Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Spesifieke vervullings (2) – Adrio König

7.2.3 Herodes se kindermoord

Herodes se kindermoord en die moeders se droefheid is volgens Matteus 2:16-18 die vervulling van Jeremia 31:15. Is hier sprake van letterlike vervulling? Jeremia 31:15 is deel van ’n omvattende profesie wat uit drie verse bestaan:

15 So sê die Here: ’n Gekerm word in Rama gehoor, ’n gehuil vol hartseer: Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders is weg.

16 So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie, moenie trane in jou oë hê nie! Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word, sê die Here, jou kinders sal uit die vyand se land terugkom.

17 Daar is ’n toekoms vir jou nageslag, sê die Here, jou kinders sal na hulle besitting toe terugkom.

Net soos Hosea 11:1 is vers 15 waarna Matteus verwys, nie ’n profesie nie, maar geskiedenis. Dit vertel van die hartseer van moeders oor hulle kinders wat in ballingskap weggevoer is. Ragel is die stammoeder van Josef en Benjamin, en dit is twee van die stamme van die Noordryk wat teen hierdie tyd alreeds in die ballingskap van 722 vC weggevoer is. Sy is dus die simbool van die moeders wat huil oor hulle kinders. Daar is ingrypende verskille tussen Jeremia 31:15-17 en die kindermoord in Matteus.

 

Eerstens is Jeremia 31:15, net soos Hosea 11:1, nie ’n profesie nie. Matteus interpreteer dit as een.

Verder gaan dit in Jeremia nie om babas soos in Matteus nie, maar om jongmense wat in ballingskap weggevoer is. Hierdie jongmense is dus nie vermoor soos die babas van Matteus 2 nie, maar as slawe weggevoer.

 

Dit beteken dat daar nog hoop is vir die huilende moeders van Jeremia, want die belofte is dat die kinders nog weer gaan terugkom,  iets wat nie moontlik is in Matteus nie omdat die babas dood is. Dit is dan waarskynlik ook die rede waarom Matteus nie die volle deel uit Jeremia aanhaal nie. Die moeders in Matteus kan nie hoop dat hul vermoorde babas weer sal terugkom nie. Die grootste deel van Jeremia 31:15-17 is dus eenvoudig nie vervul in Herodes se kindermoord nie. Al ooreenkoms wat daar regtig is, is die moeders wat oor hul kinders treur.

 

In die lig van al hierdie verskille is dit nie moontlik om van die letterlike vervulling van Jeremia 31:15-17 te praat nie, selfs nie eers net van vers 15 nie. Daar is net een punt van ooreenkoms: Moeders wat huil oor kinders. Verder verskil die situasies hemelsbreed. Maar hierdie uiters beperkte ooreenkoms is genoeg vir Matteus om te skryf dat Jeremia 31:15 in Matteus 2 vervul is, net soos die uiters beperkte ooreenkoms tussen Israel se uittog en die Kindjie Jesus se terugkeer uit Egipte vir Matteus voldoende grond is om vergelykenderwys te praat van ’n “vervulling” van die geskiedenis uit Hosea 11. Wat hy onder vervulling bedoel, is dus dat daar ’n mate van ooreenkoms is tussen wat nou gebeur en wat al vroeër gebeur het: Moeders huil oor kinders. Dit beteken dat daar net ’n baie losse verband tussen die “profesie” (eintlik geskiedenis) van Jeremia en die geskiedenis van Matteus is, met net een punt van ooreenkoms.

 

7.2.4 Judas se loon vir sy verraad

Volgens Matteus is Judas se verraad die vervulling van wat Jeremia gesê het (Matt 27:9-10). Ons weet dat Judas 30 silwer muntstukke van die priesterhoofde en familiehoofde gekry het om Jesus te verraai. Het ons hier met ’n letterlike vervulling van ’n profesie te doen?

