Alle Paaie lei na Jesus: Wat gebruik die skrywers van die Nuwe Testament uit die Ou Testament?

Alle Paaie lei na Jesus: Wat gebruik die skrywers van die Nuwe Testament uit die Ou Testament? – Adrio König

Hoofstuk 6

Die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament

Hier het ons een van die ryk temas in die Bybel wat op ’n merkwaardige manier na Jesus lei. Ons gaan kyk na ’n paar kante van hierdie verhouding.

  • Wat gebruik die skrywers van die Nuwe Testament uit die Ou Testament?
  • Hoekom?
  • Wat is in die lig hiervan die verhouding tussen die twee Testamente?
  • Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan?

6.1 Wat gebruik die skrywers van die Nuwe Testament uit die Ou Testament?

’n Mens kan begin by die vraag hoe ons vandag die Ou Testament gebruik. Gebruik ons al die dele/boeke van die Ou Testament ewe veel? Of gee ons voorkeur aan bepaalde boeke? Oor die algemeen sal ons vind dat daar duidelike voorkeure is onder Christene. Waarskynlik is die Psalms die populêrste boek. Dan volg moontlik sommige historiese boeke soos Genesis, of sommige profete soos Jesaja. Miskien is Spreuke ook populêr. Is dit verkeerd? Moet ’n mens nie die hele Bybel ewe veel lees en alles op dieselfde vlak nie? Die hele Bybel is tog die Woord van God.

 

Wel, kom ons vra eers hoe die skrywers van die Nuwe Testament die Oue gebruik het. Vir minstens die eerste eeu het Christene nie ’n Nuwe Testament gehad nie. Waarskynlik is al die boeke van die Nuwe Testament gedurende die laaste helfte van eerste eeu geskryf, maar hulle is nie gou in een bundel versamel nie. Dit beteken dat die eintlike Bybel van die vroeë Christene die Ou Testament was. En hulle het oorvloedige gebruik daarvan gemaak. Daar is ongeveer 2 400 direkte of indirekte aanhalings of verwysings uit die Ou Testament in die Nuwe. Dit beteken dat daar in die Nuwe Testament omtrent sewe verwysings per bladsy na die Ou Testament is, wat regtig baie is. Dit beteken dat dit belangrik is om die Ou Testament te ken as ’n mens die Nuwe wil verstaan.

 

Maar dit is interessant uit watter dele van die Ou Testament die meeste aanhalings/verwysings kom. Daar is geen sprake van ’n eweredige verdeling nie. Omtrent die helfte kom uit net vier boeke:  Omtrent 400 elk uit die Psalms en Jesaja, en omtrent 200 elk uit Genesis en Eksodus.

 

Wat het die Nuwe Testament spesifiek in hierdie boeke gekry? Dis interessant dat hulle ook hierdie boeke nie eweredig gebruik het nie. Van die 400 uit Jesaja kom byna die helfte net uit Jesaja 40-54, waarvan omtrent 40 aanhalings/verwysings net uit Jesaja 53. En van die 400 uit die Psalms kom omtrent 70 uit net drie Psalms (2, 22, 110).

 

Waarom juis die konsentrasie op hierdie bepaalde dele uit hier die boeke? Daar is net een antwoord: Jesus. Alle paaie uit die Ou Testament lei na Jesus.

  • Uit die Nuwe Testament weet ons goed die Christene het die Jode probeer oortuig dat Jesus die beloofde Messias is. Dink maar net aan Petrus en Paulus se preke in Handelinge (2:36; 3:18-20; 9:22; 13:23; 17:3; 18:5). Vandaar die konsentrasie op bepaalde Messiaanse profesieë soos Jesaja 9 en 11 (6 keer elk) en Psalm 2 (18 keer).
  • Maar omdat hulle Hom ook gesien het as die groot Hoëpriester (Hebreërs) was Psalm 110 (25 keer) so belangrik. Wat hierdie Psalm nog belangriker gemaak het, is die feit dat koning en priester hier in een persoon verenig word, en dit is juis wat die vroeë Christene van Hom geglo het.
  • Van die allergrootste belang was sy diens aan mense in nood, en uiteindelik sy kruisdood. Dit het hulle na die Dienaar van Jesaja 40-54 laat kyk, veral Jesaja 53 (38 keer), maar ook na sekere Psalms soos Psalm 22 (24 keer).
  • Maar dan was daar soveel ander kante van Jesus se betekenis dat hulle rond en bont in die Bybel geblaai het. Dink maar aan Jesus as die Seun van die mens. Daar word 14 keer verwys na Daniël 7:13-14.
  • Jesus as Profeet was vir hulle baie belangrik. Daarom word 11 keer verwys na Deuteronomium 18:15-19.
  • Dat die Seun van God saam met die Vader die Skepper was, word oor en oor bely, en dit is een van die redes waarom daar so veel verwysings na Genesis is. Dis gewoonlik na die eerste skeppingsverhaal, Genesis 1. Dink maar net aan Johannes 1:1-3.

 

Wat interessant is in hierdie verband, is dele in die Ou Testament waarna nie verwys word in verband met Jesus nie, terwyl dit in ons tyd mode geword het om dit wel te gebruik.

  • Die Nuwe Testament pas nooit die “saad” (nageslag) van Eva op Jesus toe nie (Gen 3:15) terwyl baie vandag aanvaar dis die eerste “Messiaanse” profesie. Daar is natuurlik nie Messiaanse profesieë vóór Dawid nie, want die Messias sou die seun (nageslag) van Dawid wees (2 Sam 7:12-16). Daar is wel profesieë soos dié van die besondere profeet, maar dis nie Messiaanse profesieë (profesieë oor ’n Messias) nie, maar profesieë oor ’n Profeet.
  • Ook Abraham wat geroep word om sy seun te offer (Gen 22), word nooit op Jesus toegepas nie.
  • Net so die verwysings na die kleur rooi (soos Ragel se rooi tou, Jos 2:21) wat vandag graag op die bloed van Jesus betrek word.

 

Die skrywers van die Nuwe Testament het oorvloedig na Jesus verwys, en hulle het Hom geken en geweet wat sy betekenis is. Daarom lyk dit my gepas om ons te hou by die talle en talle verwysings wat hulle uit die Ou Testament op Jesus toegepas het. Ek dink nie ons kan dit beter doen as hulle nie. Dit sluit ook die talle “tipes” in wat daar van Jesus sou wees. In Genesis en Eksodus was nog ’n paar temas vir die vroeë Christene belangrik. In Genesis was dit veral Abraham (kyk na Abraham, hoofstuk 1), en in Eksodus Moses en die uittog en die wet, die tempel, priesters en offers (kyk na hoofstuk 3 oor die wet). Wat nou belangrik is, is die feit dat nie een van hierdie groot temas op sy eie so belangrik is nie, maar dat hulle almal direk in verband met Jesus ontwikkel word.

  • esus is die eintlike nakomeling van Abraham (Gal 3:16),
  • Hy is groter as Moses (Heb 3:1-6),
  • Hy was by die uittog betrokke (1 Kor 5:7; 10:1-5),
  • Hy vervul die wet (Matt 5:17, 1953-vertaling),
  • Hy is die tempel wat in drie dae afgebreek word (Joh 2:19-21),
  • Hy is dié Hoëpriester (Heb 7:11-17),
  • Hy is self die groot offer (Heb 9 en 10).

Waarlik, alle paaie lei na Jesus.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König