Alle Paaie lei na Jesus: Wat is die mens?

Alle Paaie lei na Jesus: Wat is die mens? – Adrio König

Hoofstuk 5

In die vorige gedeelte het ons na die skepping gekyk. Nou gaan ons na verskeie aspekte van die mens kyk.

 

Die mens

5.1 Wat is die mens?

Dis ’n vreemde vraag. Hoe kan mense vra wat ’n mens is? Ons weet tog. Ons is dan self mense. Ons kan wel vra wat engele is, want ons kan hulle nie sien nie.

Ons kan vra hoe dit op die maan lyk, want ons was nog nie daar nie. Maar hoekom vra ons wat ’n mens is? Gaan kyk in die spieël. En tog staan daar hoeveel boeke op my rak – Afrikaans, Engels, Hollands, Duits – wat hierdie titel dra: Wat is die mens? Miskien is dit omdat daar so ’n onbeheerbare verskeidenheid onder mense is. En dan gaan dit nie net oor verskillende kleure en kulture nie. Dan gaan dit eerder oor die kwaliteit van menswees. Daar is uiterstes wat ’n mens in verwarring kan laat eindig: eerlik en bedrieglik, saggeaard en wreed, hardwerkend en lui, verstandig en stiksienig. Hoe lank sal ons aanhou? Wat is ’n mens? Wat/Wie is die mens wat ek gister ontmoet het? Wie is ek – regtig? Die man/vrou agter die masker, of die ware ek?

 

Dis mos nie waar van diere nie. Daar sal wel aggressiewe leeus en minder aggressiewes wees. Maar dis tog omtrent waar dit eindig. Daar is nie eerlike leeus en bedrieglike leeus nie, of betroubare en onbetroubare leeus nie. Maar wat het jy voor jou as jy ’n onbekende mens ontmoet? Kan jy hom/haar vertrou? En hoe maklik blyk dit nie agterna jy was heeltemal verkeerd in jou oordeel nie. ’n Vriend van my sê graag: “Ek hou nie van daardie man nie. Ek sal hom beter moet leer ken.” Maar dit kan ook andersom wees!

 

Dit is veral die etiese, morele kwaliteit wat op die spel is. Diere is nie kulturele, etiese en godsdienstige wesens nie. Dit is op hierdie terreine waar die onsekerheid en die verwarrende verskeidenheid ons laat vra: Wat is ’n mens? Maar juis omdat dit veral om waardes gaan, moet ’n mens miskien die vraag anders vra. Nie: “Wat is ’n mens?” nie, maar: “Wat behoort ’n mens te wees?” Dit is met hierdie vraag waarmee ons na die Bybel gaan.

 

Ander vakwetenskappe kan ander antwoorde gee. Op die vraag wat ’n mens is, sal fisioloë antwoord: driekwart water, verder ’n bietjie koolstof, kalsium en ’n paar ander spoorelemente. En dis waar.  Baie sosioloë sal antwoord: ’n verhoudingswese. En dis waar. Sommige sielkundiges mag antwoord: ’n komplekse  wese met ’n mengsel van emosie en denke. En dis ook waar. Maar dis nie waarde-oordele nie. En uiteindelik is dit waardes wat ons as mense van diere onderskei. Diere gee nie om vir mekaar nie. Diere help mekaar nie. En diere bedrieg mekaar ook nie, en skinder nie van mekaar nie.

Daarom gaan ons na die Bybel met twee vrae:

  • Wat is die mens?
  • Wat behoort die mens te wees?
  • En in die Bybel gaan ons ’n rykdom perspektiewe kry.

 

Die Bybel is sonder meer ’n boek oor mense. Op elke bladsy gaan dit oor mense. Natuurlik is daar ook sprake van die natuur, van diere, van engele, van bose magte, en bo-al van God. Maar dit neem nie die feit weg dat die Bybel oor mense gaan nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König