Amos(6) – Francois Malan

Die HERE se gawes aan Israel (Amos 2 verse 9-11)

Die gedeelte verskil van die vorige sewe profesieë. Hier word die groot dade van God in Israel se geskiedenis in herinnering geroep: die HERE se uitroeiing van die inwoners van Palestina, Israel se bevryding en uittog uit Egipte, en hulle intrek in die land; profete en nasireërs wat die Here uit hulle midde aan hulle gegee het. Die invoeging in die reeks oortredings val op en is ’n sleutel tot die boodskap van die agt profesieë. Geeneen van die oordele oor die heidennasies het die skerpte van die oordeel oor Israel nie, want Israel word beoordeel in hulle verhouding tot die HERE en sy verlossing. Israel se oortredings wat in verse 6-8 uitgespel is, staan in skerp kontras met die optrede van die HERE teenoor hulle. Die teenstelling van die HERE se genade en die volk se sonde word telkens in die geskiedenisgedeeltes van die Psalms beklemtoon (vgl. Ps 106:7-23). Die volgorde in verse 9-10: die HERE se oorname van die land van die Amoriete in vers 9, dan Israel se uittog uit Egipte, hulle tog deur die woestyn, en inname van die Amoriete se land in vers 10, beklemtoon dat Israel se bestaan in die land van die Amoriete die werk van die HERE is. Die HERE herinner onnadenkende en ondankbare Israel aan alles wat Hy vir hulle gedoen het. 2:9 ‘Ék het die Amoriete voor júlle oë uitgeroei, hulle wat so lank soos seders se hoogte en so sterk soos sterk bome is; Ek het sy vrug aan die bokant uitgeroei en onder van sy wortels af.’ (2020 volg LXX: in plaas van ‘sterk bome,’ ’n eikeboom.’) Die Amoriete het oos van die Jordaan (Jos 24:8; Rigt 11:21) en in die berge wes van die Jordaan gewoon (Jos 10:5). Soms, soos hier, word die hele bevolking van die beloofde land Amoriete genoem (Rigt 24:15,18). Die HERE kon die Amoriete oor hulle afgod Kemos (Rigt 11:24) en hulle sondige lewenswyse nie langer verdra nie en het hulle uitgeroei en die land aan Israel gegee (1 Kon 21:26; vgl. die voorspelling aan Abraham reeds in Gen 15:16). Josua 10 vertel hoe Josua-hulle die vyf Amoritiese konings en hulle leërs met die swaard uitgewis het met die hulp van die HERE, met haelstene en die stilstand van die son (10:11-13), met die finale slag by die Meromwaters (11:14) en ook die Enakitiese reuse (11:21-23). Dit was juis vir die Enakitiese reuse wat Israel 40 jaar tevore so bang was dat hulle nie die land wou inneem nie (Num 13:33). Dit is na húlle wat Amos hier verwys, wat so hoog soos seders en so sterk soos bome is, vir wie geen leër kon uitwis nie. Maar die HERE het hulle wortel en tak uitgeroei deur hulle in die hande van die Israeliete oor te gee. Die Hebreeuse woord vir vrug kan ook verwys na hulle nageslag, en wortels na die Amoriete se families wat uitgeroei is om woonplek vir die besitlose slawevolk Israel te berei. Maar na die HERE se gawe van ’n land en burgerskap aan Israel wat slawe was in Egipte, verkoop Israel ’n behoeftige volksgenoot in slawerny vir ’n paar sandale. Israel se verhouding tot sy eie volksgenote toon dieselfde brutale optrede van onbarmhartigheid, ongeregtigheid en gewetenloosheid as die wêreldlinge. In Israel se samelewing het hulle sonde oorgeneem en die volle maat bereik. Eers teen die agtergrond van hulle genadige verkiesing, verlossing en roeping deur God, word die verwerping van God deur die mens volledig geskilder. Teenoor die HERE se oorvloedige goeie gawes aan ’n vorige