Ambassadeurs vir Christus (2)

But God’s commandments drive us to our neighbor, that we may thereby benefit others to their salvation – Martin Luther

Ambassadeurs vir Christus (2)

Wat beteken dit as ons sê dat ons ambassadeurs vir Jesus Christus is? Ons gaan ‘n hele paar blogs hieraan afsonder. As basis gaan ons van 2 Korintiërs 5:11 – 21 gebruik maak.

Die ambassadeur se profiel

As jy ‘n ambassadeur moet soek, na watter kwaliteite sal jy soek?

  • Lojaliteit

Dit is die belangrikste kwalifikasie waarna jy soek. Die groot probleem van ‘n ambassadeur is dat jy so vasgevang word in die vreemde kultuur om jou dat jy skoon vergeet dat jy juis in daardie vreemde kultuur geplaas is om ‘n ander kultuur te verteenwoordig. Hy is aanspreeklik; sy regering gaan hom evalueer. Paulus het dit besef: Ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn (5:9 – 10).

Hierdie is die eerste beginsel van bediening: eendag staan ek elkeen alleen  voor Jesus Christus wat my uitgestuur het en ek sal moet rekenskap gee van my bediening. Dit is nie sommer iets wat ons ligtelik kan opneem nie: Ons weet wat dit beteken om die Here te dien (5:11). ‘n Ambassadeur wat sy aanspreeklikheid vergeet, stuur op ‘n ramp af. Die wete dat ek Christus se ambassadeur is, help my om my prioriteite en aktiwiteite te bepaal.

  • Integriteit

Integriteit is baie belangrik. ‘n Ambassadeur sonder integriteit verlaag die reputasie van sy regering in die oë van die mense van die land waarheen hy gestuur word. Maar, tweedens, die hele doel van die stuur van ‘n ambassasdeur is dat deur die opbou van persoonlike verhoudings daar ‘n brug van verstaan en kommunikasie tussen die twee lande gebou word. Die doeltreffendste kommunikasie tussen lande is persoonlik, nie e-posse nie. God ken ons bedoelings , en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is (2 Korintiërs 5:11).

  • Nederigheid

‘n Ambassadeur verteenwoordig nie homself nie, maar die regering wat hom gestuur het. Hy moet sy persoonlike invloed gebruik, maar nie in sy eie belang nie – in belang van sy regering. Paulus verstaan dit: Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie (5:12). Hy is nie besig om ‘n persoonlike magsbasis op te bou nie. Dit vereis nederigheid om JC in ‘n vyandige samelewing te verteenwoordig.

  • Geestelikheid

‘n Ambassadeur sal die kernwaardes van die kultuur wat hy verteenwoordig uitdruk. Watter eienskappe verwag ons om in die lewe van ‘n ambassadeur van Jesus Christus  te kry?  Paulus noem hier twee soorte mense wat betrokke was by Christelike bediening:

Dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie; en

Diegene wat oor die hart spog.

As die wêreld vra wat ons het, is dit maklik om oor ons programme en getalle te spog. Dit is goed; dit is goed wat ons kan sien. Maar wat van die hart? ‘n Ambassadeur moet ‘n goeie persoonlike uitdrukking wees van wat hy aanbeveel.

  • Liefde

Die doeltreffende ambassadeur kombineer patriotiese lojaliteit aan sy eie regering met liefde vir die mense na wie hy gestuur is. Luister hoe stel Paulus dit: Die liefde van Christus dring ons (5:14). Die dryfkrag vir sy bediening is nie sy liefde vir Christus nie, want dit kan varieer. Die dryfkrag vir sy bediening is die liefde wat God vir sy mense het – die mense na wie Hy gestuur is.

Lojaliteit, integriteit, nederigheid, geestelikheid en liefde saam wys vir ons dat die eerste ding wat nodig is as jy enige kultuur wil bereik, karakter is. ‘n Postmoderne wêreld sal nie ons woorde hoor voordat hulle aandag nie deur die gehalte van ons lewens vasgevang is nie.

Volgende keer gaan ons na die verantwoordelikhede van ‘n ambassadeur kyk.