Amos(10) – Francois Malan

Amos 6 vers 6-7

6:6 ‘Die drinkers uit komme wyn en hulle koppe gesalf met olie gemeng met parfuum, word nie siek oor die verbreking van Josef nie. LXX Die wat gefilterde wyn drink en hulle salf met die beste olie, ly geensins oor die verplettering van Josef nie. 2020: Hulle drink offerbakke vol wyn; met die beste olies salf hulle hulleself; maar hulle treur nie oor die ondergang van Josef nie. Amos teken Israel se oormatige drankverslawing met ’n ongewone woord, komme vol wyn wat hulle drink, komme waaruit die bloed van die offers op die altaar gesprinkel word en waarin die wyn met kruie gemeng word (nie die gewone drinkbekers nie). Die salwing behels ook insmeer van die liggaam met gekruide olie om die vel geurig te voed. In plaas daarvan dat hulle siek word van bekommernis oor die verbreking van hulle band met die HERE, hulle uitbuiting van die armes en die eventuele ondergang van Israel, volhard hulle om sekuriteit te soek in hulle persoonlike welstand en genot. Die swaartepunt van hulle lewe is nie meer God nie maar hulle self. Die HERE wat Israel se lyding as slawe in Egipte ter harte geneem het, kan nie die lyding van die armes verdra onder die verdrukking van die rykes wat in onbedagsame brassery lewe nie. Josef se twee seuns Efraim en Manasse was die leidende stamme in Israel. 6:7 ‘Daarom sal hulle nou aan die voorpunt van die ballinge in ballingskap gaan, en die feesmaaltye van dié wat uitgestrek gelê het, verdwyn.’ LXX Daarom sal hulle nou krygsgevangenes wees, van die eerste van die leiers af, en die gerunnik van perde sal afgesny wees uit Efraim. 2020: Daarom sal hulle nou in ballingskap gaan aan die voorpunt van die ballinge, die gefuif van dié wat rondluier kom tot ’n einde. Vers een het met ’n weeklaag begin, gevolg deur ’n lang beskrywing van die sorgelose welvarende Israel. In vers 7 word hulle naderende einde met ‘daarom nou’ ingelei en heel kort gestel: ballingskap! Skuld en straf word ironies teenoor mekaar gestel: vers 1 se ‘hoof (r’ōsjit ‘kop’) van die nasies’ as die HERE se uitverkore volk, word in vers 7 toegepas op die leiers van die volk – ‘aan die voorpunt (ber’ōsj ‘aan die kop’) van die ballinge. Die leiers wat ‘uitgestrek lê by feesmaaltye’ (ook in vers 4) se sorgelose selfvertroue en onderdrukking van armes word met die ballingskap kortgeknip. Vers 5 se dronk lawaai by hulle feeste word versmoor in hulle stilte in vers 7 se ballingskapstog. Israel se selfversekerde sekuriteitsgevoel (v1), wat die bose dag van oordeel wegstoot (v3) met feeste van uitgesoekte lekkernye (v4), met begeleiding van luidrugtige singery en musiekmakery (v5) en onbeteuelde drinkery en kwistige parfuum (6). Hulle luukse lewe, gebou op onreg, bring die dag van oordeel en onheil vir hulle vinnig nader. In 722 v.C. vertrek die inwoners van Samaria in ballingskap, as die laaste van die verwoeste stede van Israel om ook in Assirië verstrooi te word (2 Kon 17:6). Dit is die HERE se straf oor Israel se eeuelange verwerping van die HERE. Die weeklaag van Jesus oor die rykes in Lukas 6:24-26 is ’n weerklank van Amos 6:1-6. Die oordeel van die HERE en die val van die stad Samaria (Amos 6:8-11). Na die poëtiese vorm in 6:1-7 verse, is hierdie verse in prosa geskryf. 