arm besitlose volk, is Israel se mishandeling van arm landgenote ’n skreiende ondankbaarheid (vgl. Jesus se gelykenis van die koning wat rekenskap van sy slawe wou eis, Matt 18:23-35). Die fondament van Israel se bestaan (Amos 2:10) ‘En dit was Ék wat vir júlle uit Egipteland uitgebring het (die woord vir uitbring hê‘elêh het ook die gedagte van verhef en as offer aan God aanbied; ‘Ek’ en ‘julle’ word albei met ’n voornaamwoord beklemtoon) en julle veertig jaar lank in die woestyn gelei het om die land van die Amoriete in besit te neem.’ Dié drie hoofmomente (1) die HERE se verlossing van Israel uit die Egiptiese slawerny, (2) sy leiding en sorg van Israel in die woestyn waar hulle geheel en al van Hom afhanklik was, en (3) die inbesitname van die land deur die HERE wat Israel gebruik het om die inwoners uit te dryf (Eks 23:31). Dit was die fondament van Israel se geloof in die HERE, Jahweh, die ‘Ek is’ (Eks 3:14-15), die altydteenwoordige God van sy verbond met die nageslag van Abraham in wie die HERE al die volke van die aarde sou seën (Gen 12:3). (1) Die HERE het sélf die slawevolk bevry en verhef tot ’n volwaardige volk. Hy het juis vir húlle as sy eie volk aangeneem, wat Hom alleen moes dien as hulle God, deur hulle lewe as ’n offer aan Hom te wy (Eks 6:5-7). Dit is die verbond wat Hy met hulle op grond van sy gebooie met offerbloed beseël het (Eks 24:4-8). Hoewel Israel uit die land van hulle slawerny verlos is, en in die land bly wat die HERE aan Abraham beloof het (Eks 6:2-3), maak hulle nou slawe van mede-Israeliete in die beloofde land. (2) Die HERE se sorg oor hulle vir veertig jaar in die woestyn is ’n verdere bewys dat hulle bestaan as volk gefundeer is op die HERE se troue liefde (Ps 136:16). Die getrouheid van die HERE en sy verbond met sy gemeente (kāhāl) staan teenoor hulle ontrou teenoor die HERE en die verbreking van hulle geloofsband met hulle mede-Israeliete; hulle bevryding deur die HERE waarin hulle leef teenoor die verslawing wat hulle toepas, hulle versorging deur die HERE teenoor hulle uitbuiting van die swakkes. (3) Die beloofde land behoort aan die HERE en Israel is slegs vreemdelinge en bywoners by die HERE (Lev 25:23). Die HERE het vir hulle ’n land gegee wat hulle nie bewerk het nie, stede wat hulle nie gebou het nie waar hulle kon gaan woon en eet van wingerde en olyfboorde wat hulle nie geplant het nie (Deutr 6:10-13; Jos 24:13; Ps 78:55; 105:44). Met die hersteljaar moes grond teruggegee word aan die oorspronklike eienaar (Lev 25:24-28). Nou verkoop hulle arm mense oor ’n paar sandale. Die koms van Jesus Christus is die groot keerpunt in God se geskiedenis met die mensdom. Voor sy koms het Israel, die volk van God geleef uit die HERE se verlossing uit Egipte, sy wetgewing en sorg in die woestyn, en hulle inbesitname van sy beloofde land. Dit was die anker vir hulle lewe en hulle kennis van die HERE. Dit is deur die HERE vervang met die koms van die Seun van God om mense met sy bloed uit die slawerny van sonde te verlos deur geloof in Jesus; om volgens sy wet van die liefde te lewe, deur sy opstanding uit die dood te hoop op die ewige lewe by God as ons Vader en deur die inwoning van die Heilige Gees ons lewe aan God te wy. Die Here se waarskuwings (Amos 2:11-12) 2:11 ‘Ek het van julle seuns tot profete opgewek en van julle jong mans tot nasireërs (gewydes). Is dit nie so nie, kinders van Israel, is die Godspraak