Amos(4) – Francois Malan

Teen die Ammoniete, oos van Israel (Amos 1:13-15)

1:13 Die gebied van die Ammoniete grens aan die suide teen Moab en in die noorde tot by die Jabbokrivier teenaan Gilead van Ruben, Gad en ’n halwe Manassestam met hulle goeie weiding (Num 32:1). Volgens Genesis 19:38 was die Ammoniete afstammelinge van Lot se seun Ben-Ammi (‘seun van my familie’) by sy jongste dogter. Die herhaalde invalle van die Ammoniete in die Gileadgebied ‘om hulle grense uit te brei’ word in die Ou Testament vermeld (Rigt 10:6-7). Die vrugbare weigrond het die Ammoniete verlei om hulle gebied na die noorde uit te brei (Rigters 10:6-7; 1 Sam 11:1-2). ‘…want hulle het die swanger vroue van Gilead oopgesny om hulle gebied uit te brei…’ Die Here sal Ammon se wrede wyse waarop hulle die invalle in Gilead uitgevoer het, nie oorsien nie. Hulle het swanger vroue oopgesny om die ongebore kind saam met die ma uit te roei sodat daar in die toekoms geen Israelitiese inwoner sal oorbly nie. Dit het hulle gedoen om van Gilead ’n suiwer Ammonitiese provinsie te maak. Die Here se oordeel oor Ammon bewys die Here se toorn oor wreedheid teen vroue en kinders deur die eeue.

1:14

Die straf van die Here op Ammon is weer vuur soos by die vorige drie volke. Dit sal binne die beskermingsmure van Rabba, die hoofstad van Ammon, brand, wat al sy paleishuise sal verteer. Hier kom by: te midde van strydkrete op die dag van oorlog en ’n orkaan op die dag van die verwoestende stormwind (vir paleishuise het LXX fondamente en 2020: vestings; vir ‘orkaan op die dag van die stormwind’ het LXX aardbewings op die dag van haar einde). Die strydkrete wys na ’n invallende leër se krygsgeskreeu (vgl 1 Sam 4:5, soos in Jer 4:19 en 49:1-6 ). Die Here word in die Ou Testament reeds besing as die God wat heers oor die winde en die storms, soos Jesus wat die storm laat bedaar het (Mark 4:41). In Ps 83:16 vra Asaf dat die Here vir Edom, Moab, Ammon, Filistea, Tirus en sy ander vyande moet agtervolg met sy stormwind en hulle in verwarring bring. Al die verskrikkende magte wat die mense toeken aan hulle afgode wat die weer sou beheer, is eintlik instrumente in die hand van die Here wat die draaiende orkaan gebruik saam met die verwoestende stormwind. Die Here bedreig nie die afgode nie, want hulle is niks (Jes 41:24,29; Hab 2:18-19), maar Hy bedreig mense wat Hy gemaak het en teen sy wil en wet optree. So gebruik die Here vir sy optrede teen die mense wat sy wil oortree natuurkragte van vuur en storm, wat deur Hom geskep is en beheer word. [Rehabeam wat vir Salomo opgevolg het, was die seun van Salomo en Naäma (‘Mooie’), ’n Ammonitiese vrou – die enigste van Salomo se vrouens wie se naam in die Bybel voorkom (1 Kon 14:21&31; 2 Kron 12:13). Sy het Salomo verlei om Milkom=Moleg te dien, die afskuwelike afgod van die Ammoniete, aan wie kinders geoffer is, Lev 18:21; 20:2-5; 1 Kon 2 Kon 23:10].

1:15 ‘En hulle koning sal in ballingskap weggaan en sy prinse/leiers saam met hom, sê die Here.’ (LXX: vir sy prinse, het LXX hulle priesters en regeerders; 2020: hoë amptenare) Die straf van die Here oor Ammon is ballingskap vir die bevolking en hulle koning en sy amptenare oor hulle uiterste geweld teen hulle bure en die oopsny van die swanger vroue in Gilead. Hulle is sonder eerbied vir swakkes en vir mense sonder regte: veral vir die ontwikkelende lewetjie en die heiligheid van moederskap, wat ‘n besondere kunswerk is van die Skepper van lewe. Die Here stuur self hierdie aankondiging van sy oordeel en optrede deur sy profeet.

