Ander mense sal my aanstoot gee

“Keep away from people who try to belittle your ambitions. Small people always do that, but the really great make you feel that you, too, can become great.” ~Mark Twain

Ander mense sal my aanstoot gee

If you get upset, offended, and go off and sulk, and nurse your grievance, you will die.” (T. Austin-Sparks)

Frank Viola se nuwe boek God’s Favorite Place on Earth het pas verskyn. Daarin skryf hy oor hierdie onderwerp.

Toe Marta by Jesus oor haar suster Maria gekla het, kon Maria besluit het om aanstoot te neem. Nêrens lees ons dat dit gebeur het nie.

Sy kon ook aanstoot geneem het toe Judas en van die ander dissipels beswaar gemaak het oor die duur olie waarmee sy Jesus gesalf het. Daar is geen aanduiding dat sy aanstoot geneem het nie. Dat dit haar moes seergemaak het, is seker.  Hier is ‘n vrou wat Jesus met haar hele hart liefgehad het en sy word daarvoor gekritiseer – en dit nie eers deur haar vyande nie. Nêrens lees ons dat Maria haar optrede verdedig het nie. In stilte vertrou sy die saak aan Jesus toe en Hy kom tot haar verdediging.

Daar is ‘n ou gesegde: “Geen goeie daad sal ongestraf bly nie!” Ons dink ook aan Elbert Hubbard se gesegde: “To avoid criticism, do nothing, say nothing, and be nothing.” Viola noem dan ‘n paar dinge wat hy geleer het.

  • Christene sal jou gevoelens seermaak. Soms tree iemand kwaadwillig op en probeer jou seermaak; soms maak hulle jou seer sonder dat hulle dit eers besef.
  • As ander jou seermaak, sal jou geestelike volwassenheid duidelik word. Jy ontdek baie gou hoe opreg jou verhouding met Jesus Christus is as jou gevoelens seergemaak word. Hoe jy reageer as jou gevoelens seergemaak word, word bepaal deur jou geestelike volwassenheid. Mense reageer op twee maniere as hulle gevoelens seergemaak word: hulle hanteer dit voor die Here of hulle probeer ander vernietig. Maria het dit in die hande van Jesus gelaat.
  • God gebruik hierdie slegte behandeling vir ons beswil. Dink maar aan hoe Josef se broers hom behandel het. Hy self sê later dat hulle hom kwaad wou aandoen, maar God het goed daarmee bedoel. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). As jy vrede gemaak het met God se oppermag sal jy vrede hê met diegene wat jou aanstoot gee. God is nie die outeur van die slegte behandeling nie, maar Hy gebruik alle dinge vir ons transformasie.
  • Christene neem dikwels aanstoot deur dinge in woorde en dade in te lees. Dit gebeur veral as ‘n persoon oorsensitief is. Christene as groep is waarskynlik die mense  wat die maklikste aanstoot neem. Maria is twee keer sleg behandel, maar sy neem nie aanstoot nie.
  • Christene neem dikwels aanstoot as hulle vals beskuldigings glo. Wyse Christene ignoreer skinderpraatjies wat ander Christene in ‘n slegte lig plaas. Enige stelling wat ander diskrediteer, word onmiddellik deur volwasse Christene verwerp. As hulle wel bekommerd is, stap hulle reguit na die persoon en vra vrae – hulle maak nie beskuldigings nie. Onthou: Skinder is een van die metodes wat Satan gebruik om verhoudings te vernietig.
  • Wat jy doen as jy seergekry het, is jou keuse. Jy kan kies om aanstoot te neem en bitter word. Uiteindelik gaan dit jou vernietig. Of jy kan kies om jou seerkry na Jesus Christus te bring. Soms sal Hy jou lei om met die ander persoon te gaan praat en versoening te soek; ander kere mag Hy jou lei om dit te verdra en met jou lewe voort te gaan; soms wys Hy vir jou dat jy die optrede van die ander verkeerd geïnterpreteer het.
  • Jy kan leef sonder om aanstoot te neem. Dit beteken nie dat jy nie sal seerkry nie Dit beteken nie dat jy nie sal kwaad word nie. Paulus waarsku ons immers dat as ons kwaad word ons nie moet sondig nie. Ons moet gou wees om te luister, stadig om te praat en stadig om kwaad te word.

God stel ons in staat om te lewe sonder om aanstoot te neem. Hy gee aan ons die wil en die krag om dit te doen.