van die HERE’ (ne’ um Jahwêh; LXX gebruik ‘gewydes’ vir ‘nasireërs’) Benewens die HERE se verlossing van Israel uit Egipte, sy versorging van hulle in die woestyn, en die land wat Hy aan hulle gegee het, het die HERE aan hulle profete en nasireërs gegee om die regte pad vir Israel aan te dui. Israel het goed geweet wat die HERE van hulle vra, want Hy het uit die volk seuns geroep en toegerus om die HERE se wil aan die volk bekend te maak, soos Amos nou juis in Jerobeam II se tyd doen. Die Hebreeuse woord vir profeet nabij’ verwys na roep en praat. Die HERE roep ’n profeet om sy spreekbuis te wees. Nasireër beteken gewyde. Die nasireërs wat Amos beskryf, was deur die HERE geroep en afgesonder om vir Hom te lewe as voorbeeld en maatstaf vir die volk. Hulle was bekend as mense wat geen wyn gedrink het nie. Numeri 6:1-21 se voorskrifte vir mans en vroue wat die HERE gelei het om self te besluit om hulle vir ’n tyd aan die Here te wy, sluit ook onthouding van druiwe en druiweprodukte en bier in, verbied die skeer van hare en baard, en hulle mag nie naby ’n lyk kom nie. Die HERE openbaar Homself, sy wil en sy besluite, deur sy woord wat Hy deur sy profete aan sy volk bekendmaak. So naby en lewend is die HERE by sy sondige volk, nie soos ’n gegote beeld wat nie kan praat of voel nie (vgl. Num 12:6-8). Kyk hoe die HERE Homself aan Moses bekend gemaak het nadat die volk die goue kalf aanbid het (Eks 34:5-7). Die HERE wil sy volk lei, beskerm en vergewe, maar straf hulle ook as hulle nie luister nie, of hulle rug op Hom draai. Die profete se woorde en werke was aanduidings dat die HERE in elke mens belangstel, alles van elkeen weet en hoor as iemand tot Hom roep of Hom loof (vgl. Samuel wat weet wat van die donkies geword het wat Saul soek, 1 Sam 9:20; en Elia wat weet dat die meel van die weduwee van Sarfat nie sal opraak en die olie nie minder word nie, 1 Kon 17:14; en Miga, seun van Jimla, wat vir Agab die prentjie van sy dood op die berge geskilder het, 1 Kon 22:9,17). Amos tree namens die HERE in gesprek met die feesvierende Israeliete en vra : Is dit nie so nie, Israeliete? Hy stel dit as ’n vraag wat die HERE self aan hulle vra en waarop hulle moet antwoord. Hulle moet alles erken wat die HERE vir hulle as volk deur die eeue gedoen het. Maar hulle optrede wys dat hulle alles vergeet het. Daarom kondig Amos die HERE se finale oordeel oor Israel in verse 13-16 aan. 2:12 ‘Maar julle het vir die nasireërs wyn gegee om te drink, en aan die profete het julle opdrag gegee: julle mag nie as profeet in ekstase optree nie.’ In plaas daarvan dat Israel die voorbeeld gevolg het van die lewe wat die HERE deur die nasireërs vir hulle voorgehou het, het hulle die nasireërs verlei om wyn te drink as bewys dat hulle weier om sober te leef. Deur die voorspoed in Jerobeam II se tyd kon die nasireërs en profete as lewende getuies van die woestyntyd se sober lewenswyse nie verdra word nie. Dit het totale toewyding aan en afhanklikheid van die HERE vereis. Israel se verwerping van die profete is letterlik voor hulle oë vervul toe die priester Amasia van Bet-El vir Amos verbied het om as priester op te tree (Amos 7:12-13,16). Jerobeam I, die tien stamme se eerste koning, het reeds opdrag gegee: ‘Gryp die man van God!’ (1 Kon 13:4). Om die profete en hulle woorde te verwerp is om Israel se eie gesag finaal teen die gesag en krag van God te plaas.

Skrywer:  Prof Francois Malan