 

Die eerste vraag is waar Matteus hierdie profesie gekry het. Dit kom nie uit Jeremia nie. Al wat ons in Jeremia kry, is die geskiedenis van Jeremia wat die opdrag kry om ’n stuk grond van sy oom se seun in Anatot vir 17 sikkels silwer te koop. Daar kan ’n baie vae ooreenkoms wees met die stuk grond wat die priesters toe uiteindelik volgens Matteus gekoop het met die geld wat Judas vir hulle teruggegee het. Maar dié ooreenkoms is so vaag dat ’n mens glad nie meer van vervulling kan praat nie.

 

Bowendien was die verhaal in Jeremia ook nie ’n profesie nie. Daar is wel in Sagaria 11 ’n allegorie wat ’n beperkte ooreenkoms met Judas se verraad het. Ons lees in Sagaria dat die Here ontevrede is met die leiers van die volk wat die volk skreiend verwaarloos. Die beeld van herders en skape word gebruik. Sagaria kry dan die opdrag om hulle herder te gaan wees. Hy pas hulle dan ’n maand lank op, maar dan versuur die verhouding tussen hom en hulle. Hy vra dan die kleinveehandelaars om hom vir sy werk te betaal, en hulle gee hom 30 stukke silwer. Die feit dat dit ’n “kosbare” loon genoem word, is sarkasme, want dit is vernederend min. Die Here beveel hom dan om die loon vir die pottebakker in die tempel te gooi. Tot sover Sagaria.

 

Matteus haal nou uit hierdie allegorie twee verse aan (12-13) en noem Judas se reaksie ’n vervulling hiervan. Tussen die twee is inderdaad beperkte ooreenkomste. In beide is sprake van:

  • geld wat betaal word vir dienste,
  • 30 silwermuntstukke,
  • die geld word uiteindelik weggegee,
  • die tempel en ’n pottebakker is betrokke.

Maar hier eindig die beperkte ooreenkomste.

 

Die verskille is enorm.

  • Sagaria 11 is nie ’n profesie nie, maar Matteus interpreteer dit as een. Ons het nou gesien dat dit herhaaldelik gebeur.
  • In Sagaria ontvang die profeet die geld vir eerlike werk, in Matteus ontvang Judas dit vir verraad.
  • In Sagaria betaal die kleinveehandelaars die profeet, in Matteus betaal die priesters die verraaier.
  • In Sagaria gooi die profeet die geld vir die pottebakker, in Matteus gooi Judas dit vir die priesters en hulle koop die grond van die pottebakker, en in Jeremia koop die profeet die grond van sy oom se seun.

 

Hoe kan Matteus skryf dat Jeremia (Sagaria?) in die verraad van Judas vervul is? Ons het nou al meer sulke voorbeelde gehad. Solank daar net ’n punt van ooreenkoms is, hoe vaag ook al, sien Matteus dit as vervulling van ’n profesie, selfs al is dit nie oorspronklik ’n profesie nie. In hierdie geval is daar twee punte van ooreenkoms:

  • die 30 stukke silwer,
  • die geld word teruggegee.

 

Hoe sou ’n mens ooit uit die geskiedenis van Jeremia of van Sagaria kon aflei hoe Judas Jesus sou verraai? Daar is dus geen manier om die standpunt te verdedig dat profesieë letterlik vervul word nie. In die gevalle waarna ons gekyk het, is daar op sy beste net vae ooreenkomste tussen die profesie of die geskiedenis, en die vervulling daarvan. Dit beteken dat daar geen manier is waarop ’n mens vooraf uit die profesie of die geskiedenis sou kon afl ei hoe die vervulling sal lyk nie. ’n Mens moet wag vir die vervulling, en dan eers sal jy weet hoe dit vervul is. Dit het natuurlik geweldige implikasies vir die uitleg van die visioene (profesieë) in Openbaring.

 

In die volgende artikel kyk ons verder na spesifieke vervullings van profesieë.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König