6 Teen Moab, suid-oos van Israel (Amos 2 vers 1-3)

2:1 Die inleiding tot Moab se straf herhaal die vorige inleidings – drie tot vier = herhaalde oortredings wat die HERE nie sal laat verbygaan nie. Moab (‘van sy pa’) is volgens Genesis 19:36-37 die seun van die oudste dogter van Lot by haar pa, en die voorvader van die Moabiete. Aan die oostelike kant van die Dooie See was Moab se gebied tussen Ammon in die noorde en Edom in die suide, alles deel van die huidige Jordanië. Kemos (‘vernietiger’) was die afskuwelike songod van Moab (1 Kon 11:7; 2 Kon 3:27 die koning offer sy oudste seun aan Kemos; 23:13). Moab se sonde word aangedui as: ‘Hy het die bene van Edom se koning tot kalk verbrand.’ Die verbranding kan dui op grafskending van die koninklike graf van Edom, of die verbranding tot kalk van die liggaam en bene van die koning van Edom nadat die Moabiete hom in ’n veldslag gevang het. Die verbranding van ’n liggaam was ’n aanduiding van woede oor ’n veragtelike misdaad (Gen 38:24; Lev 20:14; 21:9; Jos 7:25). Dat die bene tot kalk verbrand is beklemtoon die volkomenheid van die vernietiging. Die liggaam is so totaal verbrand dat die as van die bene fyn wit kalkpoeier geword het (Die Targum, Aramese vertaling van die Hebreeuse Bybel, sê die Moabiete het van die koning se as, kalk gemaak waarmee klippe en huise geverf kan word, van ’n mens gebruiksmateriaal gemaak. (Die Mesa steen, 60cm wyd en 60cm dik, ook genoem Moabsteen wat koning Mesa van Moab in 840 v.C. laat opsit het, is in 1868 by Dibon, Moab se hoofstad, ontdek. Die geskrif vertel die storie van 2 Kon 3:4-8 as die straf van Kemos oor Moab omdat hulle hulle aan Israel laat onderwerp het. Die buit wat Moab in hulle opvolggeveg van die Israeliete geneem het, het hulle in die tempel van Kemos geplaas, in die stad Kirjath – Kerijot) Ná die HERE se oordeel oor Ammon se gebrek aan piëteit teenoor die ontluikende lewe en van moederskap in vers 13, volg die HERE se oordeel oor die gebrek aan piëteit teenoor die misterie van die dood deur Moab, Ammon se halfbroer en neef. Die HERE veroordeel die ontering van die oorsprong van lewe wat Hy gee, en van die einde van lewe wat Hy neem (vgl. Job 1:21). Die Here se oordeel is ook nie beperk tot sonde teen sy volk Israel nie, maar Hy eis rekenskap oor die optrede van alle mense as hulle Skepper. Hy is die Heer en Regter oor die hele wêreld wat oor alle volke waak en teen almal vir sy reg intree.

2:2-3 Die Here se straf oor Moab se misdaad: ‘Ek sal ’n vuur teen Moab stuur wat die mooi huise van Kerijot sal verteer (soos Moab Edom se koning verbrand het), en Moab sal in die rumoer sterf, onder die alarmklank van die ramshoring (sjofar). Ek sal sy regeerder afsny (uitdelg) uit sy midde, en al sy prinse/amptenare sal Ek saam met hom doodslaan (slag), sê die Here.’ Die oordeel word in Hebreeus geteken met woorde wat die geluide van ’n oorlog weergee: die rumoer en lawaai van ’n leër wat aanval. Te midde van die oproer, met die krygsgeskreeu en die geskal van die ramshoring sal Moab as volk sterf. Ook hier word die oordeel van God voltrek deur ’n vyandelike leër (vgl. die straf oor Babel in Jes 13:3-5). Die woorde van die Here word in kunsvorm aangebied. Woorde met enerse klanke in Hebreeus word in pare aangebied: ‘Ek sal stuur’ begin met ’n sj en ‘vuur’ eindig met ’n sj; ‘paleishuise’ en ‘Kerijot’ eindig albei met ōt en word gevolg met ‘sterf’ wat met ’n t eindig. Kerijot ‘uitverkorene’ word gebruik vir Ar-Moab, die hoofstad van Moab (Num 21:27-30. Jesaja 15:1-16:13 het ’n uitgerekte oordeel oor Moab en Ar-Moab); koning word vervang met ‘regeerder’ ’n Hebreeuse woord met ’n ō in, soos die woord vir ‘doodslaan (slag)’ en die ō in ‘met hom.’ 7 Teen Juda, Israel se suidelike bure (Amos 2 verse 4-5)

