Alle Paaie lei na Jesus: ’n Verskeidenheid verhoudings tussen die twee Testamente

Alle Paaie lei na Jesus: ‘n Verskeidenheid verhoudings tussen die twee Testamente – Adrio König

6.3 ’n Verskeidenheid verhoudings tussen die twee Testamente

Wat is regtig die verhouding tussen die Ou Testament en die Nuwe? Daar is ’n hele paar tradisionele voorstelle.

  • Profesieë-vervulling. Die Ou Testament is die profesieë/beloftes, en die Nuwe Testament die vervulling.
  • Wet-evangelie. Die Ou Testament is die wet, maar die Nuwe die evangelie.
  • Toorn-liefde. In die Ou Testament gaan dit om die toorn/oordeel van God, en in die Nuwe om sy liefde.

 

Dit is almal verhoudings wat ’n klein stukkie waarheid beet het, maar eensydig is. Natuurlik is daar profesieë in die Ou Testament, maar daar is oneindig meer as net profesieë. En natuurlik is daar in die Nuwe Testament vervulling van profesieë, veral in Jesus se lewe, maar daar is Briewe oor hoe ons die evangelie moet verstaan, en Evangelies oor wat Jesus gesê en gedoen het, wat nie noodwendig vervulling van profesieë is nie – om maar net ’n paar dinge te noem.

 

En natuurlik het ons die wet in die Ou Testament, maar daar is nog ’n keer oneindig meer. Maar ons het die wet ook in die Nuwe (kyk na hoofstuk 3 oor die wet). Ook die toorn-liefde-model is te eenvoudig. Ons het óók in die Ou Testament heerlike hoofstukke oor die liefde van God, soos Hosea 11, en in die Nuwe nog steeds skerp oordeelsuitsprake soos Matteus 23.

 

Uit die geskiedenis is die siening van Augustinus goed bekend: Die Nuwe Testament is implisiet (latent, sluimerend) in die Ou Testament teenwoordig, en die Ou Testament is eksplisiet (uitgesproke, duidelik) in die Nuwe Testament teenwoordig. Iemand anders het gesê: Die Ou Testament is die roosknop en die Nuwe Testament die pragtige roos wat oopgegaan het. Christene is lief om sulke lekker opwindende formules uit te dink, maar in die meeste gevalle dek dit eenvoudig nie die volle lading nie. Dit sal duidelik word uit die volgende bespreking. Dit sal blyk dat die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament baie ingewikkelder is en veral nie met een enkele formule uitgedruk kan word nie.

 

Ons moet van ’n paar kante af na die saak kyk.

  • Tussen bepaalde sake in die twee Testamente is daar verskillende verhoudings.
  • Binne elke Testament is daar oorgange.
  • En dit is ’n vraag of ons in die geheel die twee Testamente as twee eenhede met mekaar kan vergelyk.

 

Verskillende verhoudings

Tussen bepaalde sake in die twee Testamente is daar verskillende verhoudings

  • Verryking: In die Ou Testament is God die Skepper. In die Nuwe word Christus saam met die Vader as Skepper bely (oa Joh 1:1-3). Dit beteken die skeppingsboodskap van die Ou Testament word verryk in die Nuwe.
  • ’n Skerp breuk en ’n vergeesteliking: Daar is ’n ryk verskeidenheid offers in die Ou Testament. Maar die hele sisteem word in die Nuwe Testament opgeskort en vervang deur die een unieke offer van Christus (Hebreërs). Hier pas net een woord: Breuk, diskontinuïteit. Intussen is daar egter ook ’n soort vergeesteliking van die offers. Christene word opgeroep om hul lewens as heilige offers aan God te wy (Rom 12:1). Presies dieselfde gebeur natuurlik ook met die tempel. Dit verloor sy betekenis, Jesus word self die tempel (Joh 2:21), en die gelowiges word die geestelike tempel van die Gees (1 Kor 6:19).

 

Jesus se eie optrede lewer nog heelwat ander interessante perspektiewe op.