6:8 Dit is die tweede eedswering van die HERE in Amos (vgl. 4:2). ‘My Heer, die HERE, het by Homself gesweer. Die Godspraak van die HERE, die God van die leërskare lui: “Ek verafsku die hoogmoed van Jakob, en sy paleishuise haat Ek. Ek lewer die stad en alles daarin oor.” (LXX het chōras ‘sy plekke/dorpe/landerye’ in plaas van ‘sy paleishuise;’ 2020: ‘sy vestings’) Die HERE self, sy heiligheid, staan agter sy besluit oor Israel en hulle hoofstad Samaria. Hy wat gesê het: Wees heilig, want Ek is heilig (Lev 11:45), sou nie die Heilige gewees het as Hy die hoogmoed van Jakob teenoor hulle God ongestraf gelaat het nie. Heilig beteken om aan die HERE en sy woord toegewy te lewe. Die God van die leërskare gaan die stad en die hele Israel aan die leërs van ’n vyand oorlewer (3:11). Die deelwoordvorm van ‘afsku’ beteken dat die HERE se afsku al lank duur en aanhou. Hoogmoed lê aan die wortel van die kwaad. Israel se hoogmoed het die HERE uitgeskuif as die fondament van hulle bestaan en het gelei tot hulle ongehoorsaamheid aan sy wyse onderrig, sy torāh. In hoogmoed sien hulle op ander neer, verkoop onskuldige mense (2:6), lewe weelderig in paleishuise wat deur geweld verkry is en self vol geweld is (3:10). Hulle dink dat hulle volksbestaan in hulle eie hande is (Amos 6:1). Die HERE gaan sy beskemende hand van hulle terugtrek en hulle in die hande van ’n vyand oorhandig. 6:9 ‘As daar tien mense in een huis oorbly, sal hulle sterwe…’ Die totale uitwissing van Israel word op ’n lewendige manier geskilder. Naas die vernietiging van die hele stad Samaria word die verhaal van een huis wat nog oorbly beskryf. Tien oorblywendes uit ’n stad vlug in die enigste oorblywende huis in. Maar van die tien word kortweg net gesê: Hulle sal ook sterf. Hulle word nie aan ’n vyand oorgelewer nie, maar die HERE sorg dat hulle sterf – aan ’n pes? Dit beklemtoon die totale en omvattende oordeel van die HERE wat oor Israel kom. 6:10 ‘As sy oom (dōd, vader se broer, of familielid) en sy verbrander die lyke (bene) optel om uit die huis te dra, en vir iemand wat in die agterkant van die huis mag wees sê, ‘is daar nog by jou,’ en hy sê ‘nee,’ dan sê hy ‘bly stil, want die Naam van die HERE mag nie genoem word nie.’ Verbranding van lyke was ’n misdaad (Amos 2:1). Lyke van misdadigers is verbrand (Lev 20:14), maar tydens die pes is lyke blykbaar verbrand om verdere verspreiding te keer. Toe die oom sou vra of daar nog (lyke of mense?) oor is, antwoord iemand agter in die huis dat daar niemand is nie. Voor hy verder praat waarsku die oom hom om nie in die Naam van die HERE iets te noem nie. Hulle wat so verlang na die dag van die HERE se lig, en sy Naam by hulle bulafgod en in hulle dronkenskap noem, word doodsbenoud vir die klank van sy Naam in die verskrikking van die dood. 6:11 ‘Want kyk! die HERE gee opdrag en Hy slaan die groot huis in stukke en die klein huise in splinters.’ Vers 11 gee die rede (want) waarom hulle vrees om die Naam van die Here te gebruik (v10). Want die HERE beveel ‘n totale vernietiging. Die bedreiging van die groot en kleiner huise ondersteun die eed van die HERE oor die stad en sy paleishuise (v8). Alle huise sal verkrummel onder die aanslag van die HERE en dit word ’n veld vol ruïnes. Die HERE is die eintlike teenstander van Israel oor hulle sondige, vrot lewenswyse. Daar bly niks oor van hulle trots en die sorgeloosheid van hulle lewenswyse nie. Met Israel se arrogansie het hulle die HERE se reg en geregtigheid vervang met hulle eie-reg en eie-geregtigheid, maar geen selfgeboude beveiliging kan beskerming bied teen die HERE se oordeel nie.

Skrywer: Prof Francois Malan