte) en ook die eerstelinge van hulle grootvee en kleinvee. Maar intussen het die skrifgeleerdes toe sommer al die onbelangrike tuinkruie ook bygevoeg in hulle ywer om die wet nog strenger en strenger te maak sodat hulle al meer verdienste by God kan verwerf. Maar hierdie krampagtige “verfyning” van die wet het die allergrootste gat in die wet geskeur, want die essensie, die kern, die hart van die wet het in die slag gebly:

  • Die geregtigheid, dit is om reg te laat geskied aan mense in nood.
  • Die barmhartigheid, dit is om méér te doen as net reg te laat geskied, om ook goed te wees vir ander en hulle te help.
  • Die betroubaarheid, dit is dat mense op jou kan reken.

 

Dit is die probleem met alle mense wat alles tot in die fynste besonderhede wil uitwerk. Hulle verloor die geheel uit die oog. Die Engelse sê: “For the trees they cannot see the wood.” Daarteenoor staan die nadruk van Jesus. Telkens gaan dit oor die kern, oor die beginsel.

  • “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete” (Matt 7:12).
  • “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. En jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:37 ev).
  • “Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (Joh 13:34).
  • “Wat volgens die wet van God die swaarste weeg, is geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matt 23:23).

 

Mense wat tog probeer aantoon dat Jesus krities teenoor die wet was, wys graag op Lukas 16:16. Hulle meen dat Jesus hier die einde van die wet aangekondig het. (“Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig.”) Maar dit kan ook net beteken dat daar by Johannes ’n nuwe tydperk begin, die tydperk waarvan die koninkryk en Jesus self eintlik die middelpunt is. Maar ons weet mos dat die wet nog vir Hom gegeld het.

 

Daar is egter wel hier en daar opmerkings van Jesus wat sekere bepalings van die wet buite werking stel. So skryf Jesus ’n bepaling van die wet aan Moses toe en trek dit terug. Moses het die mans toegelaat om van hulle vrouens te skei, maar dit was omdat hulle sulke harde harte gehad het. Jesus laat dit egter nie verder toe nie behalwe in die geval van owerspel (Matt 19:7 ev). En andersyds het Jesus se optrede natuurlik daartoe gelei dat sy volgelinge later heelwat van die wet eenvoudig as agterhaald beskou het, soos die tempeldiens, die priesters, die offers (Hebreërs!). Maar Jesus self het dit nog nie tydens sy aardse bediening gedoen nie.

 

Ons het vroeër al opgemerk dat Jesus nie ’n Christen was nie, maar ’n Jood. Ons het nou daarby geleer dat Hy as Jood getrou was aan die wet, maar die wet op ’n veel dieper vlak as die Jode van sy tyd verstaan het. Wat Jesus gedoen het, veral aan die einde van sy lewe in sy kruis en opstanding, het veroorsaak dat daar uiteindelik ’n nuwe vorm van die Joodse godsdiens ontstaan het: die Christendom.

 

Ons gaan in die volgende artikel kyk na die wet in Handelinge.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König