Alle Paaie lei na Jesus: Herhaalde vervullings

Alle Paaie lei na Jesus: Herhaalde vervullings – Adrio König

7.4 Herhaalde vervullings

Daar is nog een belangrike saak oor profesieë. Daar is ’n radikale verskil tussen profesieë en voorspellings. ’n Voorspelling moet letterlik uitkom, en ’n voorspelling geld net vir een keer. Ons ken die weervoorspellings. As die voorspelling lui dit gaan Maandag baie in Limpopo reën, geld die voorspelling nie vir Dinsdag en al die ander dae van die week nie, en ook nie vir Mpumalanga nie. As dit Maandag baie in Limpopo reën, het die voorspelling uitgekom, en dan gaan hy “dood”, het hy sy verdere krag verloor. Maar as dit Maandag net ’n bietjie, of dalk glad niks in Limpopo reën nie, het die voorspelling nie uitgekom nie. En dit het ook nie uitgekom as dit Maandag net in die Noord-Kaap baie reën, of eers Dinsdag in Limpopo nie.

Ons het heelwat sulke voorspellings in die Bybel, veral in 1 en 2 Konings. Hier onder verskyn ’n aantal van hierdie voorspellings, en hulle uitkoms verskyn in die tweede kolom.

Voorspelling Uitkoms

1 Kon 11:29-39                   1 Kon 12:15-20

1 Kon 13:1-2                       2 Kon 23:15-20

1 Kon 14:1-16                     1 Kon 14:17-18 en 15:29

1 Kon 16:1-4                       1 Kon 16:11-12

1 Kon 21:17-24                   2 Kon 9 en 10

1 Kon 22:17                         1 Kon 22:29-37

 

Dit is opvallend dat voorspellings ’n heel beperkte waarde het en nie regtig ’n invloed het op die groot lyne van die heilsgeskiedenis nie. Daarteenoor word die gang van die heilsgeskiedenis beslissend bepaal deur die vervulling van profesieë.

 

Anders as voorspellings, word profesieë nie letterlik vervul nie, maar baie vry en verrassend. Dit het ons nou klaar gesien. Maar nog weer ’n keer anders as voorspellings wat net een keer uitkom en dan “doodgaan”, word profesieë dikwels meer as een keer vervul, en verloor hulle nie hulle krag ná hulle vervulling nie. Daar is talle voorbeelde van die herhaalde vervulling van dieselfde profesie.

  • Die Immanuel-profesie (Jes 7:14) is eers in die tyd van Agas vervul (Jes 7:15-16) en toe ’n tweede keer in die geboorte van Jesus (Matt 1:22-23).
  • Die profesie in Sagaria 12:10 is eers vervul in die kruisiging (Joh 19:37), en die tweede keer sal dit in die wederkoms van Jesus vervul word (Matt 24:30 en Op 1:7).
  • Maleagi 3:1-2 is vervul deur die optrede van Johannes die doper (Mark 1:2), en dit sal weer in die eindoordeel vervul word (Op 6:17).
  • Joël 2:28-32 is vervul in die uitstorting van die Gees (Hand 2:16 ev) en dit sal weer in die eindoordeel vervul word (Op 9:1 ev).

 

Dan is daar nog die bekende profesie oor die dag van die Here wat eenvoudig oor en oor vervul is byvoorbeeld:

  • In die val van Jerusalem (Eseg 13:5; Klaagl 1:12; 2:1, 22),
  • In die optrede van Johannes die doper (Mark 1:2),
  • In Jesus se optrede (vergelyk Luk 4:16-21 met Jes 61:1-2),
  • In sy wederkoms (2 Pet 3:12; Op 16:14) om nie eens te noem van die eerste dag van die week nie (Op 1:10).

 

As ons nou terugkyk na hierdie hoofstuk, is dit duidelik dat die profesieë wat ons behandel het, almal betrekking het op Jesus en sy werk deur die Gees. Dit is die belangrike profesieë, omdat Jesus die belangrike Een is.

 

1. ’n Groot deel van hierdie hoofstuk het verskyn in ’n Perspektief op Openbaring,2009, CUM.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König