2:4 Ná die gebruiklike inleiding, herhaalde oortredings (drie en vier) volg die rede waarom die Here nie sy aanklag teen Juda sal terugtrek nie: ‘het hulle die tōrah, die ‘onderrig’ van die Here met veragting verwerp en sy voorskrifte nie gehoorsaam nie en hulle valse gode (bedrog) agter wie hulle vaders aangeloop het, het hulle laat afdwaal (sondig).’ LXX vertaal ‘valse gode’ met: ‘nuttelose dinge wat hulle gemaak het’ Die tōrah verwys na al die aanwysings van die Here vir die lewe van sy volk, ook oor die sosiale verhoudings, waaroor Amos verder in die boek uitbrei. Sy voorskrifte of insettinge verwys meer na die afsonderlike aanwysings van die Here waarna hulle nie geluister het nie. Die woord ma’as ‘verwerp,’ het ook die gedagte van verag. Een bepaalde sonde wat hulle verwerping van die Here se aanwysings illustreer word hier uitgesonder, hulle diens aan die afgode. Hulle valse afgode het hulle juis weggelei van die beste en enigste pad wat die Here vir hulle aangewys het vir hulle lewe en diens aan Hom. Die Hebreeuse woord kazab ‘leuen’ wat hier vir die afgode gebruik word, beklemtoon dat die afgode nie kan help of red nie, niks werd is nie, en daarom die mense bedrieg. Die afgode is die verpersoonliking van die leuen (vgl. Joh 8:44). Dat hulle vaders dieselfde gedoen het, wys dat dit ’n gewoonte en ’n kultuur geword het waarmee Juda grootgeword het. Reeds by Sinai het hulle die goue bulkalf aanbid, (Eks 32:3-5); in sy ouderdom het Salomo sy vrouens se afgode begin dien (1 Kon 11:4-8); so ook sy nageslag: Rehabeam (1 Kon 14:22-24); Abia (1 Kon 15:3); en na Amos se tyd Agas (2 Kon3-4); Manasse (2 Kon 21:2-16). Die aanklag is anders as die voriges. Hulle verkeerde optrede teen ander mense word nie genoem nie, maar die eintlike rede daarvan, naamlik hulle verloëning en verwerping van die HERE en van sy woord – vgl. die HERE se klag toe die volk ’n koning begeer het (1 Sam 8:7; 10:19), die rede waarom die HERE Saul as koning verwerp het (1 Sam 15:23,26) en die rede waarom die HERE die 10 stamme in ballingskap na Assirië laat gaan het (2 Kon 17:15). Hier kla die HERE vir Juda aan dat hulle Hom ook verwerp het (Jes 5:24). Die verwerping van die Here is die vierde gestalte van sonde en die bron van die ander drie gestaltes in Amos 1:3-2:3. Daarmee word die maat van die mensheid se skuld voor God vol gemaak: 1. onbarmhartigheid teenoor God se skepsels (1:3,6); 2. onreg en troueloosheid teenoor die broederskap (1:9,11); 3. sonder piëteit teenoor lewe en dood (1:13; 2:1); 4. veragting van die heerlikheid en heiligheid van God en sy woord (2:4; vgl. Hosea 12:1). 2:5 Die HERE se straf oor Juda en sy hoofstad Jerusalem: ‘Ek sal ’n vuur in/teen Juda stuur wat sy paleishuise sal verteer.’ (LXX fondamente vir paleishuise; 2020: vestings). Dit is die sewende keer wat die HERE sy vuur in hierdie eerste profesie stuur, en die sewende is ook teen sy uitverkore volk wat Hom verlaat het, soos die sewe engele wat die sewe bakke van die toorn van God op die aarde uitgooi in die eindtyd (Openb 15:1; 16:1). Die vuur simboliseer die HERE se toorn wat Juda se weelderige lewe sal verteer. Die letterlike brand van die hele stad Jerusalem het die Here 173 jaar later deur die Babiloniërs laat uitvoer in 587 v.C. (2 Kon 25:9). Hulle het die stad verbrand nadat hulle die tweede groep van die Judeërs weggevoer het om in die Babiloniese ryk verstrooi te word. Hulle het die tempel gestroop, afgebreek, die tempelgereedskap saamgevat Babilon toe, en die mure van die stad afgebreek (2 Kon 25:10-21). 2:4; vgl. Hosea 12:1).

Skrywer:  Prof Francois Malan