  • Kontinuering: Daar is ’n sin waarin Hy eenvoudig die Ou Testament voortsit. Hy tree tydens sy lewe op aarde veral as ’n Ou-Testamentiese profeet op wat die volk dringend oproep tot bekering. En as dit teen die einde van sy lewe duidelik word dat hulle nie luister nie, dreig Hy hulle met die oordeel van God (Matt 1:21; 10:5-7; 15:24; 21:33-46; 22:1-14; 23:37 ev). (Kyk na hoofstuk 8.2 oor Jesus se aardse bediening.)
  • Vervulling: Jesus vervul ’n onnoemlike aantal profesieë. Dink maar net daaraan dat Hy die Messias is wat sou kom, die Dienaar van Jesaja 53, die Seun van die mens (Dan 7:13-14), en die Profeet (Deut 18:15-22). Net in sy eerste drie hoofstukke haal Matteus vyf profesieë aan wat in die geboorte van Jesus vervul is.
  • Verryking: Die titel “seun van God” word deur Jesus se optrede verryk. In die Ou Testament word die volk Israel en die koning “die seun van God” genoem (oa Ps 2:7; Hos 11:1). Maar in die Nuwe Testament kry dié titel ’n nuwe dimensie by wanneer veral Johannes dit gebruik om Jesus aan te dui as die bonatuurlike, ewige Seun van God wat aan die Vader gelyk is (Joh 5:18; 10:34-37), ’n wonderlike verryking van die natuurlike betekenis van vroeër.
  • Herinterpretasie: In die lig van die betekenis van Jesus, herinterpreteer die skrywers van die Nuwe Testament soms sekere sake in die Oue radikaal. Hebreërs munt uit in hierdie opsig. Jesus is groter as Moses, ’n stelling waaroor ’n Jood ’n hartaanval kan kry; die rus van Kanaän is nie die ware rus nie; Melgisedek, die vreemde, vae figuur uit die gryse verlede (Gen 14) het ’n veel hoër priesterorde as Aäron wat direk deur God aangestel is; die wet van Moses, wat hy op die berg direk uit die hand van God ontvang het, is “slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie eens ’n werklike beeld nie”. Die heilige tempel waarin God self onder die volk gewoon het, is “net ’n namaaksel van die ware tempel”. Die offers wat die volk op God se uitdruklike bevel vir eeue lank moes bring ter versoening van hul sondes, moet ophou “omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik (!) die sondes kan wegneem” (Heb 3:3; 4:8; 7; 9:24; 10:4). Dit is om die minste te sê ’n radikale herinterpretasie van dele uit die Ou Testament.

 

Wat ’n verskeidenheid van verhoudings tussen bepaalde sake in die twee Testamente! Dit is sonder meer duidelik dat ’n mens nie van een enkele verhouding tussen die twee Testamente kan praat nie. Die bepaalde verhouding hang eenvoudig af van watter twee sake ’n mens met mekaar vergelyk.

 

Is die twee Testamente twee selfstandige eenhede?

Daar is egter ’n tweede perspektief. Doen ons reg aan die werklikheid wat ons ondersoek, as ons eenvoudig die twee Testamente as twee selfstandige eenhede (blokke) teenoor mekaar stel, en dan probeer bepaal in watter verhouding(-s) hulle tot mekaar staan? Daar is mos nie net een netjiese oorgang presies tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament nie. Daar was nie iewers tussen Maleagi 4 en Matteus 1 ’n radikale breuk sodat van die eerste hoofstuk in die Nuwe Testament alles verander het nie. Daar is ’n sin waarin niks op hierdie punt verander het nie. Jesus was ’n Ou-Testamentiese profeet wat soos die ander, die volk tot bekering geroep het. Dat sy betekenis oneindig meer was, het maar geleidelik uit sy openbare optrede duidelik geword. Daarom kan dit sinvol wees om eerder die belangrike oorgange binne elke Testament te ondersoek.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König